2014-11-25

Hoe om 'n gat van jouself te maak

Ek het nou al van baie maniere gehoor wat jy 'n gat van jouself kan maak. Party het met my gebeur, ander gelukkig met ander mense. Ek het ook deur die jare besef die beste manier om so 'n situasie te hanteer en vinnig oor dit te kom, is om vir jouself te lag en dadelik en hardop te erken dat jy nou 'n gat van jouself gemaak het. Doen dit liewer self voor iemand anders dit doen. So haal jy die wind uit almal se seile uit en praat mense 5 minute later oor iets anders.
Toe Nola daar by Maverick's die strip club gewerk het as 'n cocktail waitress, moes sy ook maar al die eksotiese drank leer ken. Sy het nie agter die kroegtoonbank gewerk nie, sy het bloot die bestellings by die tafels gaan neem en dit dan by die kroeg gaan aanvra en dit by die tafels gaan bedien. Sy sê een aand stap daar 4 Indiërmans in maar jy kan sommer sien hierdie ouens is geld se baas. Sy bedien hulle toe heel flink want sy't klaar visioene van die groot tip wat op pad is. Hier laataand sê die een vir haar: "You van bring us our tab now". Nou kan julle klaar raai wat het gebeur. In plaas van hulle rekening vat sy toe vir elkeen 'n blikkie Tab.
Die arme Pietie se vernedering het effens langer geduur. Hy was nog 'n fiksheidinstrukteur by Planet Fitness daar in Plattekloof toe hy eendag, so tussendeur sy pligte, gou badkamer toe moes draf. Op daai stadium was die man baie goed gebou en voorwaar 'n fees vir die oog. Hy vertel toe met smaak hoe almal na hom kyk in die gym as hy so voor hulle verbyloop. Hy sê dit maak nie saak waar hy loop nie, mense volg hom met hulle oë. Trek hom amper UIT met hulle oë. Hy besef toe presies HOE die moeite werd is al daai ure in die gym! Na so 'n halfuur van paradeer en nadat hy nou seker was almal het nou die voorreg gehad om hom te sien loop en spring en hop en trappe ophardloop, kom hy bo in die kontrolekamer waar al die kameras is. Waar almal toe lê soos hulle lag. Toe hulle vir hom rewind toe sien hy hoe hy vir 'n halfuur lank in die gym rond geparadeer het met 'n lang sleep toiletpapier wat agter by sy broek uithang. Ek vra hom: "Wat doen jy toe". Hy sê: "Ek het dit dadelik op 'n cd gelaai en vir almal gestuur!" Dadelik was hy die hero in plaas van die fool. Nola het ook daai storie van die Tab vir almal vertel en haar half doodgelag daaroor.
In my jongdae het almal mos gehike. Duimgegooi. Nie gestap in die berge "gehike" nie. Toe was dit doodveilig en 'n baie algemene ding om te doen. Vir seuns en meisies. Veral studente. Dit was mos nou die dae van verpligte weermagdiens. So orals langs ons paaie het troepies gestaan en hulle is deur almal opgelaai. Dit was absoluut deel van die kultuur van daai tyd. So wil my motorfiets een oggend nie vat nie. Van AL die motorfietse wat ek gehad het was daai Honda 125 Benley die hopeloosste. Soos 'n regte apteek delivery bike gelyk ook nog. En dit sous! Ek besef toe as ek betyds wil wees vir klas sal ek moet hike. Ons bly daai tyd aan die seefront in PE en die universiteit is seker net so 10km weg. En die meeste mense wat daai tyd van die oggend daai pad ry, is studente. So druk ek 'n nat duim in die lug en amper dadelik stop 'n kar. Dit rëen nou so ek kan skaars sien. Ek hardloop na die kar toe, pluk die deur oop, gooi die rugsak op die agtersitplek, klap die deur toe, en sê vir die Barmhartige Samaritaan: "Thanks!". Toe het die ou eintlik gladnie vir my gestop nie. Hy het geparkeer. Toe moet ek maar weer my sak vat en uitklim, terug in die rëen en weer probeer.
My gunstelingstorie kom egter via 'n goeie vriend. Hy vertel van die ou op varsity, ook al meer as 30 jaar gelede, wat maar arm en eenvoudig grootgeword het en ook die eerste in sy familie is wat nou op universiteit opeindig. Alles is vir hom vreemd en hy voel omtrent soos 'n "social outcast". Maar so met die tyd saam leer hy darem genoeg om sy pad te bullshit deur die meeste situasies. Daar is toe 'n meisie wat in hom belangstel. Uit 'n baie gegoede huis. Haar ouers bly daai tyd al in 'n absolute mansion op die walle van die Hartebeespoortdam. So nooi sy hom na 'n paar maande vir die eerste keer saam huistoe om haar ouers te ontmoet. Hy slaan toe in 'n koue sweet uit oor wat voorlê. Hy weet hy is myle uit sy diepte uit met hierdie girl en dis amper op die kaarte dat hy iewers deur die loop van die naweek 'n gat van homself gaan maak. Maar sy vriende oortuig hom hy sal fine wees! Hy moet net so bietjie terughang en kyk wat maak die ander mense en hulle dan maar net na-aap. So gesê, so gedaan.
Die vrydagaand kom hulle aan by die ouers se huis. Hy probeer sy bes om nie sy bek te laat oophang vir die opsigtelike weelde nie. Hy word voorgestel aan die ouers. So far so good. Hy en die oom gaan sit buite op die dek en kyk vir die seilbote en die meisie en haar ma gaan kombuis toe. Hy en die oom praat sommer so oor koeitjies en kalfies en ditjies en datjies en wie weet watjies. Die tannie kom in en vra vir die oom of hy 'n bier sal drink. Die oom sé ja. Die tannie vra hom of hy ook 'n bier sal drink. Hy sê ook ja. Die tannie verdwyn toe agter 'n kroegtoonbank en skink 2 biere in sulke baie grand glas bierbekers wat so gegraveer is. Kristal. Hy't nog nooit in sy lewe sulke bierbekers gesien nie. Hy's baie lus vir die bier. Hy's eintlik teen hierdie tyd al baie honger ook. Genadiglik kom die tannie toe eers met so klein bakkie met sulke groot gemmerkoekies in. Die oom sit sy gemmerkoekie eers neer op die tafel, maar hy is te honger en vat dadelik 'n hap.
Hy sê daai oom en tannie en girl het hom aangestaar dat dit lyk of hulle oë gaan uitval. Maat hy het toe geen ander keuse as om deur te druk nie. Hy sê met sy kakebeen wat later kramp en sy keel so droog soos die Sahara is hy toe maar verplig en eet daai antie se hele kurk coaster op. Hy't hom darem na elke happie met 'n sluk bier afgehelp. Ook nooit weer na daai naweek van die girl gehoor nie.
Sent from my BlackBerry® wireless device




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking