2014-12-12

Episode 3

Daai Desember van 2012 is alles toe nou al gerëel dat ek en Maggie saam met haar ma na die strandhuis toe sal gaan in Grootbrak. Ek is natuurlik in 'n wilde paniek oor my omstandighede, maar Maggie stel my gerus dat ons dit sal hanteer. Intussen is sy mos nou al in Mei van 2012 van haar plot af. Maar die persoon wat daar bly verroer nie 'n spier nie, en bly gratis aan. Sonder om 'n sent huur te betaal. Maggie betaal die enorme verband en intussen kan sy nie huurders op die plot insit nie, want daar is mos nou iemand wat daar bly. Na derduisende rande se prokureurskoste het Maggie absoluut GEEN ander keuse nie, tensy sy bereid is om die saak verder te gaan voer in die Hooggeregshof, om hierdie persson skriftelik die helfte van die wins van die plot aan te bied met verkoop.
Op daardie stadium is dit natuurlik 7 maande later waarin daar absoluut geen huur ontvang is vir die eiendom nie en sak ons al dieper in die afgrond van skuld in.
So hou ons vakansie maar die teistering hou nie op nie. Maggie se ma ontvang e-posse oor my. Die feit dat sekere goed waar is, beteken nog steeds nie jy wil hê die hele wêreld moet daarvan weet nie! En op hierdie noot wil ek my "Tip van die dag" gou met julle deel: "As iemand 'n verhouding verbreek en probeer nice en civil wees daaroor, aanvaar dit maar so en beweeg aan. Huil so bietjie en kry jouself maar jammer. People fall in love, people fall out of love. Dis maar die lewe. Dit gebeur al miljoene jare en dit sal ook nog vir miljoene jare gebeur. Such is life. C'est la vie. Shit happens." Al wat jou optrede veroorsaak, is 'n uiters wrang smaak in die mond en 'n onvermoë en onwilligheid om die goeie tye te onthou.
Daai hele Desembervakansie word ons geteister met telefoonoproepe en e-posse en skinderstories. Mense wat saam met my in die Kaap gewerk het se mans word gebel, my kinders word betrek, Maggie se familie word betrek. As ons die een vuur doodgeslaan het, spring die volgende een op. Vreemd eintlik, komende van mense, wat dit toe blyk, SELF agter die deur staan. Dit raak so erg dat ek net hier voor Kersfees geen ander keuse het as om aan die persone prokureursbriewe te laat skryf om hulle te dwing om die beswaddering te staak nie. En dis ook nou nie asof hierdie prokureursbriewe verniet vir jou geskryf word nie. Intussen is daar darem 'n huurder op die plot en hy het ook 'n opsie om te koop. Hand en mond belowe hy dat hy teen Mei 2013 die plot sal koop. Elke maand is dit 'n absolute stryd om die huurgeld uit hom uit te wurg. Elke maand betaal hy laat. Elke maand hop al die aftrekorders. So laai die spanning en die skuldlas net op.
Intussen het Anne-marie 'n wonderlike werk gekry en is sy en die kiddies Johannesburg toe waar hulle vandag nog bly en baie gelukkig is. Nou begin ek en Maggie se maandelikse stryd om oorlewing.
Die plan is op daardie stadium dat Nola en Christiaan op 5 Oktober 2013 sal trou hier in die Bosveld. Maar dis duidelik dat die storie op die plaas nie gaan vlot nie en hulle sien in elk geval nie meer kans om jaar na jaar te strompel van misoes na misoes nie. Ek het op daardie stadium al die deposito's alreeds vir die troue betaal. Rok, venue, fotograaf. Man kyk!!! Daaaaar het ek ook nou "christenskap" in aksie gesien! Komende van die voorsangers! Die "groot" Christene! Die steunpilare van ons gemeenskap! Toe ek vir hierdie mense gaan smeek om my deposito terug te kry, is ek met 'n kilheid ontvang wat alle verstand te bowe gaan. Dis nou mense wat ek van 1993 af ken. Hoe meer ek my situasie verduidelik en sê maar dis mos nou amper 'n jaar voor die datum wat ek kanselleer, dis mos nou nie asof dit 'n maand voor die tyd is nie! Dis ook mos nou nie asof hulle in daai kort tydjie ander mense moes wegwys nie! Hoe kan hulle weier om R8000 vir my terug te gee? Wat het hulle daarvoor gedoen? My die plek gewys? Alles tevergeefs. Altesaam verloor ek R14000. Geld wat ek in die eerste plek nie gehad het nie en wat nou maar net by die berg skuld gevoeg word. Tip van die dag: Die feit dat mense openlik hulle christenskap verklaar, beteken nie hulle gaan met jou 'n krummel deernis of empatie hê nie. Inteendeel. Pasop maar vir sulke mense.
So het ek en Maggie groot planne gehad om 'n ordentlike troue te hou vir onsself en het ons klaar 'n datum en venue en alles gehad. Dit sou 24 Januarie 2014 wees. Ons het egter geen ander keuse gehad as om dit nie net uit te stel nie, maar heeltemal af te stel. Ons besluit toe om oor praktiese redes wat pensioen en medies en behuising en polisse aanbetref, net eenvoudig stil te trou en dit agter die rug te kry. Op 20 Maart 2013, op die uur na presies 'n jaar na die Chris Chameleon konsert en ook om 7 uur die aand op 'n woensdag in Pretoria, trou ons met net my kinders en hul partners en Maggie se ma teenwoordig. Gladnie soos ons dit voorgestel het nie, maar dis nou maar hoe dit is.
Nou laat ek net een ding verduidelik. Bankrotskap kom nie oornag nie. Dis 'n geleidelike proses waar jy al dieper en dieper die afgrond in beweeg. Vergelyk dit met 'n huwelik. As jy vandag baklei, dagvaar jy mos nie môre vir 'n egskeiding nie? Maar as alles ophoop en jy 10 jaar later skei, dan kan jy gewoonlik presies sien waar dit begin verkeerdloop het. Dis baie maklik om agterna slim te wees en te sê ek moes dit gedoen het of ek moes dat gedoen het. Jy werk met die inligting op daai oomblik tot jou beskikking. En natuurlik bly jy hoop dat hierdie 'n tydelike ongerief is wat binnekort uitgesorteer gaan word. As jou debietkaart gedishinoreer word by Pick 'n Pay se kasregister, wat doen jy? Laat jy jouself die volgende dag sekwestreer, of betaal jy bloot met jou kredietkaart? As jou kredietkaart vol is, wat doen jy? Verkoop jy dadelik jou huis of gebruik jy maar net jou oortrokke fasiliteit? As jou overdraft ge-max is, verkoop jy jou kar of vra jy bloot die bank om jou die geld te leen op jou persoonlike lening wat jy reeds afbetaal het? Dan leen jy teen jou huisverband. En so maak jy elke maand 'n ander plan. Want die uitkoms is mos naby. Hou in gedagte dat ons die heeltyd gedink het die plot sal vinnig verkoop en ek sal vinnig 'n ander werk kry. Of Maggie sal 'n ander werk kry. Toe ons sien dit gaan nie realiseer nie, toe begin ons ons uitgawes tot op die been sny. Ons sit nagte om, skryf alles neer, stuur e-mails, kanselleer alles wat ons kan. Ons maak nog skuld om uit kontrakte uit te kom. Goed soos DSTV, Vodacom, M-web, World of Golf, MTN. Ons sny ons versekering tot op die been, betaal die minimum premies om net die polisse en annuiteite lewend te hou. Alles word hersien, die huisinhoud versekering, lewensversekering, motorversekering. Maggie sit na ure by die werk en stuur mails en maak planne en bel rond. Ek sit hulpeloos by die huis. Ek het geen hulpbronne meer nie. Sonder 'n werk of inkomste of betaalstrokie kan jy nie eens by 'n loan shark geld geleen kry nie! Vra my, ek het hulle almal probeer. Banke keer jou die rug toe. Jy is niemand nie. Niks. Ek het nie eens tyd op my foon om te bel nie. Ek het geen toegang tot internetfasiliteite of selfs 'n faks nie. Ek sit 70 km van die naaste dorp af met 'n kar wat leeg is en wat se paaiemente agterstallig is. Nodeloos om te sê is daar nou lankal nie meer sprake van tuindienste of 'n huishulp nie. Ons leef nou letterlik soos armblankes. Ek antwoord nie eens meer my foon nie want ek weet eenvoudig nie wat om te sê nie. Ek kan by niemand geld leen nie want hoe leen jy by jou vriende geld as jy hulle nie kan terugbetaal nie. Steeds sink ons dieper en dieper weg. Daagliks dwing ek myself om op te staan. Ek werk selfs 'n ritueel daarvoor uit. As Maggie ry, met swart kringe onder haar oë en 'n moegheid tot in haar gebeente, pluk ek die gordyne oop, maak oop die vensters, maak op die bed, en sluk 'n lepel Bioplus. Toe die Bioplus op is begin ek liters water drink. Want binnekort sal ek wil badkamer toe gaan en my blaas is gewaarborg om my wakker te hou. Sleepvoet trek ek my tekkies aan en dwing myself by die deur uit. Die swaarste tye was dié dae toe ek letterlik nie die R8 gehad het vir 'n koerant nie.
Nou begin Maggie se stryd om ander werk te kry in alle erns. Ons besef hierdie is ons laaste uitweg. Sy moet ander werk kry, nie soseer omdat sy ongelukkig is in haar huidige pos nie, maar omdat dit al manier gaan wees om haar pensioen in die hande te kry en uit hierdie moeras te ontsnap. Elke sondag koop ons die koerante en elke maandag begin sy haar cv uitstuur. Vir weke en weke gebeur daar niks nie. Later registreer sy op 2 groot "career web sites" en hulle laat jou weet as daar poste beskikbaar is. Sy doen aansoek vir poste oor die wêreld heen. Letterlik. Later sit sy haar cv op Linkedin. Sy hou rekord van al die poste waarvoor sy aansoek doen. Ongelooflik soos dit mag klink, het sy op die ou end vir meer as 'n 1000 poste aansoek gedoen oor 'n tydperk van 18 maande. Sy het ook 'n 1000 mails gekry van "dankie, maar nee dankie". 2 Grade met 23 jaar se ongelooflike ondervinding. Maar jy kry nie eens 'n onderhoud nie. En steeds kom die huurder op die plot nie te voorskyn met 'n offer om te koop nie. Elke maand het hy 'n ander storie. So kan ons nie die plot aktief bemark nie, want hy gaan mos nou die plot koop.
Daar gaan letterlik nie 'n dag om dat ek nie huil nie. Van absolute blinde paniek. Ek is totaal geïsoleer. Mense in Thabazimbi ignoreer ons openlik. Vriende hou eenvoudig op met bel en vra nie meer hoe dit gaan nie. Elke dag raak jou "friends list" op facebook kleiner soos wat mense jou stilweg un-friend. Ek kom nêrens, ek sien vir dae lank geen ander mens as Maggie nie. Ek wil amper nie die foon antwoord as sy my bel nie. Ek vrees haar tuiskoms. Want dan word ek gekonfronteer met die dag se krisisse, en ek kan niks daaraan doen nie. Daar is geen verjaarsdag- of kers- of herdenkingsgeskenke nie. Trouens, daar is skaars kos om te eet.
So strompel ons deur 2013. Ek bly staande bloot vanweë die feit dat ek van iewers die genade ontvang om elke dag nog te gaan hardloop. Op 20 Junie 2013 tel ek vir Tinky in die pad op as 'n babahondjie en dit sou ook, in hindsight, my redding wees. Ek veg elke dag teen die begeerte om eenvoudig my kop onder die kussing in te druk en net nooit weer daar uit te kom nie. Nie 'n enkele dag gaan verby sonder dat skuldeisers ons bel nie. Op hierdie stadium is elke overdraft, elke lening, elke kredietkaart absoluut uitge-max en is daar letterlik nêrens om na toe te draai nie. Dit voel asof ALLES skeef loop. Die Volvo is uit sy motorplan uit. Die laeprofielbande hou nie 'n maand op hierdie paaie nie! 8 gebarste bande later en 'n stukkende rim en 'n kar wat gediens moet word, hink ons by die Volvogarage op Rustenburg in. Ons het absoluut geen maar geen ander keuse as om daai kar in te ruil op 'n nuwe een nie! Ongelooflik soos dit mag klink. Ons het nie R20000 vir 'n diens nie en ons het ook nie R8000 vir 'n rim nie. As ons hom NOU inruil, betaal ons eers oor 2 maande die paaiement. Deal. Dan het jy so pas daar uitgestrompel, dan kry 'n hond bosluisbytkoors. Felix die kat word amper doodgebyt en spandeer 2 weke in die veearts se ICU. Tinky kry die vreemdste toestand bekend as "Legg Calve Perthes Disease" en haar femurkop van haar linkerkantse agterbeentjie moet afgesny word. Bismarck ontwikkel artritis en moet spesiale kos en poeier en pynpille kry vir die res van sy lewe. En so hou dit net aan en aan. As ek vir vriende vertel van al die "bad luck" wat ons tref op 'n absolute daaglikse basis, glo hulle ons amper nie. En ek neem hulle nie kwalik nie want ek sukkel self om dit te glo........

Sent from my BlackBerry® wireless device








Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking