2014-11-01

Dan wonder ek waar kom my kinders vandaan...

Nola het mos elke jaar huistoe gekom vir 'n paar maande uit Europa uit. Dan kuier ek en sy nou dik stukke tot wie weet watter tyd in die nag. So bly ons ander "partner in crime", Arre, net so paar huise van ons af. As Arre nou by ons kuier dan het ek hulle twee nou al teen middernag so bang gepraat, dat hulle twee nêrens alleen kan wees nie. Dan moet ons nou saam met Arre huistoe stap en wag tot sy in die huis is, en dan hardloop ek en Nola terug na ons huis toe teen die spoed van wit lig! Gewoonlik nadat ek so head start van 10 meter op Nola oopgemaak het, en dan skree: Pasop vir Bokman!!! Een aand is dit nou weer sulke tyd. Maar nou is ek nie lus vir bangmaakstories nie. Ek sê toe vir Nola ons moet ons t-shirts en bra's uittrek, dan hardloop ons kaal huis toe. Onthou dis nou hier 3 uur in die oggend! Nou kan ek sien die stomme kind verstaan nou gladnie hierdie opdrag van haar ma nie. Sy vra toe heel onskuldig: Hoekom? Nee sommer man, sê ek! Dit gaan lekker wees! Dis warm, en niemand gaan ons sien nie, en dis net soort van opwindend. Sy sê toe: Jislaaik Mamma....ek weet nie. Ek het nou so half genoeg excitement gehad oorsee, ek weet jy kom min uit, so as jy 3 uur in die oggend wil kaal bolyf hardloop in Thabazimbi, I'm all for it, maar ek dink ek gaan dié een uitsit. So gesê, so gedaan. Nou is dit pikdonker en doodstil. Ek trek my bra en t-shirt uit en ek sny. Daar uit Hamerkopstraat uit in Loerielaan in. Nou loop Melbastraat vas in Loerielaan, parallel met Hamerkop. En Melbastraat kom daar uit Bokmakierie uit. En daar bly 'n dokter. Wat gery het met so klein groen Jeepie. Wat op roep was. Wie se vrou 'n baie goeie vriendin van my is. Wat ek doodseker is nou hier lees. En toe ek nou op volspoed is in die middel van die pad met my 36C's skuddend in die maanlig, toe kom daai einste dokter om die draai op pad hospitaal toe. Kyk, ek twyfel of hy my gesien het, maar ek het binne 'n milisekonde geduik daar in die Van Vuurens op die hoek se tuin in dat jy net blare en takke sien spat. Nola het rustig aangestap gekom. My daar opgehelp en hinkepink is ek en sy die laaste entjie huistoe. Sy natuurlik nou baie beterweterig en selfvoldaan. Ek het net kortaf vir haar gesê: Hou dit nou maar tussen ons. Ja Mamma, trust me, dis gladnie die tipe storie wat ek sal oorvertel nie.
Een oujaarsaand is Nola weer by die huis. Nou kyk, daar gaan absoluut niks aan op 'n oujaarsaand in Thabazimbi nie. Die mense begin mos 10 uur die aand klappers skiet en half 12 gaan slaap almal. Nou het ons ook gebraai en klaar gëeet en geswem en nou wil middernag en die Nuwejaar ook nou nie aankom nie man! Daai tyd ry ek so Honda 250XR scrambler. Nou sê ek vir Nola ons moet hier rondom middernag 'n spin met die bike vat deur die dorp. Sy's nie baie lus nie, maar sy weet ook al van beter as om teë te praat. Sonder helmets en kaalvoet sê ek vir haar. Nou is sy eers van "maar jy sê ons mag nooit sonder skoene ry nie, ons mag nie eens met plakkies op 'n bike ry nie!" Man kom net!!!!!! Maar Mamma, wat van ons helmets!?? Man kom!!!!!! Nadat ek nou 'n halfuur lank gesukkel het om die kind se brein te her-programmeer, is ons daar weg op die bike. Kaalvoet en sonder helmets. Goddank nie kaal nie. 'N gedagte wat ek wel vlietend ge-entertain het, maar gelukkig toe ge-discard het. Ook net omdat ek geweet het sy gaan nie byt aan daai outjie nie! So ry ons nou deur die donker strate en soek vir nugter weet wat. Nou voel ek later ek moet die trippie nou meer exciting maak. Maar ek wil nou nie hê Nola moet agterkom waarheen ek op pad is nie. Watter beter plek is daar nou op 'n maanlose nag net na middernag as die begraafplaas? Nou ry ek daar af in Hamerkopstraat, links by die verlate vliegveld, maar nou wil ek nie af-gear by die begraafplaas nie want dan gaan sy mos nou weet ek gaan daar indraai. So vat ek maar die draai by die begraafplaas in redelik skerp, en teen 'n redelike spoed. Sien toe nou gladnie die sand en gruis nie. Mos donker. Maar in daai milisekonde (lyk my ek reageer nogal vinnig onder sulke omstandighede) besef ek ek moet keer en alles in my vermoë doen om nie met Nola te val nie. So steek ek daai kaal poot uit op die teerpad. Liewe ouers. Nie 'n vel of 'n nael was gespaar nie. Maar ek hou daai bike wonderbaarlik regop, ek gly en wobble daar deur daai sand in die pikdonkerte, maar somehow correct ek hom en ons bly bo. Van skok maak ek daai throttle oop en is ons daar oor 'n klomp grafte, en na 'n paar wilde draaie waar ek die bome en die oop grafte rakelings gemis het, is ons weer uit by die hek. Lam van skok het ek in tweede rat huistoe gery. Goddank het almal al geslaap. My voet was moertoe. Ek het die bike gebêre en net vir Nola gesê: Hou dit maar tussen ons....Die volgende paar dae het ek in die Thabazimbi Desemberhitte met tekkies en sokkies geloop. Mank as niemand kyk nie......
Sent from my BlackBerry® wireless device

1 opmerking: