2014-11-05

My boksloopbaan......soon to be revived..

Ek het mos 'n lewenslange begeerte om te leer boks. Eintlik is dit meer 'n geval van 'n lewenslange begeerte om te leer hoe om die rook uit iemand te slaan, maar toemaar. Ek het nou al AL die moontlike opsies ondersoek. Dit voel net vir my of boks die mees natuurlike een is. As ek nou so sit en kyk na programme soos Jerry Springer en Cheaters en Repo Man, dan kan ek duidelik sien dat mense in so konfrontasie ingaan sonder dat hulle behoorlik toegerus is met die nodige skills. Een goed gemikte hou op die punt van die neus sal enige alterkasie NET daar bëeindig. Nou klap hulle na mekaar en blaas en steun en pluk pruike af en krap en klou en byt. Nee wat.
Ek dink ook nie stoei is vir my nie. Daar moet jy te naby aan die ander persoon kom en hom dan moet jy hom op die grond kry en daar verder jou ding doen. En jy kan ook nou nie juis iemand bewusteloos stoei nie. Die ergste wat jy aan hom kan doen is om sy arm te breek. En dis ook nie te sê jy GAAN sy arm breek nie. En wat van as jou opponent 200kg weeg? Hoe kry ek so ou op die grond? Judo is ook nie vir my nie. Sê nou die aanvaller is kaal bolyf? Waar moet ek hom gryp en vashou om oor my skouer te gooi? Dis ook nes karate. Dit lyk of hulle mekaar net so staan en voel-voel. En in elk geval vat dit te lank om te leer. Ek het ook nie die krag vir al die Japannese krete en getellery en geskree nie. Ek wil eintlik hard begin lag as mense dit doen. En al daai Katas of wat jy dit ookal noem. Dis soos skaduboks. Jy slaan en skop die lug in en daar is nie 'n opponent in sig nie. En in elk geval, ek word 53. Ek gaan 75 wees voor ek hier by 'n bruin belt rond trek waar ek nou regtig die waks uit iemand uit kan bliksem. Wie wil ek nou op daai stadium slaan? Die matrone by my ouetehuis wat my pille bring?
Ek het ook gekyk na daai snaakse Argentynse gevegskuns, capoeira. Nee wat, dit gaan my ook jarre vat om dit te bemeester. Lyk ook bietjie koddig. Dan is daar 'n Israeliese gevegskuns, Krav Maga. Dit kan werk, maar dit gaan my nou nie arms soos Madonna en 'n six pack gee nie. Dan is daar natuurlik die moontlikheid van Mixed Martial Arts. Maar dis nou weer TE. Met dit gaan ek opeindig in 'n toernooi in Brakpan waar ek in 'n cage fight te staan gaan kom teen iemand wat dalk die rook uit MY uit gaan slaan. Ek wil ook nou nie op hierdie gevorderde leeftyd tattoos moet kry nie. Nee, ek het alles ondersoek, en plain straight forward boks is die antwoord.
So het ek toe nou afgekom op een van die legendariese Toweels wat seker nou al die derde geslag van boksafrigters is, en nog steeds professioneel boks afrig in Johannesburg. Net om die draai van waar ons gaan bly! En hy rig vrouens ook af. Ek het hom gekontak en hy het my terug laat weet per e-pos dat ek daar kan kom aanklop en hy waarborg my dat ek binne 6 maande soos Rocky Balboa sal kan beweeg in die kryt en ook met 'n springtou en 'n slaansak en 'n peerbal sal kan toor!!
Dit help natuurlik dat ek ondervinding het van boks. In 1980 toe bevind ek myself mos heel onverwags op universiteit. Nou is daar 'n jaarlikse fees wat hulle daai tyd gehou het, Fiësta. Ook amper soos jool, maar meer gerig op sport. Al die koshuise neem deel teen mekaar. Die hoogtepunt van die fees en ook die laaste item op die naweeklange program, is natuurlik die boks. 'N regte kryt word opgerig in die vierkant voor die kafeteria, genoem die "kraal". Reg rondom is daar honderde trappe uit al 4 rigtings na onder, en die kryt staan nou onder in hierdie vierkant. Amper soos in antieke Rome en Athene toe die gladiators teen mekaar baklei het of die leeus die slawe opgevreet het. Duisende studente sit hierdie trappe vol en kyk na die hoofgeveg. Twee studente van die twee manskoshuise, Unitas en Xanadu, veg aan die einde van die fees teen mekaar om die titel. Die koshuis wat die boks wen, is so min of meer die wenner van die hele gedoente. Nou het ek hierdie vriendin in Melodi. Dis die een dameskoshuis. Die ander dameskoshuis se naam is Veritas. Ek is 'n dagstudent, dus bly ek nie op die kampus in 'n koshuis nie. Maar die dagstudente is ook in 'n "koshuis" gegroepeer. Ons val onder die naam "Oppidani". So ons neem ook deel aan al die items tydens Fiësta. So besluit ek en hierdie tjommie van my, Zanne, dat ons moet deelneem aan die bokstoernooi. Teen mekaar. Ons begin toe uitvra en rondbel en ondersoek instel. Orals loop ons teen mure vas. Op daai stadium het vrouens nog gladnie rugby gespeel of geboks nie. Hoe meer ons sukkel hoe meer vasbeslote raak ons natuurlik om JUIS toe deel te neem. Uiteindelik kom ons by die Oostelike Provinsie Amateur Boksfederasie uit. Na 'n verskriklike gesukkel oortuig ons hulle om ons toe te laat. Ons kry afrigters en mense om in ons hoek te help en dit word wyd geadverteer en die kampus praat vir weke lank oor die gerugte dat twee damesstudente mekaar gaan takel in die bokskryt. Hoe nader die dag kom, hoe meer benoud raak ek. Net vir die rekord: my ma en pa het nou absoluut GEEN idee waarmee ek myself mee besig hou nie. Zanne se ouers ook nie.
So breek die dag aan vir die groot geveg. Ek en Zanne boks in die hoof voorgeveg. Vroegdag al sit die trappe gepak met studente. Ons het vooraf ooreengekom dat ons mekaar nou nie gaan seermaak nie. Ons gaan maar net so tik-tik aan mekaar. Eintlik meer vir "entertainment value" as enige iets anders. Ons het elkeen 'n wit rugbybroekie aan met 'n t-hemp van ons onderskeie koshuise. Sy het 'n rooi lap agter aan haar broek vas en ek 'n groene. Ons word ook nie aangespreek op ons name nie, maar as "rooi" en "groen". Ons sal dit uitveg oor 3 rondtes van 2 minute elk. Die dag voor die tyd was ons in die rektor se kantoor waar al die reëls aan ons verduidelik is en waar ons bokshandskoene aangepas is.
Ons staan op uit ons hoeke, my bene soos jellie, my arms loodswaar. Ons tik ons handskoene so teen mekaar in erkenning. Op daai stadium was boks baie groot in Suid-Afrika. Ek het elke naweek boks op die TV gekyk saam met my pa. Dit behoort voldoende te wees, reken ek. Die klok lui en ek beweeg onmiddellik na die middel van die kryt. Ek voel-voel so bietjie na haar maar kry gladnie 'n hou geplant nie. Sy gelukkig ook nie. Zanne het daai tyd al 'n swart belt in karate gehad, so sy is fiks en vlugvoetig en gaan verseker nie stilstaan dat ek haar kan slaan nie. So gaan die eerste rondte verby. Die skare is honger vir bloed en hulle laat ons dit goed verstaan! Skaars gesit en water gedrink, toe hoor ons: seconds out! Die klok lui vir die tweede rondte. Ons is altwee nou al papnat gesweet. As ek haar wel raakgeslaan kry, gly die houe skadeloos af van haar skouer of haar arm. Ek kan nie naby genoeg aan haar kom nie, want sy sal my beslis raakslaan. Dis gladnie soos wat dit was toe ek teen die slaansak geoefen het nie. Hier en daar kry sy my ook raakgeslaan en dit brand nogal soos die handskoen jou tref op jou natgeswete liggaam. Amper soos 'n "carpet burn". So is die tweede rondte ook verby. Ek vermoed op daai stadium ek loop dalk voor op punte. Nie omdat ek meer houe as sy geplant het nie, maar bloot omdat ek, volgens my, meer aanvallend was. Ek het die heeltyd probeer vorentoe beweeg, en sy keer net. Maar ek besef as ek hierdie geveg wil wen sal ek ten minste een skoon hou moet plant. So breek die derde en laaste rondte aan. Ek is vinnig uit my hoek uit. Net om my vas te loop in 'n reguitlinker. Skuins teen die wang, maar nietemin vol in die gesig. Dit brand soos vuur. Ek weet nie wie het die grootste geskrik ek of sy nie. Maar iewers binne in my oerbrein gaan daar toe 'n switch af. Die "fight or flight response" noem hulle dit. Flight is nie 'n opsie nie, so fight sal dit wees. Maar ek trek daar los en begin haar slaan en ek hou nie op tot die klok lui nie. Die skare is op hulle voete. Die geraas en gefluit en geskreeu is absoluut oorverdowend, maar dis of ek dit net veraf hoor en nie verby die bloed wat pomp in my kop en in my ore kan konsentreer nie. Uiteindelik hoor ek die klok lui vir die einde van die geveg. Ek is bewus daarvan dat my arm in die lug gehou word as oorwinnaar. Ons is altwee gedaan, maar darem nog beste vriendinne. Ons is saam daar weg koshuis toe, waar ons gaan stort het en die res van die Fiësta bygewoon het soos wafferse celebrities.
Laataand is ek huistoe. Darem met geen sigbare merke op my gesig nie. My ma en pa vra of ek die Fiësta geniet het. Ja, baie. Niks snaaks gebeur nie? Nee wat. Die volgende oggend maak my pa my wakker, kort nadat hy die vorige aand se koerant gaan koop het, die Evening Post. Die hele voorblad beslaan 'n foto van twee vrouens wat boks. Die opskrif basuin dit uit: Homicide Hester drops the Blonde Bombshell!!!!!
Sent from my BlackBerry® wireless device





1 opmerking:

  1. Ek sien sommer vir jou in daai bokskryt! Lol! Ai .... en Oom Nols se gesig.

    AntwoordVee uit