2014-11-10

Nola in die stripclub, Deel 2

Die mees logiese en vinnigste uitweg was natuurlik om in 'n restaurant te gaan werk. Maar nadat Nola nou die offer om te dien in die skolierpatrollie, asook in die Leerlingraad, vriendelik dog ferm van die hand gewys het, het ek nie regtig vir haar 'n groot loopbaan as kelnerin voorsien nie. Die woord "dien" het haar in sy geheel afgesit. Van "bedien" praat ek nie eens nie! Maar so doen sy dit toe nou maar. Sy kry toe redelik vinnig 'n werk by The Blues Café in Kampsbaai. Maar kerm en kla steen en been van die eerste aand af. Die mense wil nie tip nie, sy hou nie van die baas nie, die uniform is eenvoudig, die ure is te lank, sy kan nie die bestellings onthou nie, die mense is ongeskik, en so gaan dit aan. So word die tips natuurlik vinniger uitgegee as wat dit gemaak word. Ook nie lank nie of sy is weg daar. Of altans, sy word gevra om weg te wees daar. Die rede, heeltemal onregverdig volgens haar, is dat die bestuurder sê sy kyk te veel vir haarself in die spieël en sy flirt met die customers. Tot hierdie dag kan sy nie verstaan hoe dit 'n probleem kan wees nie en eintlik het sy 'n bevordering verdien na hostess toe vir al haar moeite. En dis ook nie haar skuld as hulle so moerse spieël teen die hele een muur het nie, of dat dit eintlik die customers is wat eerste met haar flirt nie! Ook natuurlik point blank geweier om die uniforms terug te vat. Ek sien nog die wit hempie so voor my met die blou "Blues Café" links bo geborduur. Nola dit natuurlik gedra om maksimum cleavage te wys.....
So doen sy sulke odd joppies tot Pietie kort na sy mondigwording in Oktober 2005 ook Kaap toe trek. Ek het geweet die Kaap is te klein vir hulle om saam te bly, so hy bly toe so 2 kilometer van haar af in sy eie woonstel. Hy kry toe 'n woonstelmaat en Nola ook. Toe gaan dit lekker. Pietie begin ook toe te werk by 'n kroeg daar in Kloofstraat, Asoka. (Hy't seker lekker dubbele Jack Russells vir die customers gegooi!) Nou is ek nog steeds op Nola se case dat sy 'n werk moet soek, al het die Kollege nou al begin.
Ek gaan toe af Kaap toe om sommer die lektrise te gaan ontmoet. Miss Caswell. So pragtige, klein vroutjie. Ek gee haar my selnommer en vra ook sommer hare. Ek sê ook vir haar, as Nola siek is sal ek daarvan weet en dan sal ek haar bel. So as ek haar NIE bel nie en Nola NIE opdaag vir klas nie, moet sy my onmiddellik bel. Needless to say het Nola 'n 100% bywoningsrekord gehad vir die jaar en het ons mekaar toe nou nooit hoef te gebel het nie.
Die aand na die eerste dag se klas bel Nola. Heel paniekerig. Obviously was sy, en ek ook tot 'n mate, onder die indruk dat sy van die oggend tot die aand net gaan leer om hare te doen. Toe nou nie. Sy vertel my toe daar is 'n klomp vakke en handboeke en sy moet huiswerk ook doen en take inhandig. Iets wat sy nog bitter selde op haar eie gedoen het, aangesien sy 4 skooljare in 6 weke afgehandel het. Onder andere is daar Wiskunde en Kommunikasiekunde ook as vakke. Ek probeer toe agterkom waar pas Wiskunde nou in as jy 'n haarkapster wil word. Blykbaar moet die kop verdeel word in helftes en kwarte en agstes as kleur aangewend word en nog 'n klomp ander goed en hulle spring sommer die eerste dag weg met breuke. In Engels. Fractions. Waarvan sy niks weet nie. Ek ook nie. En in kommunikasiekunde het sy ook huiswerk en sy moet 'n taak doen oor die uitruilkoers tussen die Suid-Afrikaanse rand en die pond en die euro. Alles natuurlik in Engels. Arme kind is heeltemal in 'n flat spin. Ek ook. So het ek vir haar 'n postnet suite oopgemaak en daar is mos nou faks- en internetdienste en so aan. Onthou, dis lank voor "slimfone". Jy kon nog nie e-pos of internet op jou foon kry nie. Nie eens 'n kamera nie. Fone was net vir bel, sms, en darem met 'n alarm toegerus. Nokia 3310!!
So verduidelik ek so goed ek kan die huiswerk oor die foon, maar ek sien toe hier is meer drastiese optrede nodig. Nou mail ek vir haar die huiswerk, dan gaan sy Postnet toe en print dit. So gaan dit vir 'n ruk lank goed. Later raak dit te veel moeite vir haar. Op daardie stadium werk ek my gat af aan al haar assignments terwyl sy die naglewe van Kaapstad verken! Nou is sy op eerstenaam terme met die ou wat by Postnet werk, want sy kom mos nou elke dag daar. So laat weet sy my, heel diplomaties, dat ek nie die huiswerk en take moet mail nie, want dan moet sy dit nou sit en copy en paste in 'n Word dokument in voor sy dit kan print. En dan moet sy nog eers haar naam en die vak en die datum ook bo-aan intik. So ek moet asseblief bietjie meer moeite doen. Ek moet die naam van die vak, die spesifieke assignment, haar naam, en die datum asseblief ook bo-aan insit. Dan gaan sy vir my die Postnet se algemene e-mail adres gee dan moet ek dit asseblief in 'n Word dokument doen en dit as 'n attachment aanstuur. Ek moet dit ook nie faks nie! Dan lyk dit soos 'n faks! En dan moet sy ook weer 'n afskrif daarvan maak en dit kos geld. Die ou wat daar werk sal dan die Word dokument net so print en dit OF in haar posbussie sit of dit daar by hom hou onder die toonbank. So die hele proses is toe mooi deur haar ge-streamline. Sy sms die huiswerk, ek doen dit, mail dit na die ou wat daar werk toe, hy print dit, sit dit in haar posbus, sy gaan haal dit net uit. Werk soos 'n charm! Magic as jy my vra!
So vra ek kort-kort hoe sy vorder met die werksoekery. Nee maar sy wil nou nie in 'n restaurant werk wat kos bedien nie, want dis te veel van 'n schlep. En jy maak ook nie so baie tips nie want jy het net so 3 of 4 tafels per aand en die mense kuier heel aand by een tafel en die oorsese mense tip ook baie swak. Sy soek eintlik 'n werk in 'n pub of 'n kroeg as 'n cocktail waitress of so iets, waar jy meer mense kan bedien.
Een aand bel sy my. Baie opgewonde. Sy het 'n werk gekry! Maar ek moet nou eers heeltemal klaar luister voor ek iets sê. Of soos sy dit stel: "voor jy nou weer uitfreak". Maar sy gaan aan oor die grand club en die nice eienaar en die onderhoud wat sy gehad het, en hoeveel geld sy gaan maak. Dis toe nou as 'n cocktail waitress. Sy staan ook nie agter 'n kroegtoonbank nie, sy loop rond tussen die gaste. En die plek is reg langs haar kollege. Sy kaan sommer na klas elke dag daar gaan inval. Huiswerk is mos nou nie 'n probleem meer nie. En by die kollege moet jy mos nou elke vrydag 'n model saambring op wie jy kan oefen om te knip en te sny en te kap en te kleur en te perm en te straighten. En daar is baaaaaaaie meisies by haar nuwe werk wat baie graag hulle hare verniet wil laat doen! So dis nou 'n wen-wen situasie en sy is verskriklik opgewonde. Nou vra ek kort-kort tussendeur watse tipe "club" is dit nou en wat is die plek se naam, maar sy praat my dood. Vertel net non-stop van dié wonderlike plek. Hier na 15 minute sê sy toe uiteindelik: Moet nou nie uitfreak nie, maar dit is 'n strip club. Die plek se naam is Mavericks. Nadat ek soos 'n mak heks tekere gegaan het, oortuig sy my dis nou nie asof sy 'n paaldanser gaan word nie en wat maak dit saak waar sy 'n waitress is wat drank aandra? True that. Maar ek is nog nie oortuig nie. Ek meen!!!! 'n Strip club??!!!! Weereens oortuig sy my van hoe "ordentlik" en upmarket en classy die plek nou is. Dis gladnie soos Teasers nie. (Ek sidder om te dink hoe sy dit weet!) En toe gooi sy haar troefkaart wat my nou finaal sal oortuig: Vra maar vir Pietie as jy my nie glo nie!!!! Hy sê self so!!!!
Sent from my BlackBerry® wireless device




1 opmerking: