2014-11-11

Tannie Marie se as.

So is ons mos nou vrydag na 'n plaas toe langs die Krugerwildtuin saam met Pietie en Nicole. To moer and gone anderkant Hoedspruit. Ons het na werk eers gery en na middernag daar aangekom. Myle en myle uit die beskawing uit. Soos wat ons na die verlate ou plaashuis aangery gekom het in die pikdonkerte, het die kar se ligte orals geskyn op ogies wat uit die nag vir ons loer. Hopelik was dit net bokke. My verbeelding was natuurlik al laaaaaaankal op hol en ek het vir Pietie, my gunsteling slagoffer van AL my bangmaakstories deur die jare, hier van agter af gesê: Dit lyk net soos in daai fliek "The Blair Witch Project". Toe ons stop voor die plaashuis toe is ek klaar skytbang. Nou weet jy nie wat is die ergste nie: om alleen in die kar te bly tot iemand die ligte aangesit het, of om in die middel van die groepie van 4 saam die huis in te skuifel nie. Nadat ek agtergekom het ek is die enigste een wat bang is, is ek maar saam die huis in. Nou is daar nie Eskomkrag nie, ons is aangewese op lampe en kerse.

Orals staan swaar en donker houtmeubels rond. Toegegooi onder lappe. Die beddens is toegemaak met swaar plastiek. Nou het ek alles onthou van die marshmallows tot by die brandewyn, maar ek vergeet beddegoed en handdoeke. So nou moet ek met 'n flitslig daai kaste oopmaak en beddegoed en handdoeke soek. Alles kraak. Kwaai ou mense kyk vir my uit portrette neer. Ek verwag natuurlik elke oomblik as ek 'n kas oopmaak om af te kom op 'n gebalsemde lyk. Die huis het natuurlik 'n baie lang en donker gang. Die kombuis en eetsaal en lapa en ablusiegeriewe is later aangebou en is apart van die huis, net geskei deur 'n stoep. 'n Donker stoep. Die stoep loop reg rondom die presies reghoekige huis. Die stoep is van bo tot onder toegemaak met sif. Om ongediertes uit te hou. So 150m van die huis af is 'n watergat. Deur die nag hoor jy die hiënas lag en skree. Die volgende oggend sou Pietie die luiperdspore naby die huis vir ons wys. Dis nou mooi. Nou kan ek daarvoor ook bang wees. Uiteindelik kom ons tot ruste en alles is uitgedra. Die gas is aangeskakel en die yskaste en vrieskaste werk en ek raak uiteindelik aan die slaap.
Toe die son uitkom toe is ek natuurlik 5vm op en wakker en my gewone brawe self. Ek ondersoek toe die huis verder en kom af op Africana wat julle nie sal glo nie. Getekende foto's van President M T Steyn en van Paul Kruger, W H Coetzer skilderye en nog vele meer. Pietie wys my toe 'n dik foto-album wat die familie en die huis se geskiedenis uiteensit. Wat 'n storie!!!
'n Baie gesiene familie. Die pa 'n ambassadeur. Die ma 'n ginekoloog. Ontelbare rykdomme......kuns, eiendomme, plase, aandele, kontant. Alles is gedokumenteer deur koerantberigte wat in die album bewaar is. Hulle het 2 kinders gehad. 'n Seun en 'n dogter. Aangenome kinders. Die pa is dood en die ma het alles gëerf. Dit was in 1976. Die kinders het geensins 'n probleem daarmee gehad nie, want die ouers was binne gemeenskap van goedere getroud en hulle het geweet die langslewende sou alles erf. In 1997 is die ma dood. Toe sou die kinders agterkom hulle erf nie 'n dooie sent nie. In daai jare was die boedel 26 miljoen rand sterk. Werk maar uit hoeveel dit sal wees in vandag se terme. Alles is nagelaat vir die "Afrikanersaak", wat dit ookal mag beteken. En dit is nou hoe ons op die plaas beland het. Die enigste trustee van die trust wat geskep is, is 'n boesemvriend van Pietie se skoonpa. Hy is al in sy sewentigs maar was as jongman 'n professionele jagter op die einste plaas. Hy ken natuurlik die hele storie agter die storie, maar al wat bekend is, is wat in die koerantberigte staan, so mens sal nooit weet hoekom is daai 2 kinders onterf nie. Die seun moet ook nou vroeg 70 wees en die dogter in haar laat 60's. Die ma was 93 toe sy in 1997 oorlede is. Die feit dat ek nie die storie agter die storie geken het nie, het my natuurlik gladnie gekeer om my eie storie op te maak nie. Inteendeel. Hierdie insigte het ek natuurlik gehou vir wanneer ons op middernagtelike wildritte gaan en ons deur die donker bosse met soekligte vir leeus en luiperds soek. So het ek myself elke aand banger en banger gepraat.
Sondagaand het Pietie buite die lapa 'n "trailcam" opgesit en die braaivleis se bene daar gegooi om te kyk watter roofdiere dit kom vreet. Toe hy in die huis in is het ek so voor die kamera verbygekruip op die donker gras. Agterna het ek nou gewag dat hy moet kyk en sy gat moet afskrik. Niks. Hy't net gesê: Lekker Mamma! Kort na my het 'n hiëna toe die bene kom vreet. Die laaste aand sit ons buite om die vuur. Rûe na die donker. Kyk, ek het toe nou al elke moontlike teorie met hulle 3 gedeel oor wat moontlik kon fout gegaan het tussen die ma en die kinders en hoekom sy hulle onterf het. Geen logiese verklaring wat een van die ander aangebied het sou my tevrede stel nie. Ek sou slegs tevrede wees met iets uit die okkulte of nog meer sinistêr! Hier hak Pietie af: Dan sal jy seker baie geïnteresseerd wees in die feit dat ek 'n Ouija bord in die kombuislaai gekry het toe ek vir vuurhoutjies gesoek het. Bingo!!! So hulle, of van hulle, of iemand, het in daai huis glasie-glasie gespeel! Kyk, dis toe nou soos petrol op daai vuur!!!!! Toe is ek en Pietie nou op ons gunsteling topic. Ons het by die Broederbond begin, deur die Vrymesselaars gegaan, verby die Illuminati, tot by die Pous in Rome. Teen daai tyd was ek so bang my tande het al opmekaar geklap. Maggie sit natuurlik lekker daar met 'n brantie in die hand en lag haar amper dood. Nicole is nog minder gepla. Ek vra vir Pietie hoekom het hy my nie geroep en gewys toe hy dit kry nie? Nee, want hy't geweet wat nou weer op dit sou volg. Ek vra hom of daar nog iets is wat hy my nie vertel het nie!? Ja, sè hy. Wat, vra ek. Daai klein boksie op die kaggel onder die vrou se portret in die sitkamer? Ja? Haar as is daarin. Needless to say is ek toe bo-op Maggie. Die vuur is besig om uit te brand en dis pikdonker. Veraf hoor ons 'n leeu brul en jakkalse skree.
Daai aand toe ons in daai stikdonkerte lê, toe hoor ek Pietie in die gang af loop. Ek kan myself toe nie keer nie en sê vir hom: Pasop vir Bokman. Hy kap my: Pasop jy maar liewer vir Tannie Marie daar in die kamer langs jou.
Ek weet nou al weer iets nuuts oor myself. Ek het 'n geweldige sterk blaas. Ek kan knyp tot die son opkom as dit moet.
Sent from my BlackBerry® wireless device


1 opmerking: