2014-11-26

Skree is die beste geweer

Ons het 'n woonstel in Margate gehad. Ek praat nou hier van die laat negentigs, seker so rondom 1999 se kant. Ons het gereeld soontoe gegaan om goed te gaan regmaak of hekke te sweis of net basiese onderhoud en DIY te gaan doen. Ons het so 8 uur se ry van die woonstel af gebly. So as ons na werk in die pad gespring het, kon ons so na middernag daar uitslaan.
Daai tyd het ons so VW Caravelle gery. Tydens hierdie spesifieke geleentheid het ons 'n klomp linne en ornamente en gordyne en ook so antieke houttafeltjie saamgevat. Alles sommer so in die kombi gelaai. Ek het mos nou voor gesit, Tom het bestuur en al die goed was op die sitplekke en in die vloerspasie gelaai. Die kombi se enjin sit mos agter, so agter die agterste sitplek het ek vir my 'n bed gemaak bo-op die enjinkompartement. Ek kon nou nie uitgestrek lê nie, maar dit was beter as regop sit en slaap. Die kombi was so volgepak ek moes die agterste flap oopmaak en daar inklim, dan het Tom dit weer gesluit van buite af.
Dié dag kom ons laat weg. Seker hier 2 uur die oggend hoor ons 'n geluid by die linker voorste wiel. Of altans, Tom hoor die geluid. Ek lê en dik balke saag daar op die V8 se deksel. Ons is toe al op die Suidkuspad maar nog nie verby Amanzimtoti nie. Daar by die Snell Road afrit net buite Durban besluit Tom om liewer af te trek. Kyk, Durban is mos vir my so half 'n scaly plek. So toe wil ons nou nie langs die pad stop nie, hy ry toe daar in en ons kom by 'n garage in so industriële area. Daar is so 2 flenterpompe, die plek is toe, maar daar is darem helder ligte. Oorkant die pad is daar ook besighede, natuurlik daai tyd van die oggend bottoe. Ek is toe nou wawyd wakker, maar ek bly daar agter in my den. Hy hinkepink tot onder 'n lig met die kombi en klim uit om ondersoek in te stel. Wheel bearing. Wiellaer in Afrikaans as jy gewonder het. Hy wil die wiel toe nou afhaal, maar hy sal hom moet tik met 'n hamer en hy wou nie direk op die rim slaan nie, so nou soek hy 'n plankie of iets om tussen-in te sit. Kyk, ek kan nou myle verkeerd wees met my diagnose oor die kar se probleem, maar dit het beslis iets te doen gehad met die wiel. Anyway, besides the point, so moving right along.
Nou op die sitplek direk voor my is beddegoed en kussings gepak. Dakhoogte! Ek moet regop sit om die voorste sitplekke te kan sien. Op die sitplek voor daai een, en direk agter die twee passasiersitplekke, staan die tafel nou op sy blad met die pote in die lug. In daai spasie is 'n coleman en die res van die kombi se vloere en sitplekke word opgeneem deur bokse en linne en kos en klere en tasse, man dit lyk soos 'n trek! Daai caravelles het mos 2 aparte sitplekke voor gehad, kompleet met armleunings.
So kom haal Tom sy tool box agter waar ek lê, sluit weer, en maak die skuifdeur oop. Hy sit die tool box op die vloer neer binne in die kombi en hy sê hy gaan sommer so bietjie rondstap om te kyk of hy 'n stukkie hout of iets kan kry. So maak hy die skuifdeur toe. Ek besluit om aan te hou slaap. Maar obviously gaan ek nou nie vas slaap nie. Maar wat anders kan ek nou doen? Dis mos nou voor slimfone en facebook en so aan. So kom Tom so paar maal terug, maak die deur oop, vat iets uit die tool box uit, maak die deur toe.....
Nou is ek so in daai newelwêreld tussen slaap en wakker. Ek hoor weer die deur oopskuif. Maar baie sagter en versigtiger. Toe hoor ek stemme saggies fluister. My hart begin onbedaarlik klop. So erg dat ek bang is hulle hoor dit. Ek lê toe heeltemal plat en haal net kalm en staaaadig asem deur my mond tot my hartklop bedaar het. Ek kan hoor daar is 2 van hulle. Mans. Zoeloemans. En hulle is totaal onbewus van my. Hulle het Tom natuurlik dopgehou en hy het al verder geloop op soek na 'n plankie. Ek kan agterkom hoe hulle oor die beddegoed klim en voor in die kombi gaan sit. Die skuifdeur is nou toe. Ek kan nie agter uit nie, dis van buite gesluit. Ek kan ook nie by die skuifdeur uit nie. Ek hoor hoe maak hulle die cubby hole oop en hoe haal hulle Tom se rewolwer uit. Ek kan hoor hoe hulle hom bekyk en opgewonde daaroor praat. Ek hoor hoe hulle praat van die "key" want die sleutel hang in die ignition. Ek waag dit toe om effens regop te kom, sekonde vir sekonde, sonder om 'n geluid te maak. Ek loer in die donker so oor die stapels goed en sien nog die een het so ligblou laphoedjie op. Nou kyk, ek is gladnie 'n held nie. Maar elke mens wonder mos wat de hel sal JY in so situasie doen? En mense praat mos van hoe "hulle lewens voor hulle oë afspeel", maar die enkele en enigste ding waaraan ek kon dink was hoe ongelooflik moeilik dit vir my kinders sou wees as hulle moes hoor DIS nou hoe hulle ma aan haar einde gekom het. Ek self het 'n baie meer dramatiese en heldhaftige dood vir myself in gedagte. Beslis nie agter in my eie kombi met my eie vuurwapen nie.
Ek besef toe ek het NET een ding wat in my guns tel: The element of surprise. Ek besef ook ek kan nie agtertoe of kante toe nie, vorentoe is my enigste uitweg. Direk na hulle toe. Ek besef ook as daai ou hierdie kar start en wegry is dit Koebaai Meraai. Maar kyk nê, die volgende oomblik laat loop ek met 'n demoniese heksegil uit die diepste vagevuur en swawelput van Lucifer en terselfdertyd werp ek my volle gewig agter my in en ek trap vas teen daai agterste deur en ek kom oor daai bondels en colemans en deur daai omgekeerde tafelpote gevlieg soos iets reguit uit die hel uit! Maar daai stomme 2 mense ruk daai kombi se deure oop, sleutels vergete, vuurwapen vergete. Hulle vlug gillend die nag in. Hulle strompelval bo-oor mekaar in hul haas om weg te kom. Die een heel onder sy hoedjie uit. Op daai stadium is Tom seker so 200 m van my af, maar buite sig, toe hy hierdie moerse orasie hoor. Hy begin toe te hardloop na my toe. Daar kom toe van voor af, teen 30 kilometer per uur, 2 spierwit geskrikte Zoeloe impi's by hom verby! Hy weet mos nou nie wat aangaan nie, so hy stop hulle nie. Hy besef net hulle hardloop obviously weg van hierdie verskriklike geluid af. Toe hy by die kar kom is ek natuurlik histeries. Hy maak toe later, tussen hikke en snikke, uit wat moes gebeur het. Hy't nog later engine cleaner op die laphoedjie gespuit en hom aan die brand gesteek. Ek is toe natuurlik wawyd wakker en regtig erg gerattle. Maar baie dankbaar. Daai 2 manne het seker tot in Nkandla gehardloop.
So dames, en mans, moet nooit die krag en impak van jou stem onderskat nie. Dis 'n magtige wapen. Veral as die aanhoorders daarvan dit gladnie verwag nie.....
Sent from my BlackBerry® wireless device





1 opmerking: