2014-11-28

Die karre van my lewe

Hierdie is nie regtig 'n storie nie, daar is ook nie 'n punch line nie. Ek dink maar net hardop. Aan my tjommie daar in die vreemde wat nou van haar voosgeryde Vauxhall moet ontslae raak en nou iemand anders se voosgeryde kar moet koop.
Daar is seker nie 'n enkele mens bo 20 jaar oud wat nie 'n karstorie het nie. Al is jou storie net dat jy NIE 'n kar het nie. My eerste kar het ek op 30 jaar gekry. In 1992. 'n Splinternuwe Fiat Uno Fire. Silwer een. 1100 cc Enjintjie. R36000. Uit die boks. Ek het daai karretjie gery en hom eers in 1998 verkoop vir R30000. My nie een dag se probleme gegee nie. My eerste man se eerste kar was so bokstipe Datsuntjie. So vuilgroene. Sampie. Derduisende kilometer op daai klok gesit. Toe koop hy so Peugeot 504. 'n Regte oumenskar, maar het soos 'n droom gery. Na ons troue het hy 'n splinternuwe Nissan Pulsar gekoop. Ook 'n great kar gewees. Toe koop ons mos 'n splinternuwe Opel Kadett Cub. Fout. Van dag 1 af het daai kar probleme gegee. Ken julle van "n " knock in die engine?" Daarna het hy firmakarre gery. Honda Ballades almal. Ook goeie karre, maar die firma het dit laat diens en regmaak so daar is nie regtig iets wat uitstaan nie. Toe is ek uit daai huwelik uit met my Uno'tjie.
Ek ruil toe die man in vir 'n ander een, en die Uno vir 'n Nissan Hi-rider bakkie. Tweedehands. Goeie voertuig maar hy het verskriklik hard gery. Jy moes op hierdie paaie omtrent 'n sportbra aantrek as jy gaan ry. En nou praat ek van my man. Toe ruil ek hom in vir 'n doublecab Toyota Hilux. Turbodiesel. Terselfdertyd koop my man 'n VW Caravelle by 'n ou op die myn. Hierdie laaste 5 woorde van die vorige sin moet vir julle 'n clue wees. Maar so gaan doen hy 'n polisieklaring op die voertuig en die VIN nommer en onderstelnommer en enjinnommer en alles is reg. Wat natuurlik nie veel help as die polisie ook korrup is nie. Maar so ry ons vir jare met die Caravelle. Dis mos nou daai kombi wat se wiel probleme gegee het en ek 2 voornemende motordiewe in therapy gesit het. (Sien vorige blog).
Een mooi dag breek die Toyota. Ons laat hom regmaak. R12000. Nou praat ek van omtrent hier in 2001 rond. Dis baie geld. Ons ry hom so week. Toe breek hy weer. Engine ge"seize". Toe gaan my man na die garage toe en sê hulle moet nou maar vir hom 'n ander bakkie gee om mee te ry want hy is nou gestrand wat sy werk aanbetref. Hulle het toe nie 'n "courtesy vehicle" nie, en gee hom 'n tweedehandse een van die vloer af. Ook 'n Toyota Hilux. So rooie. Okay hierdie was 'n Toyota garage wil ek net bysê, dis hoekom ons heeltyd Toyotas ry.
Toe ondersoek my man die engine van die stukkende Toyota wat nou by ons huis staan. Hy sien toe daar is sulke halfmaan kapmerke hier op die "head" en sê toe vir die voorman dat daar met 'n hamer aan daai engine gekap is. Toe gaan my man self na die werkswinkel en staan by terwyl hulle die engine "trek", met 'n "block en tackle". (Ek hoop julle waardeer en let op al die mechanic terme wat ek ken). Nou word die engine weggestuur na die werkswinkel op Northam. Ons bly mos nou in Thabazimbi. Die engine word uiteindelik reggemaak. Ons betaal nie daarvoor nie, maar my man sal hom self terugsit in die enginelose Toyota wat mos nou by ons huis staan. So ry hy met die garage se rooi Toyota Northam toe en en gaan laai die engine. Kom terug. Los hom agterop die bakkie in ons garage. Daai aand steel hulle die garage se bakkie MET die engine agterop. En ook al my man se gereedskap.
Dadelik bel ons die versekering. Moet ek nou sommer my versekeringstories ook begin vertel? Liewers nie. Hulle laat weet hulle dek net 'n engine as dit IN die voertuig is, nie buite die voertuig agter op 'n ander bakkie nie. Toe het ons ook nog eindelose probleme met die garage waar ons die rooi Toyota geleen het, omdat hulle ook nie die regte prosedure gevolg het met die uitleen van die voertuig nie. Maar dit was nou gelukkig hulle probleem en nie ons s'n nie. So sit ons dus nou sonder 'n leenvoertuig, en ook sonder ons reggemaakte Toyota engine. Maar so het ons darem nog die Caravelle.
Die volgende oggend stap 2 polisiemanne teen ons oprit op. Hulle is van die SAPD se voertuigdiefstaleenheid in Pietermaritzburg. Ons ry met 'n gesteelde Caravelle. Hy is gesteel, die eienaar se versekering het klaar aan hom uitbetaal, en die voertuig behoort dus aan Santam Multiplex. Hoe meer ons verduidelik en die polisieklarings wys en al die nodige dokumentasie, hoe meer sé hulle baie jammer maar dit gebeur maar nou elke dag. Ons is toegelaat om ons cd's uit die cubby hole uit te haal en daar ry hulle. Geen Caravelle, geen garagekar, geen engine, net 'n Toyota in die garage sonder 'n engine.
