2014-12-16

Episode 8

Een goeie ding van 2014 was toe Maggie gekies is vir Anglo se Programme for Management Excellellence. Slegs 150 mense uit 'n totale werknemermag van 160000 word jaarliks hiervoor gekies. Dit was oor 'n tydperk van 3 maande aangebied by die Gordon Institute for Business Science in Illovo. Dit het ook baie ryery gekos, trips Sishen toe, Johannesburg toe, Magaliesburg toe, en jou normale werk mag nie hieronder ly nie. Die verskriklik tawwe kursus word saam met jou werk gedoen. Sy het dit suksesvol voltooi en ek is baie trots op haar.
Teen September 2014 was daar weer sprake van 'n koper vir die plot. Op hierdie stadium was ons so gatvol en vuisvoos na 31 maande van daai plek bemark, dat ons altwee se reaksie was: ja whatever. Ons het gladnie opgewonde geraak nie. Die agent het van tyd tot tyd gebel om ons op hoogte te hou. Die koper wag vir 'n verband om goedgekeur te word. Ja whatever. Hier teen begin November het dit egter gelyk of dit 'n werklikheid sal word. Weer moes daar egter geld geleen word om dit te laat realiseer. Die boorgatsertifikaat kos oor die R5000, die watersertifikaat oor die R9000, die elektrisiteitsertifikaat ook, dan is daar nog R2000 uitstaande op die munisipale rekening. Maar hier het die prokureur ten einde laaste ons absoluut benarde situasie ingesien en ooreengekom dat hy die koop sal laat deurgaan en dan hierdie bedrae van die karige wins sal verhaal. Whatever. Maar ek kan nou amptelik berig dat die eiendom wel verkoop is en dat die koop voor die einde van die jaar geregistreer sal wees. Die koper is alreeds op die plot en hy betaal maandeliks okkupasiehuur.
Wat Maggie se loopbaan aanbetref, het sy besluit om dit letterlik in haar eie hande te neem. Sy het die mense in hoofkantoor tromp-op geloop en aangedring daarop dat hulle haar verplaas, ongeag die feit dat daar nie vir haar 'n vakante pos is nie. Na maande se pleit en dreig het sy hulle so ver gekry dat hulle haar sekondeer na 'n projek toe tot en met 1 Desember 2015, waarna dit dan permanent gemaak sal word. Sy het self haar "job description" geskryf en dit aan hulle voorgelê. Sy erken ook dat sy haarself seker verskriklik ongewild gemaak het, maar dit is nou maar daarnatoe. So dit is uitstekende nuus. Sy begin 5 Januarie by Anglo American se hoofkantoor in die middestad.
En elke dag, "lo and behold", het sy begin huistoe kom met kleeeeeein stukkies goeie nuus. Elke dag het dit gevoel of ons 'n bietjie vryer kan asemhaal. Iemand het vir ons 'n tuinstel gegee. Dankie, jy weet wie jy is want jy lees hier. Jy het meer vir my gedoen op 2 ander geleenthede ook as wat ek ooit voor kon droom. Mag ek eendag 'n berg van jou skouers kan afhaal......
Kyk, ek weet ons sal nooit finansiëel hiervan kan herstel nie. En somehow is ons fine daarmee. Maggie word 50 en ek word 53. Sy kan nog 10 jaar lank werk en sy beplan om daarna moontlik konsultasiewerk te doen. Na dese weet ek dat nie Pietie of Nicole of Nola of Christiaan ooit sal toelaat dat ons nie 'n heenkome het nie. Ons leef van dag tot dag en doen ons bes. Meer as dit kan ek nie doen nie. Want ten spyte van al my planne en drome en ideale wat ek gedink het alles in plek was en alles waterdig was, het hierdie ramp ons nog steeds getref. So ek gaan nou nie die res van my lewe in die huis sit en wag vir die volgende ramp om my te tref nie.
Ons droom om in Melville te bly is ook bewaarheid. Ook deur iets wat ek net kan beskryf as Goddelike ingryping. Dankie vir die vriendin wie se vriende se huis "toevallig" beskikbaar geraak het. Dankie vir die ander vriendin wat R24000 kontant in 'n T-shirt toegedraai het sodat ons die deposito kon betaal.
En toe bel 'n internasionale Franse maatskappy haar en sê sy het in Juniemaand by hulle aansoek gedoen vir 'n werk en hulle wil haar dringend sien. Nou, 6 maande later! Sy het verlede donderdag deurgery na hulle kantore toe in Morningside en hulle sal vroeg volgende jaar van hulle laat hoor. Dankie vir die vriendin in Engeland wat haar vriende wat ook daar bly en op 'n stadium Johannesburg toe gekom het, gevra het om Maggie gratis en verniet te help met haar CV. Hulle is mense van 'n internasionale maatskappy wat vir 3 uur lank met ons gepraat het oor hoe 'n CV op daardie vlak eintlik moet lyk. En die honde het nog nie weer bosluiskoors gekry nie en Bismarck se artritis is heeltemal onder beheer. Die coxsackie virus het ook die wyk geneem. Die huis staan vol bokse. Al my verkopery het die pakkery natuurlik aansienlik vergemaklik. Stadig maar seker lig ons ons koppe op. Ons waag dit selfs om na advertensies te kyk en na mooi klere en huisware te wys en te sê: Het jy hierdie gesien? Dit lyk nogal mooi....ek sal hiervan hou....

Stadig maar seker het ons nou elke dag 'n tree verder begin wegstaan van hierdie tyd in ons lewe. Stadig maar seker kon ons sien hoe elke legkaartstukkie inmekaar pas. Stadig maar seker kon ons die prentjie sien wat die stukke vorm....
En toe bel Nola om te sê sy is swanger. And all of a sudden everything else pales in comparison. Teen 6 Julie 2015 gaan daar 'n nuwe mensie wees op hierdie stukkende aarde wat vir MY gaan sê "ouma". Imagine that.
Pietie kom steeds al sy vakke deur en sal Junie 2015 kwalifiseer as prokureur. Nicole is klaar met haar verskriklike tawwe 4-maande lange opleiding en is aangestel as konsultant by Sage VIP Payroll. Christiaan se besigheid word elke maand sterker en hy werk heel week elke dag en ook die meeste saterdae. Hy wil volgende jaar uitbrei en ook houtdekke begin doen. Hulle hele huis en tuin is ge-revamp deur hulle twee self en lyk fantasties. Pietie en Nicole trek Januarie in hul eie woonplek in. Hy gaan steeds van krag tot krag met die wildsveilings.
Het hierdie reis my verander? Hoe kon dit my NIE verander nie? Ek is uiterlik nog dieselfde. Maak maar van alles 'n ou grappietjie.....Maar ek weet hier binne-in my is ek 'n ander mens. Beter. Of dan 'n beter weergawe van die ou mens. Ek luister meer. Ek kyk meer. Ek verstaan meer. Ek is stiller. Rustiger. Ek bid nou weer op my kniëe voor die bed met my hande voor my gevou, soos toe ek klein was. Ek verstaan wraak. Maar ek verstaan vergifnis beter. Die een is moeiliker as die ander, maar op die lange duur verkiesliker. Ek verstaan nou hoe liefde werk. Hoe verhoudings en vriendskappe werk. Hoe 'n huwelik werk. Ek verstaan dat 'n brood 2 korsies het aan weerskante. Dat dit 'n hele ekstra ete beteken. Ek verstaan die konsep van R50. Ek verstaan hoe dit jou dag se landskap kan verander. Ek verstaan die nutteloosheid van sogenaamde "beleggings". Dit is net 'n belegging vir die persoon by wie jy dit gekoop het. Nooit sal ek weer belê in kuns, aandele, munte, eiendom, juweliersware, motors, enige iets nie! Ek sal eerder die bietjie geld wat ek het net so veilig in die bank los, want ek het alles verloor. Glo julle my nie? Probeer daarvan ontslae raak die dag as jy die geld nodig het, dan sal jy sien wat ek bedoel. Ek verstaan die verbygaande aard van sogenaamde "besittings". Ek verstaan ook hoe maklik dit is om daai mens te word wat met 'n kartonbord om die nek by die verkeerslig staan. Ek verstaan hoe bitter kort treetjie dit was van waar ek was tot daar waar sy staan. Ek verstaan hoekom John Bradford in 1501, toe hy na terdoodveroordeelde misdadigers en moordenaars op pad na die galg, gekyk het en gesê het: There, but for the grace of God, goes John Bradford.
En die heel belangrikste, ek weet nou dat God almagtig in die Hemel 'n lewendige wese is wat die moeite doen om in 'n stofdeeltjie wat op 'n ander klein klippie in die heelal woon, se lewe in te gryp en te sorg dat daai stofdeeltjie elke dag oorleef. Hoekom HY dit doen verstaan ek nie. Want hoe anders verklaar ek sekere goed wat met my gebeur het? Een keer se wonderwerk kan dalk toegeskryf word aan toeval. Die tweede keer aan geluk. Maar keer op keer op keer? 4 maal het ek op 'n plek gesit sonder 'n sent geld vir petrol. 4 maal het ek geld gewen in blokkiesraaisels waar die koerant vir my 'n sms stuur met 'n pin wat ek dan by 'n Absa se cashback gaan intik en die geld dadelik ontvang het. Toe ek nie 'n sent gehad het om vir Nola en Christiaan te gee vir hulle troue nie, toe wen ek 'n Bosch wasmasjien en 'n Bosch tuimeldroër in 'n sms kompetisie. Toe ek vir Nola 'n verjaarsdaggeskenk wou gee toe wen ek 'n R2000 Levi sonbril wat perfek by haar pas. Toe ons nie geld het vir ordentlike kos nie toe wen ek 'n boks vitamine- en gesondheidsprodukte van Pharmachoice in 'n kompetisie. Toe ons nie kos het nie toe wen ek 'n fun run en kry 'n R1000 koopbewys by Spar. Toe my tekkies van my voete afval toe wen ek 'n paar nuwe hardloopskoene van Tekkie Town in 'n wedloop tussen 2000 ander deelnemers. En so kan ek aangaan. Glo ek? Hoe kan ek nie? Van die mense wat ons gehelp het het ek 6 maande gelede nie eens geken nie. Andere het ek net terloops geken. Nog ander het ek in jare nie gesien nie. Skoolmaats van 35 jaar gelede het begin bel en sms en boodskappe van onderskraging stuur.
Jesus sê mos self: In soverre julle dit aan een van hulle gedoen het, het julle dit aan MY gedoen. En daarom wil ek vandag aan elke iedere mens wat hier lees, die onvoorwaardelike uitnodiging rig: As jy in die moeilikheid is, as jy nie weet watter kant toe nie, as jy verby breekpunt is, as jy voel God en mens het sy rug op jou gedraai.....bel my. My nommer is 0836942354. Add my op whatsapp. My bbm pin is 2B949DE1. Jy hoef my nie persoonlik te ken nie. Jy ken my mos nou. Ek is dalk die wonderwerk wat wag om te gebeur in jou lewe. Die antwoord op jou gebede. My adres is 2de laan 68, Melville, Johannesburg. Op die hoek van 2de Laan en 5de Straat. Jy sal my daar kry. Moenie worry nie, die honde byt nie. Al kan ek jou net iewers gaan aflaai of vir jou 'n lekker toebroodjie maak.....
There, but for the grace of God, go I.
Sent from my BlackBerry® wireless device











2 opmerkings:

  1. En ek huil van dankbaarheid dat ek so bietjie van jou ken en nooit sal vergeet nie.

    AntwoordVee uit
  2. Die hele series het my ñ nuwe respek vir jou gegee, well done on rising above, en ek is so bly julle bly nou nader aan my!

    AntwoordVee uit