2014-11-14

My arrestasie en opgeskorte vonnis

Kyk, as ek nou vir enige mens net EEN tip kan gee, sal dit die volgende wees: moet NOOIT iewers heen ry in jou kar in jou pajamas, sonder 'n selfoon, skoene, geld, bra of gekamde hare nie. Maak nie saak HOE vroeg in die oggend of laat in die aand dit is, of HOE kort die afstand, of HOE klein die dorp nie! Trust me on that!
Seker so rondom die jaar van ons Liewen Heer 2004 moet ek mos nou een oggend so half 7 ons ousie, Annatjie Malwetse, gaan haal. Sy het toe so paar maande gelede 'n baba gehad, Thomas. Nogal vernoem na my man van daai tyd. Klein Thomas is toe seker so 6 maande oud. Gewoonlik gaan hardloop ek vroegoggend en teen die tyd dat ek nou Regorogile toe moet ry, is ek heel op en wakker en paraat. Maar daai dag toe nou nie. Ek het verslaap en ek storm toe in 'n slaapbroek, t-shirt, sonder bra of skoene of selfoon, met ongeborselde tande en ongekamde hare teen daai trap af en ek spin daai double cab Toyota daar weg! Toe ek daar by die oplaaipunt kom, toe staan sy al daar met die baba op die heup.
Ek stop darem toe lank genoeg dat sy kan inklim, maar toe daai deur toeklap toe sleep ek! Net so voor die T-aansluiting waar ek nou weer moet links draai terug dorp toe, is daar mos nou 'n bakkie voor my (ek heg foto aan). Dié is gelaai tot drie maal sy hoogte van die grond af en hy ry seker 18 kilometer per uur. Ek jaag hom toe verby. Oor 'n sperstreep. Toe ek kom by die stopstraat by die T-aansluiting toe is ek SO geïrriteerd dat ek bo-oor daai stopstraat jaag. Net toe ek nou in tweede rat ook regkry om daai bakkie gespin te kry, toe hoor ek die sirenes hier agter my. Trek toe maar af. Daar net voor Wes Voere, vir dié wat nou Thabazimbi ken. Nou kom spietkop mos nou so stadig as moontlik aangestap. En jy kan natuurlik nou 'n eier in my gat kook daai tyd. 'N dosyn om presies te wees. Nou stap Ta mos nou om die bakkie en kyk na die nommerplate en die lisensieskyfie en dan kom hy nou aan ge"saunter" bestuurderskant toe. Nou sé hulle ook mos nie iets nie. Hy maak net so geluid: Uh. Ek sê ook niks. Hy't my mos nou afgetrek, nie ek vir hom nie. Nou begin hy wharra wharra oor "Ooooh I see you have a nice Ka!" Ek sê niks. "Theez is a werrie expenseef wan theez one". Steeds sê ek niks. Nou begin Thomas ook nog te skree. Annatjie haal daar en dan 'n tiet uit. Nou het ek die geluid van borsvoeding hier in my linkeroor en hierdie bobbejaan wat duidelik 'n bribe uit my uit probeer kry, in my regteroor.
Nou begin hy my oortredings opnoem. "There by that wan, you drive over the solid line". Ek sé "yes". "And then you go over that stop street". "Yes". "Can I see your license? "I don't have my license with me." "Can I see your ID?" I don't have that with me either" nou is dit 'n ge-tongklikkery en 'n ge-johjohjoooooh! Nou begin hy met sy storie. "This is going to be a very heavy fine. So what do you want me to do about it". Nou hou ek my heavy dom. "I suppose you have to write the fine, what else can you do?". Maar hy wil natuurlik geld hê, en ek maak nou of ek dit nie weet nie. "No, but you can afford theez Ka, so you don't have money left for da fine, so maybeee you've got just the little bit of money". Ek kap hom: "Please Sir, I am in a hurry. I admit what I did. Please write the fine for all the offenses that you mentioned". Nou is dit weer van "Nooooooo but I don't want to write that beeeeg fine". Nadat daar nou oor en weer gegaan is hiermee, toe sê ek reguit vir hom: "Listen my China, I know you want a bribe. But trust me, you're barking up the wrong tree. I'm in a hurry, so write the fucking fine and get it over and done with. You're wasting my time!!" Toe skrik hy so effens. Gryp daar 'n boek en begin skryf. Teen daai tyd is ek al warm hier onder die kraag. Die pajamakraag nou. Ruk hy daar 'n fine uit van R2000. Ons praat nou van amper 10 jaar terug man! Hy wil nog daai stuk papier aangee toe gryp ek hom al klaar uit sy hand uit. Frommel hom op, gooi hom hier by Annatjie Malwetse se voete, en sit daai Toyota in eerste rat. Ek wen hom goed op en toe pop ek daai clutch pappie. Maar ek trek daar weg. Jy sien en hoor net klippe spat, toe daai bakkie sy grip kry op daai teerpad toe skree en protesteer daai tyres tot in vierde rat! Agter my is daai spietkop en sy Corolla TOE onder die stof!! Die stomme Annatjie Malwetse skrik op daai stadium letterlik haar melk weg en klou vir al wat sy werd is aan die dashboard. Ek is bo-oor daai stopstraat by Pick 'n Pay, maar ek was nog nie by die treinbrug nie toe is dit blou ligte en sirenes net waar jy kyk. Van voor en van agter is dit toe 3 spietkopkarre wat my afdruk van die pad af daar by Tirol Kwekery. Kyk, toe stap daai manne nader met die wapens klaar getrek. Ek skrik natuurlik toe nou my gat af. "Get our of the wie-haai-kil". Ek klim toe maar uit. Kaalvoet. In my pajamas. Ponytail so skeef hier bokant my regteroor iewers. "I'm putting you under arrest". For what? "Reckless and negligent driving". Daai maat bel toe sommer vir die polisie se vangwa om my te kom optel. Hy haal ook daai tyd die boeie uit hier by die agterkant van sy belt. Maar ek oortuig hulle toe dat ek in my eie kar Polisiestasie toe sal ry.
Kyk, ek sal bieg, heelwat van my bravade was op daai stadium daarmee heen. Ek het bewerig Polisiestasie toe gery, verkeerspolisie wat my inboks van voor en agter, soos 'n moerse "escape risk", vir Annatjie Malwetse gesê om met kind en al so vinnig as moontlik by die huis uit te kom en vir die Oubaas te gaan roep. Sê net hy moet na die polisiestasie toe kom, die miesies hys in die kak. Daar sleep sy, spierwit geskrik. Nou is dit die beste deel van 2km na ons huis toe, maar genadiglik is my man so binne 'n halfuur daar.
Nou is ek kaalvoet, in pajamas, die Balju van Thabazimbi se vrou, die Polisiestasie in. Ek mag nie voor wag saam met die publiek nie. Ek is nou fisies onder arres. Ek word deurgevat na die agterkant van die selle, waar ek op 'n houtbankie sit saam met ander prisoniers wat oornag in die selle aangehou was. I kid you not. Ek hoor toe my man se stem daar in die stasie. Hy dring toe dadelik daarop aan om die stasiebevelvoerder en die Hooflanddros en die Minister van Justisie en die Internasionale Hof in Den Haag te bel. Maar mense. Regtig. Dis 2004. Daai dae is verby. Daar het ek gesit. Ek is saam met daai mense geprosesseer, my vingerafdrukke is geneem, en ek is geboek. Alles in my pajamas.
Toe is die polisieman nou natuurlik hardegat. Hulle weier om my te laat gaan, hulle wil my "in arres" oorplaas na die Hof toe sodat ek onmiddellik voor 'n Landdros kan verskyn. My man bel toe 'n prokureur. Dié daag toe darem binne 10 minute daar op. Intussen is ek nog agter op die houtbankie besig om acquainted te raak met my mede-krimineel tjommies. Vingertjies pikswart van die vingerafdruknemery. Ponytail op hierdie stadium darem al geskuif na bokant die linkeroor toe. Toe kon hulle my nou nie vrylaat nie, want die persoon wat op daardie stadium die hoogste rang gehad het by die stasie, was 'n Adjudant-offisier, en net 'n offisier mag my vrylaat. So bel die prokureur en my man orals rond en spoor toe ene "Sakkie" op. Hy is 'n luitenant, maar hy is ongelukkig met verlof. Hy is toe darem by die huis en na nog 'n uur daag hy daar op en teken die nodige vorms. So is ek toe huis toe. Dit was seker hier teen 11 uur die oggend eers. Daai maandagoggend is ek terug in die Hof. Prokureur is by. Needless to say kry ek die swart Landdros. Die saak word uitgestel. Ek word soos 'n krimineel behandel. Jy wag buite in die gang tot die Hofordonnans jou naam kom uitskree, dan gaan jy in. Buig vir die Landdros en gaan staan in die beskuldigdebank. Die aanklaer lees dan die klag teen jou uit. Daai swart aanklaer roep daai spietkops en daai ouens gaan aan asof ek 3 mense doodgery het, weggejaag het, 'n kar ge-hijack het, en hulle my net voor die Botswanagrens vasgetrek het met 'n boot vol home-made Mandraxpille. Ek kom toe agter hulle gaan met niks minder as die doodstraf tevrede wees nie. Die saak is nog 'n paar keer uitgestel, en elke keer moet my prokureur saamgaan, en elke keer kos dit natuurlik geld. Na vele maande is die saak toe nou finaal voor die Landdros. Daar's nie 'n manier hoe ek myself kon loslieg uit daai een uit nie. Ek is skuldig bevind aan roekelose en nalatige bestuur. ek het 'n R5000 boete gekry. Opgeskort vir 5 jaar. Ek moes natuurlik die oorspronklike R2000 boete, wat ek so onseremonieël opgefrommel het, ook betaal. En ek moes die stywe prokureursrekening ook betaal. Die Landdros het my ook mooi laat verstaan dat hy my lisensie sou wegvat as dit nie was dat ek 'n "official of the court" was en my kar nodig gehad het vir my werk as adjunk-balju nie. Julle moet nou waardeer dat ek elke dag van my lewe by die Hof gekom het in my werk as adjunk-balju. Ek het elke landdros, aanklaer, prokureur, klerk en polisieman geken. En nou ook elke spietkop. Dan wonder ek steeds waar kom Pietie en Nola aan hulle tricks. Ek hoop regtig nie hulle lees hier nie.......(Kan die persone wat in Pole en Jordanië my blog lees, my laat weet wie julle is? Ek is baie nuuskierig! E-mail my by sherifftbz@hotmail.com)
Sent from my BlackBerry® wireless device




1 opmerking:

  1. Ek het nou offisieël opgevang en jou blog van heel voor af gelees tot hier! En ñ six-pack in die proses ontwikkel!

    AntwoordVee uit