2014-11-02

So leer ek ook nie...

Ek onthou die presiese jaartal. 2001. Pietie het in 2000 matriek geskryf en dit was in die jaar toe hy in Londen was. Een vrydagmiddag so laterig kom sy meisie van destyds daar aan om te kom groet. Sy is toe eerstejaar op Tukkies. Nou staan ek op die punt om te gaan hardloop. My man sit gereed in die bakkie om saam te ry om vir my water te gee. Dis warm. Ek gaan nou 10 km hardloop. Nou sê ek vir die kind sy moet nou maar saamry in die bakkie en met die oom gesels en dan sal ek met haar gesels as ek water aanvat. Ek wil nou nie ongeskik wees en haar huistoe stuur nie, maar ek gaan ook nou nie my hardloopsessie inboet nie. So gesê, so gedaan. Daar trek ons.
Nou hardloop ek daar uit op die Spitskop pad. Spitskop is nou net buite Thabazimbi, nie so besige pad nie, met orals paaie links en regs uit na die plotte toe. Dan hardloop ek nou tot by die bakkie so elke 2 km, drink water, gesels, hardloop weer. By 5 km draai ek nou om, terug huistoe. Nou staan ek daar by die omdraaipunt bietjie en gesels. Daar trek ek weer. Maar nou kan ek net dink hoe vervelig moet die storie nou vir die arme 2 mense in die bakkie wees. Om nou op 'n vrydagmiddag in Thabazimbi, hoogsomer, agter iemand aan te ry wat 10km hardloop. Nou besluit ek ek moet die uitstappie so bietjie opspice. Maar hoe? Nou het die bakkie nog nie weer verbygekom nie. Hulle sal seker nou daar wegtrek en weer so kilometer vorentoe gaan stop. Maar ek sal duidelik hoor as hulle kom, want dis 'n dieselbakkie. Hulle staan toe presies by een van die indraaipaaie na 'n klomp plotte. Nou weet ek nie of die bosveldson sy tol gëeis het en ek 'n mate van sonsteek opgedoen het nie, want ek kan dit tog nou nie toeskryf aan de-hidrasie nie, maar ek kom toe af op die "ingenius" idee dat ek my broek sal aftrek as hulle verbykom van agter af. Ek het heel eerste daaraan gedink om net te flash, maar dit moet mos nou van vooraf gebeur, en uit vorige ondervinding weet ek toe dat 'n sportbra nie ideaal is as jy wil flash vir verbygaande karre nie. (Dis nou weer 'n ander storie). So toe besluit ek, 40 jaar oud, jarelange gerespekteerde inwoner van Thabazimbi, ma van 2 groot kinders, vrou van die Balju, dat ek op 'n vrydagmiddag my broek gaan aftrek op die Spitskoppad. Maar so, terwyl ek nou hardloop en hierdie plan uitbroei en vervolmaak, besef ek toe ek kan nie my broek fisies aftrek EN aan die hardloop bly nie. Ek sal die broek moet optrek in my boude en net die naakte boude so moet wikkel. Gelukkig het ek so dun, kort hardloopbroekie aan met 'n ingeboude onderbroek. Polly shorts noem jy dit. Nou is ek bang hulle sien my nie. Hoekom ek gedink het so iets nou ongesiens sal verbygaan, dié weet ek nou nie. So ek besluit toe om na die middel van die pad te hardloop as ek dit doen. Maar nou wil ek nie omkyk nie, want dan gaan hulle mos nou stop en vra of ek iets wil hê. So ek moet net fyn luister vir die bakkie en dit mooi time, en as hulle so 50 m van my af is gaan ek op die middelstreep hardloop en my hardloopbroekie optrek in my boude en stilstaan in die pad, buk, en my boude wikkel. Soos hulle in Engels sê: it seemed like a good idea at the time.
Daar hoor ek toe die bakkie wegtrek. Nou hardloop ek so effens stadiger want ek wil nou blitsvinnig na die middelstreep beweeg. Maar ek moet dit nou doen voor die bakkie op volspoed is. Ek is darem op daai stadium voldoende by my bewussyn dat ek weet ek nie doodgery wil word nie. Toe ek hoor die bakkie verwissel na tweede rat en hulle is nou baie naby, toe maak ek my move. Ek hardloop na die middel van die pad toe, trek daai hardloopbroekie WEG in my gat, wikkel en swaai my boude, en baie trots op myself hardloop ek toe weer na die kant van die pad toe, want die bakkie wil nou verby. Die bakkie met Japie Celliers agter die stuur. Met al sy werkers agterop. Japie, die hoofouderling van die Hervormde Kerk. (Hy het die skoolhoof opgevolg). Japie met die baard en die hoed en die pyp in die mond. Needless to say het die werkers agterop die bakkie mal gegaan van opwinding. Ek kon hulle nog hoor skree en cheer vir kilometers, lank nadat ek nie meer die bakkie kon sien nie. Toe ek omdraai om te kyk waar is my man se bakkie, toe staan hulle nog daar by die omdraaipunt. Lam van skok begin ek toe te stap. Toe my man nader kom toe stop hy en vra wat is fout. Maar kyk nê, ek stap na daai bakkie toe, maar ek kak daai man uit dat hy nie weet wat hom getref het nie. Ek het net dadelik besluit dit moet sy skuld wees. Hy probeer nog 'n woord inkry tydens my tirade, maar ek gee hom nie 'n kans nie. Ek hoor hy wil die heeltyd vra "maar hoekom sou ek in elk geval so iets wou doen", al HET ek geweet dit was hy!? Watse vraag is dit nou? Soos hulle op Engels sê, to add insult to injury, na so rukkie kom Japie weer van voor af teruggery, nadat hy sy werkers afgelaai het. Dié keer toet hy en waai vriendelik. Ek ignoreer hom natuurlik heeltemal. Mense, en veral mans, dink mos hulle kan jou ewe skielik groet as hulle jou boude gesien het. Blerrie cheek.
Sent from my BlackBerry® wireless device

2 opmerkings:

  1. Hahahaha! Ai Hester, jy is regtig meer "trouble"op 40 as my tiener kinders!

    AntwoordVee uit
  2. Ek sou myself in my moer in gelag het!

    AntwoordVee uit