Nou moet julle besef, ons is nog steeds aanspreeklik vir die Caravelle se paaiemente. Maar nou het die bank mos hulle sekuriteit verloor, deurdat daar nie fisies meer 'n voertuig het nie, en eienaarskap nou oorgegaan het na Santam Multiplex. So nou soek hulle die uitstaande bedrag eenmalig. Nou is ons naby aan finansiëel uitgeroei. So soek ons 'n re-con engine vir die Toyota. Intussen leen ons iemand anders se voertuig. So 1970 Toyota (!!!!!!) Hilux bakkie wat die mense eintlik net aangehou het om tuinvullis mee weg te ry. Uiteindelik kry ons 'n engine in Pretoria vir R4000, sit hom in, en daar gaan ons weer. Ek het later daai doublecab op 'n singlecab Toyota ingeruil en nog later op 'n doublecab Toyota, 2.4 petrol. Lg is ook uit ons garage uit gesteel, en met behulp van die opsporingstoestel in Alexandra langs Sandton opgespoor. Toe Matrix se helikopter bo-oor die rower ry toe spring hy in die ry uit. Crash daai bakkie moertoe daar deur 'n sementsloot en in 'n modderhut vas. Derduisende rande se skade. 2 Dae later kon ons hom gaan insleep, met 'n geleende voertuig, van Grand Central lughawe af waar Matrix se stoor was. Ten duurste laat regmaak. Ons was in daai tyd nie SO gestrand nie, want my man het nog sy BMW LT1200 motorfiets gehad.
Dié een wat "onsteelbaar" is. Jy kan mos nie 'n kar of 'n bike "hot wire" deesdae nie, want die sleutel het mos 'n mikroskyfie in. Een aand is ons in Pretoria by die Town Lodge. Die bure weet ons is weg. Die buurvrou bel. Iemand het nou so pas by ons hek uitgery met die motorfiets. Sy laat weet toe vir Flippie oorkant die pad. Dié het toe so pas 'n nuwe Audi A4 gekoop, maar hy spring daar in daai kar en sit hulle agterna. So 20 km buite Thabazimbi haal hy hulle in. Hy sê hy sleep teen daai tyd al so 200 km/h. Die ou op die bike besef toe hy gaan dit nie maak nie, slack af, moer die bike neer en hardloop weg. Flippie bly toe by die bike, bel die panel beater met sy tow truck en hulle kom haal toe die bike. R17000 se skade net aan die ignition. Elke paneel omtrent stukkend of geskraap. BMW in Pretoria waar ons hom gekoop het, kom haal hom toe en maande later kry ons hom eers terug. Later het Pietie hom in die Kaap gebruik nadat hy ook karmoeilikheid gehad het. Hy het toe die twyfelagtige eer gehad dat hy daai massiewe bike kon wheelie dat dit lyk of hy met 'n scrambler ry. Hy het hom ook vir ons afgeskryf. Ek worry nie te veel daaroor nie, want hy gaan oor 10 jaar vir my 'n cottage in sy tuin bou vir al die kak en hare waardeur hy MY gesit het.
Pietie is ook deur 'n paar voertuie. Needless to say. 'N golfie. Afgeskryf. Was nie sy skuld nie. Ander ou het voor hom ingery. Toe 'n Toyota Corolla. Toe jeuk sy gat vir 'n motorfiets. Tweedehands. Fout. Toe leen hy die BMW motorfiets. Afgeskryf. Toe kry hy 'n Opel Corsa bakkie. Later verkoop en 'n Isuzu gekoop. Dit onlangs verkoop en ry nou 'n baie mooi 2-deur Renault Megane. Mos baie voorbeeldig deesdae. Ry nie eens oor 100 km/h nie. Hy het ook 'n Buell motorfiets. Wat hy vervoer het van Brits na Pretoria, agterop 'n sleepwa. Toe val die bike af. Teen groot koste laat regmaak. Hierdie keer darem vir sy eie sak.
Hier moet ek 'n pluimpie uitdeel aan Nola. Sy het vir haar 19de verjaarsdag 'n Fiat Palio gekry. Tweedehandse karretjie met 34000 km op die klok. Sy het hom nou 11 jaar later verkoop vir R25000. Sy het nog net die enkele kar gehad en ry ook nou met 'n firmakar. Mooi Nola. Mamma is trots op jou. Maar jy gaan ook eendag my doeke skoonmaak en my kateter omruil, so sorry vir jou ook maar.
So was daar baie ander karre en bikes deur die jare heen. Baie wat gekom en gegaan het en ek nie nou genoem het nie. Baie oproepe van kinders wat iewers gestrand sit. Planne wat vinnig gemaak moet word. Geld wat noodwendig uitgegee moet word wat jy nie het nie. Voorspoed en sterkte aan elke ou wat met 'n kar sukkel. Of sonder 'n kar sukkel. Geluk aan dié wat 'n nuwe voertuig MET 'n diensplan kan bekostig. En sterkte aan my tjommie wat op soek is na nuwe wiele.....
Sent from my BlackBerry® wireless device









Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking