2014-11-07

Nola in die strip club...Deel 1

So kom Nola permanent terug uit Europa na haar modelkontrak, en sy gaan nou settle in Kaapstad en Haarkappery swot by die Cape College, voltyds vir 'n jaar. Ek het nou al in die tussentyd vir haar 'n woonstel gekry, dit volledig toegerus en ook 'n kar gekoop. Sy gaan in die tweede helfte van die jaar inval en dan in die middel van die volgende jaar klaarmaak. Skaars het sy voet aan wal gesit in die Kaap, soos Jan van Riebeeck 'n paar honderd jaar voor haar, of die Kollege verander sy reëls. Daar is nou net een inname van studente en dit is in Januarie. So nou sit sy hoog en droog in die Kaap. In 'n gemeubileerde woonstel. Met 'n kar. Met niks om te doen vir 6 maande nie. Dis seker logies dat sy dit gladnie as 'n probleem gesien het nie!
Maar vir my was dit een moerse probleem. Kyk, sy werk mos al vir geld vandat sy 4 jaar oud is. Genuine. Toe ons op Aggeneys gebly het, het sy en Pietie, toe 6, elke vrydagmiddag gehelp om die koerantjie, die Kokerboom, af te lewer by die huise. Hulle was deel van 'n groep kinders wat dit gedoen het. Die koerant is gratis verskaf aan die inwoners deur die myn. Die strate waar hulle moes aflewer was Pimasirkel en Wankiestraat, die langste straat in Aggeneys. Dit het hulle die beste deel van 3 uur besig gehou op 'n Vrydagmiddag. Pietie loop met die rugsak vol koerante en Nola haal by elke huis een uit, rol dit op en druk dit in die hek. As daar honde is dan doen Pietie dit. Die eerste paar kere het ek saam met hulle gestap en presies gewys hoe om dit te doen. Daarna het hulle dit op hul eie gedoen. Hulle is R20 elk betaal. Dit was in 1988. Dit was 'n fortuin. So sy ken van werk. So sy gaan beslis nie in die Kaap rondsit en wag vir die Kollege om oop te maak as ek dit kan verhelp nie.
Gelukkig weet ek, uit ondervinding, dat sy nie lank sonder geld kan of wil klaarkom nie. So is sy mos in Milaan. Nou is dit hier in 1998 of 1999 rond. Selfone is nog primitief. Sy het nie "roaming" op haar selfoon nie, want dan sal die rekening R10000 per maand gewees het. So nou moet ons 'n plan uitwerk om te kommunikeer. Ons het 'n faksmasjien by die huis. Nog daai soort wat met die rol fakspapier werk. Faksnommer en telefoonnommer is dieselfde. As die foon lui, tel ek op, en as iemand dan 'n faks wil stuur is daar mos net so skril geluid in jou ore, dan gee jy die fakslyn en dan sit jy die gehoorstuk terug op die mikkie. So sal ons mekaar nou faks, sy sal dit van die agentskap se kantoor af doen. So het ek natuurlik laaaaaaaang briewe vir haar getik en weekliks bladsy op bladsy vir haar deurgefaks. Maar sy is maar lui vir skryf en skraps met die nuus. Maar so sit ek een middag in die kantoor en hier soek iemand 'n fakslyn. Dan stotter daai papier mos nou so stadig uit, maar ek onthou hoe opgewonde ek was toe ek bo-aan die papier wat uitkom sien "elite model agency". Ek trek omtrent daai papier uit daai masjien uit. Maar so wag ek nou vir die geskryf om te verskyn. Ek staan onderstebo om te begin lees terwyl hy nog deurkom, maar ek sien nog niks nie. Later is die faks klaar. Ek skeur af en draai om. Hier heel bo aan die bladsy, net 2 reëltjies, staan: Hallo mamma dit gaan goed. Stuur nog geld. Net dit. Maar kyk nê? Ek vererg my vir daai kind! Ek gryp daar 'n stuk papier maar ek sê haar sleg vir twee bladsye lank. Hoe ondankbaar sy is en hoe ek na haar verlang en hoe ek bladsye lank vir haar briewe skryf en die blerrie cheek wat sy het om vir my net een sin te skryf en te sê stuur nog geld! My laaste sin is: Die minste wat jy kan doen as jy vir geld vra, is om die blerrie ordentlikheid te hê om ten minste die hele bladsy vol te skryf. Maar ek faks daai briefie terug Italië toe. Nou wag ek vir die antwoord. Na so halfuur lui die foon. Piep in die oor. Faks. Nou kom die papier weer deurgesukkel. Toe ek nou die bladsy afskeur en dit omdraai, toe is die hele bladsy volgeskryf. Met net 3 woorde. Maar baie groot geskryf. Die hele bladsy vol.....
STUUR
NOG
GELD!!!!!
Nou hoe stry jy nou met daai logika?
Ek het julle mos al voorheen vertel hoe ek nooit bang was dat iemand haar sou ontvoer nie, om die eenvoudige rede ek het geweet hulle sou haar vinniger terugbring as wat hulle haar gevat het. Dieselfde kind wat mos 'n puzzle bou met 'n skêr in die hand. Wat nie inpas waar sy dit wil hê nie, word eenvoudig geknip tot dit inpas......
Toe sy in Frankryk was gee ek vir haar geld en sê sy moet vir my ietsie mooi saambring. So is sy terug en ek help haar om uit te pak. Heel onder in die tas kom 'n paar rooi Nike sneakers uit met so wit Nike swoosh. Maar die tas is nou amper leeg en ek sien nou nog nie iets wat moontlik myne kan wees nie. Heel heel onder in die tas lê so bruin papiersakkie, met 'n prentjie van so vet Franse sjef met 'n groot sjefhoed op met 'n string uie oor sy skouer en 'n stuk kaas in sy hand. Ek kan aan die geskryf agterkom dit was 'n pakkie kaas en uie chips. Ek vra haar: En dit? Ek het dit vir jou gebring. 'N leë pakkie chips? Nee maar hy was vol maar toe raak sy honger op die lughawe toe eet sy dit maar, maar dis anyway eintlik die pakkie self wat sy vir my wou bring want dis vir haar so mooi pakkie. So daar het julle dit. Na 5 jaar in Europa het ek 'n brief gekry met 3 woorde op en 'n leë pakkie kaas en uie chips. So nou sal sy werk vir haar geld.

Sent from my BlackBerry® wireless device

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking