2014-11-19

Rofstoei

In Thabazimbi was daar vroëer jare net twee geleenthede wat die moeite werd was om te besoek. Die wildsfees en die landbouskou. Die wildsfees was hier einde April gehou en die skou einde Julie. Al het jy nou nie belanggestel om te weet watter Afrikaner het die langste horing nie, kon jy darem daai jare na Jurie Els gaan luister of kyk hoe iemand 'n kar met 'n karavaan aan parallel parkeer. En natuurlik die koedoedrolspoegkompetisie was 'n hoogtepunt op die program. Ook die sweepklap en die riempiesvleg.
In die klein saaltjie was die hoenders in hokke aangehou. Almal op skou. Die vreemdste goed wat jy in jou lewe gesien het. Party met vere, ander sonder vere, ander met vere net op sekere plekke, nog ander met vere wat lyk soos hare. As jy daar instap dan is dit so onophoudelike, lae bromgeluid wat jou heel eerste begroet. Onmiddellik opgevolg met die reuk van vars hoendermis. Dan natuurlik die tafel met al die tannies van die VLU (Vroue Landbou Unie), se handewerk van die jaar. Met die rosette opgesteek van die plek wat hulle behaal het, 1ste, 2de of 3de. Jy kan HOE vroeg by die skou kom, hierdie pryse was ALTYD klaar toegeken. En by die koektafels was die beste goed ook altyd alreeds uitverkoop. Die hoenderhokke het ook reeds elkeen 'n roset opgehad van die hoender se plek.
By die skou het jy ook altyd die 3 dominees van die 3 susterskerke saam gesien sit en teedrink. Ook daar in die omgewing van die koektafels rond. Hulle het beurte gemaak om die skou te open met Skriflesing en Gebed.
Die kos wat te koop was het oor die jare min verander. Altyd vetkoek met mince, hamburgers, hotdogs en pannekoek. Later het daai chip stix bygekom en slush puppies en daai klein doughnuts wat so uit die masjien uit kom voor jou oë......6 op 'n slag in so polystyrene bakkie met chocolatesous, karamelsous of wit icing oor. Nog so warm. Toue het lank gestaan vir dit! En dan die biltongstalletjie en die oom met sy droëwors en chilli bites en cabanossi. Later jare sou Spur en Wimpy en restaurante van buite sommer daar 'n satellietkombuis kom opsit en kon jy in die middel van die Bosveld by die Wildsfees calamari en sushi ook eet. Ek dink dis net ek wat die ironie daarvan gesien het....
Dan was daar elke jaar die oom wat messe maak, die kamoefleerbaadjies en onderbaadjies, en die karre en bakkies en trekkers, reg langs Absa se tent, met 'n konsultant van Bankfin gerieflik byderhand. Toe die polisie nog honde gehad het was daar altyd 'n vertoning van 'n arme sot wat in so "full body armour" pak moes weghardloop en dan het daai wolfhond daai ou van agter af platgetrek en die mense het berserk gegaan. Dit was altyd 'n swart ou wat weggehardloop het. Die polisieman was wit. Die hond was kleurblind. Of nie. Mense het veilig gevoel as hulle sulke goed sien. Die brandweer het ook een jaar so "mock-up" kom doen van 'n ongelukstoneel. Dis toe Thabazimbi nog water gehad het. Jy het ook op die skou goed gesien wat jy nou nie op die wildsfees sou sien nie. Soos Armand die singende cowboy, wat op sy perd in die arena rondry in cowboyklere en country liedjies sing. Of 'n modeparade en skoonheidskompetisie vir elke kind van 3 maande tot op 18 jaar. Elke baba met 'n paar studs in die ore. Opgedollie soos 'n krismisboom. Skreeuend.
Die wildsfees het weer gespog met die rooibokafslagkompetisie. En die biertuin. Die B-lys sangers het hier opgetree. Die manne wat nie bang is om in die Bosveld in 'n biertuin te kom sing nie. Die A-lys het op die verhoog opgetree in die middel van die terrein. Later jare is beide geleenthede ook maar oorgeneem deur die junk wat uit China uit kom en in stalletjies uitgestal is deur mense wat nog nooit 'n wilde dier of 'n bees van naby gesien het nie. En die eindelose, siellose, wysielose "musiek" vanaf die "merry-go-round" op die rugbyveld het alle ander tipiese wildsfees- of landbouskougeluide uitgedoof. Later jare was daar ook nie meer 'n 4x4 kompetisie of 'n pretdraf of 'n vlakvark fietswedren nie. Elke jaar het dit minder van 'n wildsfees geword en meer van 'n raserige basaar....
Maar 1996 sou anders wees. Nou moet julle weet, dit was nou voor Kyknet of DSTV. Ons het die 3 SABC kanale gehad, en M-Net. Die "craze" wat die land daai jare getref het, was die Gladiators en WWF se rofstoei. Elke seuntjie in die land het pajamas gehad met Terminator of John Cena of Stone Cold Steve Austin of The Rock se gesigte op. Gladiators was nog groter! Want dit het hier in Suid-Afrika gebeur! Die MTN Gladiators was hulle genoem. Met name soos Wildebeest en Impi en Tusk en Granite en Giant en wie weet wat nog alles, het elkeen sy gunsteling gehad! Myne was Giant. So groot blonde reus, wat na elke kompetisie vir 'n kind in die gehoor 'n teddiebeertjie gaan gee het. Amper soos Bles met sy satynrose. Daar was vroue Gladiators ook. Sahara en Fire en Fury en nog baie ander. Vrydagaande op SABC 3 kon jy kyk hoe hulle in die Standardbank Arena in Johannesburg dinge uitspook in uitdagings wat so reg uit antieke Rome uit gekom het. Hulle het teen Gladiators van ander lande ook deelgeneem. Dit was groot!
Soveel so, dat ek vir Pietie ook een jaar soontoe gevat het. Dan kry jy by die ingang so groot sponshand met 'n vinger wat so boontoe wys en dié word nou vir die TV kameras rondgeswaai. Die mense was histeries! Ek ook. Ek veral. Van WWF praat ek nie eens nie. Jy het dié mense gekry wat gedink het dis 'n klug en dan was daar die "die hard" stoeiaanhangers wat geglo het dit is nou die ware Jakob. Mense wat gladnie wou glo dat amateurstoei en professionele stoei nie eens in dieselfde asem genoem kan word nie. Mense het almal geweet wat daai tyd met WWF en Gladiators aangaan. Almal het 'n "favourite" gehad. Met die gevolg, toe die skou se plakkate maande voor die tyd aankondig dat daar daai jaar "Internasionale Stoei" gaan wees in Thabazimbi, was mense buite hulself. Ek ook. Ek veral...(Okay eintlik net ek).
Almal het gespekuleer oor wie dit kon wees. Of in alle eerlikheid, EK het gespekuleer oor wie dit kon wees. Daar was nog nie sprake van selfone of google of enige so manier waarop jy kon uitvind nie. Die koerante het ook niks gesê nie. Ek kan nou, as ek so terugdink, nie glo ek was so liggelowig en naïef nie. Hoe sal iets wat nou 'n wêreldwye fenomeen is, na Thabazimbi se Landbouskou toe kom? En dit nogal teen R40 per kop? Ring side seats nogal! So het ek maar gesukkel om iemand te kry wat saam met my wou gaan dié aand. Op die ou end is dit toe my ou "partner in crime", Twana Roets, wat instem. Ook eers na vele oortuiging en 'n ligte dreigement of drie. En natuurlik het ek die kaartjie vir haar moes koop. Die stoei sou 7 nm begin. Ek sê vir haar ons moet vroeg gaan. Daar gaan duisende mense wees. Seker so half 6 toe staan ek en sy al voor die toe deure van die Trollopesaal. Nie 'n siel in sig nie. Hier net so voor 7 maak die deure oop. Daar het toe so 30 of 40 ander "gullible" mense ook nadergestaan om in te gaan. (Ek het toe besef dis 'n moerse hoax maar ek het geweet ek gaan 18 jaar later daaroor moet blog, toe gaan ek ook maar in).
Nadat ons elkeen 'n plastieksakkie met sulke taai, 3-dae oue popcorn gekoop het, het ons gaan sit. Heel voor. Langs die kryt. Die hoekpale sommer so met komberse toegedraai en vasgebind met nylontou. 'n Opslaan basaartafel met 'n plastiekstoel by. Seker vir die enkele beoordelaar. (Ek dog daar is altyd 3 beoordelaars?) Op die tafel 'n leë blik met 'n shifting spanner langsaan. Later sou ek sien dis nou die klok wat die einde van die rondtes aankondig.
Nou wag ons. Almal sit nou al. Hier kom die aankondiger. Later sou dit blyk hy is ook die beoordelaar. So vet ou met 'n snor wat lyk soos 'n Harley se handvatsels. Beige kortmouhemp wat span om die pens en 'n das met 'n Yskorbadge op. Bruin terylene broek vol haakplekke en 'n paar Grasshoppers. My tipe ou. Hy val toe dadelik daar weg met 'n "Naandsê, naandsê mense!!!" Hy kom gladnie agter dis 'n "hostile crowd" nie en hy stoom net voort. Nou wag ek vir die aankondiging. Immer hoopvol. Hier kom dit. "Dames en Here, vanaand hier in julle dorp!!! Vir die heel eerste keer!!! So pas terug uit Namibië!!!!! (Okay dit verklaar ten minste die internasionale deel), gee ek vir julle!!!!!!!! Suid-Afrika se twee beste vroulike stoeiers!!!!!!!!! Daaaaaaaaaaaaaaaaaaisy de Meeeeeeeeeeeeelcker eeeeeeeeeeeeeeeen SuuuuuuuuuuuuuperSarie!!!!!!!!!!!!!!!! Nou kyk, ek kan my gedagtes op daai stadium NET in een enkele sin opsom. Wat ek in Twana se rigting geprewel het. Sonder om my oë weg te skeur van die kryt.....
"Liewe Jirre wat is dit?"
Daar vanuit die rigting van die Trollopesaal se damestoilette kom 2 vrouens gestap. Die een wil dikker wees as die ander een. Daisy de Melcker is die ouer een. Seker so laat vyftigs. Supersarie 'n jonger weergawe van Daisy. Elkeen het pantyhose aan. Met 'n leotard bo-oor. En regte stoeiskoene. Die skoene kom tot so in die middel van die kuit. As daar 'n kuit sou wees. Bo-aan die skoene is sulke fraiings vasgewerk. Van wol. Daisy het 'n luiperdprint leotard aan met swart fraiings aan haar boots en Sarie is in pers en swart uitgedos. Sarie se hare kan jy sien is netjies gedoen vir die okkasie. 'n Ge-perm-de mullet. Daisy se perm is al so bietjie uitgegroei en die grys regrowth by die wortels is seker so 3 duim lank. Ek dink dit was een van net 6 keer in my hele lewe wat ek nie een enkele woord kon uitkry nie. My mond het oopgeval en ek kon net staar.
Daar kom toe so jongerige, maer ou met sulke Elvis sideburns van iewers te voorskyn wat nou die ref gaan wees. Daisy en Sarie klim in die kryt. Daisy verstrengel haarself tussen die toue en met groot moeite ontknoop Sarie haar en die fight kan begin. Hulle neem hulle plekke in. Dis nie nodig vir gum guards nie. Hulle haal onseremoniëel hulle valstande uit. Ek het toe my asem teruggekry teen daai tyd en ek en Twana skree letterlik soos ons lag.
Nou het hulle obviously op een of ander tyd op die TV na 'n regte stoeigeveg gekyk, nou probeer hulle daai moves namaak. Dan gryp Daisy vir Sarie en gooi haar teen die toue. Op die TV bounce die ou dan terug van die toue af, net om hom tromp-op te loop in 'n dodelike volstruisskop. Nie Sarie nie. Sy bly bloot daar lê teen die toue. Wat Daisy natuurlik heeltemal verward laat, met geen ander keuse as om bloot vorentoe te loop en Sarie 'n snotklap te gee deur die gesig nie. Dis toe dat ek nie meer worry oor my nat broek nie.
Maar kyk, TOE is Sarie wakker! Sy storm vir Daisy en in plaas van so kamma elmboogstamp wat gepaard moet gaan met 'n stamp van die voet op die krytvloer om die geluid van 'n regte elmboogstamp na te maak, antwoord sy met 'n stamp teen Daisy se vol boesem dat sy 5 meter verder op haar gat te lande kom. Die ref probeer met sy maer lyf tussenbeide tree, maar Sarie gee hom ook 'n snotklap. Nou is Daisy op die krytvloer. Duidelik meer verward as ooit. Sy het obviously die script verloor en niemand het haar vertel hulle gaan afwyk van die oorspronklike plan af nie. Sarie kom nader en pluk vir Daisy aan haar hare orent. Toe laat lees sy pappie. Sy klap Daisy wild en wakker en net betyds slaan Snorre die leë jamblik met die shifting. Einde van Rondte 1.
Toe die "klok" rondte 2 aankondig, kon jy sien hulle is NOU lus vir mekaar. Die ref met die rooi wang is nou so bietjie meer lugtig. Hy dans-dans net so om hulle maar verder bly hy op 'n veilige afstand. Sarie besluit nou om met haar "signature move" te kom. Sy storm op die een hoekpaal af dat jy net selluliet sien. Sy gryp daai nylontoue vas en begin klim. Uiteindelik is sy bo en sy kry soort van gestaan. Mullet is nou papnat gesweet en die perm kleef aan die gesig vas. Sulke klein krulletjies soos Cora Marie s'n. Maar sy's nou in plein Afrikaans dik befok. In regte stoei is die ou in die kryt veronderstel om nou so te staan dat die ou op die hoekpaal hom kan platval, waarna die ou op die grond homself dan uit "tap" en dis die einde van die rondte. Maar niemand het dit vir Daisy gesê nie. En sy's nie SO stupid om oop oë in SO lokval in te loop nie. So staan Sarie maar op die paal. As ek nou aan haar buuste en slap maag dink, 'n posisie nie heeltemal onbekend aan haar nie. Na so minuut of wat besef Sarie sy sal moet spring, of Daisy nou in haar "line of vision" is of nie. Sarie trap vas en sy spring. Arms uitgestrek. Wol fraiings wapperend. Heeltemal horisontaal. Sy mis Daisy met so 2 meter. Maar sy tref daai krytvloer en val haarself desmoers. Lights out. Einde van Rondte 2.
Toe die laaste rondte aangekondig word met die shifting spanner teen die blik, kan jy sien altwee se gees is gebreek. Sarie is nog half duiselig en deurmekaar met 'n ligte harsingskudding, en Daisy is eenvoudig op soos ou brood. Maar hulle moet maar aangaan. Hulle het net so gedans om mekaar en gevat-vat maar jy kon sien hulle baklei is op. Genadiglik vir hulle, en vir ons, het die einde van die laaste rondte vinnig gekom. Snorre het sommer so uit sy kop uit, sonder 'n tellingkaart in sig, vir Tribbes laat weet dat Sarie die wenner is. In my opinie was dit redelik gelykop, maar wat weet ek nou van stoei af? Die gehoor het op hierdie stadium ook so half verward opgestaan en reggemaak om te loop. Nie heeltemal seker oor presies wat hulle nou aanskou het nie. Net toe ek dink dis menslik onmoontlik om nog te lag, toe skree 'n ou hier van agter af in die saal vir Daisy: "Dikkes!!!!!!! Jy's myne!!!!!" Toe verloor ek dit finaal.
Later stap ek en Twana kar toe. Broeke papnat. Hier sien ons Daisy en Sarie in 'n Nissan Skyline inklim. Met so 10-jarige dogtertjie by hulle. Ek stap natuurlik dadelik nader. "Ken julle mekaar?" vra ek. "Ja, die ou slet is my ma!!" Snorre is toe Daisy se man en Sarie se pa, Tribbes is Sarie se man en die dogtertjie is hulle s'n. Hulle is van Danville in Pretoria. Werk almal in die week in 'n scrapyard en naweke stoei hulle vir ekstra geld.
Ek wonder of daai dogtertjie nog in therapy is......
Sent from my BlackBerry® wireless device

















1 opmerking:

  1. Hahahahahahaha!! Uitstekend!
    Ek wonder tog wat die ander vyf geleenthede was wat Hester sprakeloos gehad het?

    AntwoordVee uit