2014-12-16

Episode 7

Soos wat iemand hier lees, kan hy of sy dalk in sy agterkop dink: Maar hoe is so iets moontlik? Hoe kry mense hulleself in so 'n penarie in? Hoekom tref hulle nie voorsorg nie? So iets sal tog nooit gebeur met my nie, sal dit? Kan dit? Kom ek antwoord jou vraag met 'n teenvraag. Veronderstel jy het elke finansiële hulpbron tot jou beskikking uitgeput. Elke kredietkaart, elke lening, elke oortrokke fasiliteit, elke verband, elke vriend. Veronderstel verder, jy het nog steeds al jou maandelikse verpligtinge om na te kom. Medies, pensioen, huisverband, karpaaiement, kos, petrol, versekering plus al daai nuwe skuld wat ook nou gedelg moet word. Veronderstel jou totale salaris gaan vir hierdie doel. En veronderstel dan die laaste kraantjie van kontanvloei droog finaal op. Wat sal jy doen? Wat kan jy doen wat ons nie reeds gedoen het nie? Kom ek vertel jou wat EK gedoen het.
Met Pietie en Nicole wat hul veilingbesigheid in Brits verkoop het, om te kan article in Pretoria, het 'n baie belangrike bron van inkomste vir my verlore gegaan. Nie alleen kon ek nie meer daar werk nie, ek kon ook nie meer my goedjies daar verkoop nie. Toe Maggie einde April sê die huurder is van die plot af en nou is die heel laaste onbetroubare bron van inkomste daarmee heen, toe weet ek, nie net sal ek moet goed soek om te verkoop nie, ek sal ook 'n nuwe afsetpunt moet kry.
Ek het met die honde gestap toe sy my bel om dit te vertel. Ek het al die pad huistoe gebid. Toe ek by die huis instap toe stap ek reguit na my bergfiets toe. Ai man......my Merida waarop ek so trots was. Saam met die fietsryskoene, want wat help dit ek hou dit? Op facebook was ek op groepe ingeteken "Swartklip Limpopo" en "What's happening Thaba". Ek het daai fiets gepolish en 'n foto geneem en dit gepost. 'n Halfuur later is hy verkoop. En so begin ek toe maand vir maand alles verkoop wat ek het. My gholfstel. Gholfskoene. Ek het in daai tyd 4 x Pretoria toe gery om elke stukkie goud en silwer wat ek in elke laai en kas kon uitkrap te gaan verkwansel. Hoekom 4 keer en nie alles sommer op een slag nie? Want elke keer hou jy, om sentimentele redes, vas aan daai laaste stukkie wat jy by jou ouma en ma gekry het. En soos die tyd aanstap besef jy jy kan ongelukkig nie sentiment eet nie. Sentiment was 'n luuksheid wat ek nie kon bekostig nie. Ek het alles verkoop. My harde fietstas. Die leerbank. Elke ornament en oudheid in hierdie huis. Ek het een nag begin om elke stukkie koper skoon te maak saam met elke stukkie oudheid wat ek oor baie jare versamel het. Tot 4 uur daai oggend het ek dit gesit en blinkvryf. Elke keer as die mense my vra hoekom ek iets verkoop, dan antwoord ek net so in vae terme dat ons huis te vol is, en as Maggie 'n ander werk kry sal ons na 'n kleiner plek moet trek. So verkoop ek my laptop en alles wat ek my hande op kan sit. Later begin ek met die meubels wat nie oudhede is nie, om te kyk hoe lank ek ten minste aan die oudhede kan vaskleef. Eetkamerstelle, kantoorstoele, lampe, tuingereedskap, kroegstoeltjies, die broodmasjien, die liquidiser..... Niks word ontsien nie. My enigste 2 skilderye van waarde laat ek op 'n veiling in Johannesburg verkoop. Hierdie proses hou ek vol vir omtrent 6 maande lank. Elke sent word gebruik vir kos en petrol. Elke oggend staan ek op en stap deur hierdie huis en maak elke kas en laai en deur oop en kry iets om te verkoop. Elke goue munt wat oor jare versamel is moes ek verkoop. Ek het alles binne in die wendy house verkoop. Toe verkoop ek die wendy house. Op daai stadium gaan ons nèrens. Ons kom nérens. My kar staan toe al maande lank met 'n stukkende alternator. As ek gaan hardloop in die oggende, hardloop ek vroeg genoeg by Spar verby voordat hulle oopmaak sodat ek 'n koerant kan vat as dit klaar afgelewer is. Omdat ek nie R8 het nie. As ek iets verkoop kry dan gaan gee ek die Porra sy R24 of wat ook al die bedrag was wat ek hom skuld. Hy't geweet dis ek wat die koerant vat. Vir meer as 2 jaar lank, tot op hierdie dag nog, het ek en Maggie nie klere of skoene of onderklere of beddegoed of gordyne of handdoeke of 'n badkamermatjie vir ons gekoop nie. Hierdie sal hopelik haar laaste Bosveldsomer wees met 'n paar enkelstewels wat ons by 'n vriendin gekry het. Dis ongelukkig 'n Nr 6. Ek dra 'n Nr 7 skoen en Maggie 'n Nr 5. Sy dra dit met dik sokkies en ek dra dit met dun sokkies. Ons praat van "die boots", soos in: Kan ek vandag "die boots" aantrek?
Op daai stadium oorleef ons op R150 se kos 'n week. No-name brand pasta van Shoprite, R9 'n pakkie. 2 bruinbrode. 500 gr bruismeel. 500 gr mince, opgedeel in 2 sakkies van 250 g elk. 12 eiers. Melk. Aartappels. Oats. Op daai stadium smeer jy lankal nie meer margarine op jou brood nie. Maggie se ma is in hierdie dae Kanada toe vir 3 maande en ons het haar kat opgepas. Die kat het met sy eie katkos hier aangekom. Hill"s Prescription Diet for Siamese cats. Ons mongrels het lekker saamgëeet en na die 3 maande kon hulle ook Chinees verstaan. Die ergste was om vir die 2 groot honde brood te moes gee met 'n teelepel marmite in warm water aangemaak wat ek daaroor gegooi het, saam met elke kriesel oorskietkos wat ons kon spaar. Tinky het eenvoudig uit my bord uit gëeet. Ek is met julle doodeerlik as ek sê ek het party oggende 3 uur wakker geword van hongerpyne. Dan loop 'n mens se gedagtes darem bitter ver.......
Geld vir toiletries was daar natuurlik gladnie. Elke goodie bag wat ek in my lewe gekry het by 'n fiets- of 'n hardloop geleentheid, moet nou diens doen. Daar is eenvoudig nie geld vir deodorant of showergel of sjampoe nie. Maar 'n mens leer vinnig. Sjampoe werk beter vir die lyf as wat showergel werk vir die hare, dus koop ons net sjampoe en nie showergel nie. Daar is nie meer sprake van jel of styling wax vir die hare nie. Justine se bio-oil werk in die hare. Facials en besoeke aan 'n haarsalon is ook net 'n baie vae herinnering. Nola sny my hare as ek haar sien. Hotelsepies in die stort en reuklose, dun, simpel, gastehuis lyfroom aan die gesig. Geen toner. Geen facewash. Ek het geweet wat elke los toiletrol by elke winkel en hoekkafee op hierdie plek kos. Die enigste goed waarsonder ons trouens NIE kon klaarkom nie, was skottelgoedseep, waspoeier, en toiletpapier. Sta Soft is 'n vae herinnering. So ook goed soos lugverfrisser, Doom, Peaceful Sleep. Goed wat ek vir baie jare sonder om EEN maal daaroor te dink bloot in 'n trollie sou inlaai.
So sleep ons elke dag voort. En iewers te midde dit alles is daar elke maand uitkoms. Twee maal help 'n gemeente ons van wie ons nie eens lidmate is nie, trouens, ek was in my lewe nog nooit in daai kerk nie. Nog 'n baie belangrike les wat ek geleer het: Moenie dink die mense wie JY gehelp het in jou lewe, is noodwendig die mense wat JOU nou gaan terug help nie. Soos die spreekwoord sê: "Give without remembering. Receive without forgetting". En dit was 'n bitter harde en moeilike les wat ek moes leer. Want ek is 'n mens. Ek het in opstand gekom. Hoe kan so iets met MY gebeur? Na alles wat ek AL die jare vir soveel mense gedoen het? Waar is daai mense nou? Werp jou brood op die water. Dit SAL na jou toe terugkom. Nie wanneer jy dink nie, en ook nie in die vorm wat jy verwag nie. Maar dit SAL terugkom. Maar eers as jy van alle trots gestroop is. Van alle gramskap en gierigheid en luiheid en wellus en afguns en oordaad. As jy van aangesig tot aangesig gekonfronteer word met die "seven deadly sins". As jy figuurlik gesproke naak staan voor God en voor jouself en jy nie meer die pad vorentoe kan sien nie. En as daar dan net een rigting is waarin jy kan kyk, en dis boontoe. Dan sal die gety vir jou draai. En so het hy uiteindelik ook vir ons begin draai......
Sent from my BlackBerry® wireless device



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking