2014-12-11

Episode 1

Hierdie is MY storie. Dit is hoe EK dit ervaar en beleef en deurleef het. Dit is nie 'n uitnodiging tot debat nie. Dit is ook nie 'n uitnodiging om die feite, aldus MY herinnering daarvan, te betwis nie. Dit is ook allermins 'n poging om enige blaam te plaas of blaam te ontduik. Dit is ook nie bedoel om enigsins eens gelees te word nie. Dit is, na alles, tog MY blog, waarop ek kan sit wat EK wil. Dit is bedoel om hierdie boek finaal vir MY toe te maak.
Jare gelede in die Sosiologieklas het ek vir die eerste keer geleer van die Johari venster. Stel 'n vierkant voor. Gedeel in kwarte. Links bo beslaan alles wat jy van jouself weet en wat ander mense ook van jou weet, bv jou naam, ouderdom, waar jy woon en werk ens. Regs bo se blok beslaan wat jy van jouself weet maar ander mense NIE van jou weet nie. Dit is nou alles oor jou privaatlewe en wat jy doen en dink wanneer jy op jou eie is en wat niemand anders van jou weet nie. Links onder se blok is diƩ deel wat ander mense van jou weet wat jy NIE van jouself weet nie, soos bv kollegas of vriende of wildvreemdelinge se idees of opinies van jou. Regs onder is die blokkie wat my al jare lank fassineer: wat jy nie van jouself weet nie en wat ander mense ook nie van jou weet nie. Dit is nie iets wat jy oor kan spekuleer nie, dit is bloot 'n geheim en 'n enigma. Jy kan bloot vrae vra hieroor en daaroor wonder, maar jy kan nooit iemand anders se ervaring oorplant op jouself nie. Byvoorbeeld: wat sal jy doen as jy in 'n vliegongeluk is? Of as jy verkrag word? Of as jou kind doodgaan? Of as jy ontvoer word deur terroriste? Die enigste manier hoe jy hierdie blokkie kan "toets" en meer van jouself te wete kom, is byvoorbeeld deur sport. Of enige tydverdryf waar jy jouself aan ekstreme omstandighede blootstel. Hoe groter en meer bekend hierdie blokkie word, hoe beter ken jy jouself en jou beperkinge en tekortkominge. Sekere ekstreme omstandighede kan natuurlik nie gesimuleer of nagemaak word nie, en 'n mens wil ook nie. Dis hoekom mense hulself op veilige maniere "toets". En dit is hoekom ek so mal is oor hardloop en fietsry. Ek weet ek het 'n "mental strength" aan my wat my in fisiese toetse kan laat vasbyt lank verby die logiese afsnypunt. Dis nie iets wat oor 'n kort tydjie aangeleer word nie. Dit kom met jare se deelname en oefening. Dit maak dat jy jouself verby die "normale" grense van moeg of naar of koud of warm of honger kan druk. Vir party mense, en dit is ook reg so, is so iets gladnie belangrik nie. Hulle het absoluut geen begeerte om hulle fisiese of emosionele grense te toets nie. Hulle verkies 'n veilige en voorspelbare bestaan. Dis reg so. Ek is net nie een van hulle nie.
Dit is ook hoekom dit vir my so interessant is om so onlangs as die 16de November van hierdie jaar, weer deel te neem aan 'n fietswedren oor 95km en dan by jong, sterk, gespierde mans verby te ry terwyl hulle hul fietse stoot..die moedeloosheid op hul gelaat uitgekerf. En dan weer te hardloop en 'n ou met een been te sien by jou verbyskuif met die vreemde metaalklank van sy prostese, of die bejaarde met sy kenteken op sy frokkie wat sy ouderdomsgroep weergee: 75 jr, 80 jr, 85 jr.....Dan wonder ek wat is dit wat die een mens voortdryf en die ander een op die stoep laat sit as hy 40 word? Dit is ook hoekom ek artikels en berigte opslurp oor 'n ou soos Pierre Korkie, of Callie en Monique Strydom, en hoekom ek programme kyk soos Survivor. En dis nie altyd die mense van wie jy dit noodwendig sal verwag wat as leiers of survivors of wenners na vore tree nie. Jy kan die kind in die beste skool in die land kry wat op straat opeindig, vrot van die dwelms, en dan kan jy die townshipkind kry wat na 4 vigswesies omsien, sonder 'n ma of 'n pa, by 'n kers moet sit en swot en daar uitstap met 6 onderskeidings in matriek en 'n ingenieur word by NASA. Wat is dit? Wie het almal daai geen? Hoe sal ek vaar as ek in 'n situasie gesit word waarin ek nog NOOIT in my lewe was nie? Waar die mat heeltemal onder my voete uitgeruk word? Sal ek sink? Of sal ek swem? Kom ek vertel julle.......
Sent from my BlackBerry® wireless device

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking