2014-11-17

Old school is cool....vir Nola

Deesdae, seker omdat ek nou "ouer" word en hopelik oor 8 maande 'n ouma gaan wees, dink ek nogal baie terug aan die "ou dae". As jou ouers en jou ooms en tannies en oupas en oumas almal reeds oorlede is, dan besef jy mos nou jou geslag is volgende in lyn om langboompies toe te skuif.
That got me thinking.....
Vat nou hierdie nuwe tendens van cup cakes. Mense, kolwyntjies is so oud soos die berge!! As die koekpanne te vol was, en daar het deeg oorgebly, is dit in kolwyntjiepanne geskep en versier met die oorgeblewe icing. Hundreds and Thousands of Chocolate vermicilli is oorgegooi, somtyds is die icing gekleur met 'n druppel rooi voedselkleursel om dit so pienk te maak, met 'n rooi kersie op. Elke kinderpartytjie van die afgelope 50 jaar het kolwyntjies gehad, in al sy vorme en kleure. Dit was amper so half 'n "common" ou eetdingetjie. My ma sou nou NOOIT kolwyntjies vir grootmense gegee het saam met tee nie!!! Dit was iets wat kinders gëeet het.
Volgende oomblik maak al wat leef en beef nou designer cup cakes!! Jy moet amper Frankryk toe gaan vir 'n kursus! Troukoeke is nou watervalle van cup cakes! Die geure en smake is te veel om op te noem. Resepteboeke in hulle hordes word gewy aan die nederige kolwyntjie. By elke deli of coffee shop drom almal saam om die glaskoepels op die toonbank om te staar na hierdie bonatuurlike, enigmatiese verskynsel. Elke kookprogram op TV verg van 'n aspirant sjef om die perfekte kolwyntjie te kan maak en te versier. Ou Dora sou lekker gelag het.
Enter, stage left, the red velvet cake!! Laas met Verwoerd se moord in die parlement was ons land so in vervoering oor iets! En dan nog met mascarpone versiering, ander met roomkaas en gesmelte botter! Selfs op facebook is die volk in twee gedeel! Een helfte is in ekstase! Ander helfte sweer dit is rooi voedselkleursel of beet-ekstrak wat bygevoeg is en die smaak is presies dieselfde, net meer pretentious. Weereens, elke coffee shop en deli en Woolies Foods hou dit aan en ons wonder hoe ons 362 jaar al hier aan die suidpunt van Donker Afrika oorleef het sonder Red Velvet Cake. Mense neem selfies van waar hulle 'n Red Velvet Cup Cake eet. (Op hierdie stadium wil ek tog bieg dat ek hierdie naweek Ina Paarman se Red Velvet Cake met die Vanilla Icing Kit gekoop het by Woolies.....mens gooi net eiers en gesmelte botter en lou melk en olie by......ek sou dit van scratch af wou maak, maar ek was nie op die kursus nie. Nog nie). Ek kan amper ou Dora hoor omdraai soos ek hier tik......
Kyk, ou Dora was groot op nuwe goedjies in die kombuis hoor. Sy't klakkeloos agter elke nuwe kostendens aangehardloop en het enige persoon of geleentheid of troue of partytjie onseremoniëel beoordeel, of veroordeel eintlik, op grond van die kos wat bedien is. Of dan nou NIE bedien is nie. Al was ons nou HOE arm, ons het ten minste 2 jaar voor enige iemand anders in ons straat muffins gëeet in plaas van skons, en ou Dora was die eerste een om met 'n sak wortels by die huis aan te kom en aan te kondig ons gaan nou wortelkoek eet! So is ek in 1992 in Amerika en in plaas van 'n yskasmagneet bring ek vir haar suurlemoengeursel en 'n boksie poppy seed. Kyk, al het ek nou vir haar Chanel No 5 gekoop, sou dit nie beter afgegaan het nie! Sy het daar en dan lemon poppy seed muffins uitgeruk en vir elke mens wat sy een aangebied het, en die persoon dan nou gevra het wat dit is, met 'n teenvraag gekom van: Ken jy dit nie?!!!! Ou Dora sou hierdie antie Poppie van Kokkedoor soos 'n amateur laat lyk het. Eintlik sou sy beter gedoen het in 'n tipe show waar jy met R150 per maand 'n gesin van 4 moet kos gee sodat hulle moet dink hulle eet elke aand baie grand. Maar ek dink nie iemand sal belangstel in so show nie......dis te kommin.
Waar is die dae toe poeding 'n bak yskoue, klaar geskilde turksvye was. Of sommer piesangs opgesny met vla oor. Lank voor die dae van Ultramel. Jellie en custard op 'n sondag. Die skaapboud wat 'n week lank gerek is op toebroodjies met tuisgemaakte mosterd skool toe. Die absolute luxury van sondagaand nie brood hé vir skoolbroodjies nie, net om maandag jou blikkie oop te maak en vars kaasskons te kry. Of nog beter, cream crackers wat vir tert gehou moes word, met marmite en fyngerasperde kaas op. Die soutterte wat sy darem kon maak! Vandag word dit 'n quiche genoem. En niks minder as spinasie en fetakaas sal vandag mos nou werk nie. Ou Dora het daai blikkies viennas in die water gebruik. Met baie kaas en uie en eiers en sommer enige oorskiet stukkie soutigheid. En wie ken kerrie eiers op rys op 'n sondagaand met so kerriesousie?? En melkkos? Pannekoek al rëen dit nie?
Nou kyk, die mens vir wie sy die liefste op hierdie aarde was, was my dogter Nola. Sy is in my huis oorlede op 17 Desember 2000 om half 2 die sondagmiddag. Aan breinkanker. Sy kon nie meer sien of hoor of praat nie. Maar sy het haar oë vir oulaas oopgemaak en net geprewel: Nola. As ek net dink wat sy vandag sou wou gee om 'n swanger Nola te kon sien, dan stroom die trane oor my gesig. En dit is hoekom ek vir Nola 'n Ouma Dora Stork Party of Ooievaarstee gaan hou. Ter nagedagtenis aan my ma en haar ouma. Nee, nie 'n Baby Shower nie. 'n Old school Ooievaarstee. Met tandestokkies met 'n gekleurde uitjie, 'n blokkie kaas en 'n viennatjie op. Blokkies brood met die korsies afgesny, gebotter, en in fyn biltong gerol. Rëenboogtoebroodjies. Waar jy eiers kook, die gele uithaal, dit fyndruk en met voedselkleursel kleur. Rooi, geel en groen. Op vars witbrood. 3 snytjies opmekaar. Korsies af. In klein driehoekies gesny. Skons. Met Marmite en fyngerasperde cheddarkaas. Kolwyntjies. Souttert. Tee. Waar al die geskenke toegedraai moet word in 'n "receiver blanket". En jy moet raai wat dit is en van wie. En langs jou staan 'n babapot met Pine Nut in en 'n Lunch Bar wat daarin ronddryf. En as jy 3x verkeerd raai moet jy, sonder hande, 'n happie vat. En ons gaan tee drink. Nie alkoholvrye sjampanje of vonkelwyn of ciders nie. En ons gaan nie Red Velvet Cake eet nie. Want eendag as sy so oud soos ek is, en sy beplan vir haar eie kleinkind se koms, gaan sy dink aan wat EK gedoen het, soos wat ek nou dink aan wat MY ma sou doen. En dan gaan sy agterkom van hoe verbygaande aard die pretensieuse ou goedjies van die lewe eintlik is.....en dan sal sy nooit wonder waar sy inpas in die lang ry vrouens wat voor haar gekom het, en hopelik na haar gaan kom nie.....







Sent from my BlackBerry® wireless device












5 opmerkings:

  1. Vandag pik ek 'n traan.

    AntwoordVee uit
  2. Excellent! Tot vandag bak my ma beskuit (Tannie Doortjie se resep met All-Bran of iets) wat ons die eerste keer geproe het in Granden Heights (of so iets, ek kan nie lekker die woonstelblok se naam onthou nie - was mos nog klein!). En ek onthou my krimpvarkiekoek wat sy vir my gebak het toe ons daar by julle was in die huis in Humewood toe ek ses geword het! Julle het nog so knorrige hond gehad (bietjie soos 'n Corgi gelyk as ek reg onthou) wat ons elke oggend so uit die beddegoed moes skud as hy kom inkruip het. Jou pa het daai tyd so geel Morris (?) gery. Dis nog voor die Citroën, wat volgens hierdie plaaskind wat van boggerol geweet het natuurlik netsowel die Starship Enterprise kon wees. En Oom Nols het nie teleurgestel nie, hy't daai Citroën darem behoorlik laat "moves" maak! Haai, come to think of it, daai paar PE trips het 'n geweldige groot invloed op my jong lewe gehad - ek onthou verskriklik baie daarvan.

    AntwoordVee uit
  3. Dankie, Hes, vir die saamneem op hierdie emosionele reis. Dit was besonders.

    AntwoordVee uit
  4. Hoe lekker huil ek vir als vandag!!

    AntwoordVee uit
  5. Sjoe....hoe flits my kinder tyd nou by my verby....ek het nou nog n foto met my pienk barbie pop in n trourok koek wat jou Ma gemaak het. Die rok gedeelte onder was vol klein pienk icing blommetjies. My "ystervark" koek vol smarties gepak, Oom Nols wat so spoggerig was met sy Citroen by 101 Villiersweg, Walmer, P.E..Goeie memories!

    AntwoordVee uit