2014-11-19

Funksietjies

Het julle geweet dat daar nie altyd iets was soos 'n bring-en-braai nie? Dis iets wat hier in die sewentigerjare kop, of dan nou tjop, uitgesteek het. Om mense na jou huis toe te nooi vir 'n ete en dan bring hulle hul eie kos en drank, was regtig volksvreemd en ongehoord. As jy nie geld gehad het om iemand te onthaal nie, het jy dit eenvoudig nie gedoen nie. Tot met haar dood 30 jaar later kon ou Dora eenvoudig nie byt aan 'n bring-en-braai nie. Sy't gesê sy skaam haar eenvoudig dood as mense met bakke kos by haar huis moet instap en dan agterna by die vuur moet jy nou staan en wys wie se hoendervlerkie is wie s'n en elke ou se bord kos lyk dan anders. As ons mense genooi het vir 'n braai was die vuur klaar gepak, die tafel gedek, die vleis in 'n enamel casserole in die yskas en 3 slaaie onder glad wrap. Altyd 'n aartappelslaai, 'n mengelslaai, en dan was ou Dora groot op 'n gestolde slaai. Gewoonlik gestolde wortelslaai in so ring gemaak. Die ringvorm het sy by Tupperware gekoop. Daai Tupperware ring is ook goed ingespan hier oor die groot dae vir gestolde koue poedings. Nog 'n absolute euwel in haar oë was 'n papierbord. Beetslaai maak jy ook self. Diè uit 'n bottel is vir lui vrouens. En dan was daar altyd poeding na die braai. Gewoonlik vrugteslaai en roomys. Hierdie tipe braai's is altyd gehou as my pa verjaar. Die uitnodiging was eenvoudig en straight forward: "Kom braai saterdagaand by ons. Nols verjaar". Mense het nie eens gebodder om te vra of hulle iets moet bring nie. Dit was eenvoudig nie deel van die kultuur van daai tyd nie. En hulle het altyd 'n geskenk gebring. Gewoonlik soap-on-a-rope of 'n bottel Old Spice. Of Brut. Of likeur chocolates wat ons ook kon proe. Of as dit familie was soos 'n oom, 'n groter geskenk soos 'n knipmes. Of 'n kerkhemp. Toegedraai in papier vir mans. Met outydse karre op, of sakhorlosies, of prentjies van perde.
Heelwat van daai kultuur steek nog vandag by my vas. Weereens kritiseer ek nie. Ek neem maar net waar. Ek besef tye het verander. As jy moet wag tot jy kan bekostig om mense te onthaal, gaan jy nooit mense onthaal nie.

Soos wat ek nou voorheen gepraat het oor 'n stork party of ooievaarstee wat nou 'n baby shower genoem word, so is daar nog baie ander soortgelyke geleenthede wat 'n gedaanteverwisseling ondergaan het. So hoor ek maar van 'n kitchen tea wat nou 'n bachelorette genoem word. Is daar ooit so woord? Ek kry "bachelor" in die woordeboek, maar soos met die meeste goed het "bachelorette" oorgewaai van Amerika af. Nou maak ons almal of dit nog altyd so was. Jou ma en jou tannies en niggies het gewoonlik vir jou 'n kitchen tea gereël. In die geheim. Jy het NOOIT geweet wanneer dit gaan wees nie. Jou verloofde was ook in op die geheim. Hy moes jou op 'n saterdagmiddag 3 uur onder valse voorwendsels by jou ma se huis kry. En dit was ALTYD, sonder uitsondering, op 'n saterdagmiddag 3 uur by jou ouerhuis gehou. En daarna moes hy verdwyn. Almal is aangesê om saam te ry en om die hoek te parkeer. Jy moes altyd soontoe gaan om jou ma te help om haar hare te kleur of om jou trourok aan te pas of so iets. As jy daar aankom is dit doodstil. Stiller as gewoonlik. Onthou daar was nie sport op die TV op 'n saterdagmiddag nie. Die mans het rugby geluister oor die radio. Die TV word eers 6 uur die aand aangeskakel om die nuus te kyk. En dan Koffiehuiskonsert. Aangebied deur Rita van den Heever. Dan sê jy iets soos: "Ek wonder of my ma-hulle slaap?" As jy om die draai kom dan sit daai sitkamer TOE onder die mense! Oumas, tannies, ma, niggies, bure, skoolvriendinne, en al die kinders voor op die vloer. Daar kon seuntjies ook by wees, maar net as hulle baie klein was. In die middel staan 'n stoel wat spesiaal opgemaak is vir jou. Langs die stoel is daar 'n bad of 'n emmer of iets vol geskenke! Toegedraai in afdroogdoeke. Dan word jy nou sitgemaak en 'n stoflap word om jou kop gebind, of jy trek so lekker ousie over-all aan en slippers, of enige so iets. Dis gewoonlik jou niggies en vriendinne se werk om nou 'n totale gat van jou te maak. Dan moet jy nou skud en druk en raai en voel aan die geskenke. Met elke ding wat oopgemaak word, het iemand nou 'n wise crack te deel. Die ouer vrouens loop natuurlik oor van goeie raad. Veral as dit kom by die skoonmaakmiddels! Kort-kort sê iemand iets soos: "oooeeeee DAAI ding gaan jy nog baie gebruik".....of "Ek het ook so ding en ek gebruik hom elke dag, hy gaan jou baie tyd spaar!!"......En so word elke geskenk in detail bespreek. Dan gaan haal jou ma 'n swart plastieksak en maak al die geskenkpapier bymekaar. Daar was nog nie iets soos geskenksakkies nie. Dan staan jy op en gaan soen elke mens wat daar is persoonlik op die mond en bedank haar weer. Intussen het jou beste vriendin langs jou gesit met pen en papier en presies neergeskryf wie het vir jou wat gegee. Sodat jy agterna, met die hand en met 'n pen, vir elkeen 'n nota kan skryf om dankie te sê. Jou ma het teen daai tyd al die ketel gaan aansit en die nettafeldoek van die eetkamertafel gaan afhaal. Opgevou en in die buffet se laai gebêre. Een van die tannies sal haar nou help om die melktert en die yskastert en souttert en chocolatekoek te sny. Sy't gewoonlik ook 'n paar ekstra "cake lifters" geleen, want sy't net een. Nog so in sy boksie. Was nog 'n trougeskenk. En dan word daar nou tee gedrink en gëeet tot die eerste man nou sy verskyning mag maak. Ook net so skamerig ingeloer en gevra of die vrou reg is om te ry.
Vandag rëel die bruid sommer self haar "bachelorette". Geen geheim DAAR nie. Die uitnodiging kom per "e-mail". Jy "click" daar en dan op 'n "link" wat jou reguit vat na haar "wedding register" by Boardmans of @Home of Yuppiechef. Of sommer La Creuset. Nadat jy nou 'n suikerpotjie van R800 gekoop het, is jy een "click" weg van "paypal" af. Hier sit jy gou jou kaartbesonderhede in en siedaar. Al die geskenke sal die verskaffer sommer per koerier gaan aflewer by die bruid se "place of employment". Niks van raai of voel of wonder wat dit is nie. (Ek ken natuurlik al die Afrikaanse woorde vir die terme in aanhalingstekens, maar sulke suiwer Afrikaans is outyds en "uncool".....) En dan moet jy nog antwoord op die "invite" na die "actual do" toe ook. Dié word gehou by enige iets van die Barnyard tot 'n "Irish pub" of 'n "coffee shop" of eintlik enige plek waar julle kan "shooters" drink. Dit kos darem net R300 per persoon. Een van die "girls" is jou "designated driver" en julle kuier tot die son opkom. Ek wonder wat ou Nols nou sou sê as ou Dora hom nou gesê het sy gaan bietjie vrydagaand op 'n "girls night out"?
Die mans, aan die ander kant, vat dit "actually" heelwat rustiger. Glo dit of nie! Hulle gaan speel gholf of braai by een se huis en kyk rugby en drink bier. Of hulle gaan in so groepie van 4 of 5 op 'n jagnaweek of 'n visvangnaweek. Baie dieselfde gedrag dus as wat hulle vir die res van hul getroude lewens ook sal openbaar.
So één gebied wat ek egter moet erken 'n gedaanteverwisseling ondergaan het, ten goede, is die "rampaartie". Dit was ook nooit 'n "rampartytjie" genoem of 'n "stag night" nie. Dit was nog altyd 'n "rampaartie". Mense.......daai goed was rof. Julle verstaan nie! Jy't partykeer in die koerante gelees van rampaarties wat op rampe uitgeloop het. Sonder uitsondering moes die bruidegom stormdronk gemaak word. Dan is hy onderwerp aan 'n verskeidenheid van barbaarse poetse. Sy hare of sy wenkbroue of sy, sal ons maar sê "privaathare", is robuust met skeerskuim en 'n weggooiskeermes toegetakel. Dis ook nou nie asof die ou gaan stilsit terwyl dit gedoen word nie. So hy kan heel moontlik op sy troudag lyk asof hy met 'n bengaalse tier gestoei het. Wenkbroue ingekleur met sy ma se oogpotloodjie. Hare darem weer so stadigaan aan die uitgroei. Ek weet van 'n ou wie se "vriende", waarvan een 'n mediese student was, sy been van lies tot enkel in gips gesit het. Hulle het hom oortuig dat hy in sy dronkenskap sy been gebreek het. Daai stomme man is deur sy troue, deur sy huweliksnag, deur sy hele honeymoon met daai been in gips en op krukke aan die ander kant uit. Toe hy 3 weke later terugkom het hulle hom laat weet hy kan nou maar die gips afhaal met sy "angle grinder", hy makeer niks. Iemand wat ek ken wat op Aggeneys gebly het, is kaal aan die windkous op die vliegveld se paal vasgemaak, en daar gelos tot die myn se ligte vliegtuig met die grootbaas aan boord, daar neergestryk het. Nog 'n ou wat ek ken, met baie ligte hare, se kop is onseremoniëel in rooi voedselkleursel gedruk. Op die troufoto's is sy hare nog pienk en sy gesig en nek ook so rosige skynsel.

'n Ander sot is op Johannesburgstasie stormdronk op 'n trein gelaai Lorenzo Marques toe. Nou genoem Maputo. In Mosambiek. Sy skoonpa moes betaal vir 'n privaatvliegtuig om hom te gaan haal om betyds terug te wees vir die troue. En ek praat nie eens van die besoeke aan "strip clubs" en die paaldansers en skootdansers nie. Ek weet persoonlik van 'n huwelik wat afgestel is na so "rampaartie". En die bierbeker met die drank in is sommer met "insulation tape" aan sy hand en arm vasgeplak. Elke ou wat verbyloop gooi iets in daai beker. So daai arme ou drink vir ure aanmekaar 'n heksebrousel van gemengde drank. Baie mans kon skaars regop staan op hulle troues. Dit was regtig so erg. Deesdae kry jy nog die odd ou wat by die verkeerslig bedel vir geld vir die honeymoon, met een of ander belaglike uitrusting aan, maar dis eintlik die uitsondering. Oor die algemeen is die mans heel rustig.

Dis die vrouens oor wie ek worry.....

Sent from my BlackBerry® wireless device



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking