2014-12-12

Episode 2

Eenkeer het ek in die koerant gelees van 'n kind wie se "maats" sy broek afgetrek het in 'n skoolbus. Die ouers dagvaar toe die broekaftrekker vir miljoene rande. Almal het vrae gevra oor die belaglikheid van die bedrag, al dan nie. Waarop die slagoffer se prokureur antwoord: Hoe kan enige ander mens 'n prys sit op iemand se waardigheid, of die vlak waartoe sy eer gekrenk is? Die een persoon sal selfmoord pleeg na so gebeurtenis, terwyl die volgende ou sy broek vrywillig sal aftrek. Dit is alles subjektief. Net so het ek ook my verblyf hier op Swartklip beoordeel. Vir die een persoon is dit hemel op aarde, vir die ander persoon 'n plek waar jy elke dag moet veg dat die donker wolke in jou gemoed nie heeltemal jou sig versper nie. Dit maak nie die een persoon reg en die ander een verkeerd nie. Dit maak ons net verskillend.
Kom ek sit julle gou in die regte tydlyn in. Ek kan mos nie 'n storie verstaan as ek nie weet wanneer sit gebeur het en wat voor dit gebeur het en wat daarna nie!
Ek is in 1962 gebore. Grootgeword en skoolgegaan in Port Elizabeth en in 1979 matriek geskryf. Universiteit toe. In Februarie 1982 getrou met my kinders se pa. Pietie is gebore in Oktober 1982 (go figure), Nola in Augustus 1984. Rondgetrek op al Goldfields se myne as gevolg van sy loopbaan. Intussen my graad voltooi deur Unisa. Toe 'n Honneursgraad voltooi, en toe weer van vooraf met 'n BA te begin en dit ook te voltooi in 2008. Van hom geskei Desember 1995. Toe bly ons sedert 1993 in Thabazimbi. Getroud met my tweede man in 1997. Vanaf Mei 2008 tot April 2011 in Kaapstad gebly. Mei 2011 teruggekeer na Thabazimbi. Swartklip toe getrek September 2012. Van tweede man geskei Desember 2012. Met Maggie getrou Maart 2013. Okay probeer nou bybly. Dit sal duideliker word soos ek aangaan.
Toe ek in 2008 in die Kaap agterbly en my man teruggaan Thabazimbi toe om die besigheid te gaan probeer red, was die huwelik alreeds verby. Pietie was toe ook in Thabazimbi en hy en Nicole het ook in die besigheid gewerk. Pietie vir amper 'n jaar sonder 'n salaris, maar darem is sy maandelikse uitgawes gedek en hy het kos gekry en 'n dak oor sy kop. Maar dit was duidelik dat hy al toe sy eie ding wou doen. Ek het sedert Augustus 2008 in die Baljukantoor van Kaapstad gewerk. Vanaf Mei 2008 tot Oktober 2008 het my man nie juis 'n poging aangewend om enige van die planne wat ons voor die tyd gehad het en wat ons in Kaapstad sou begin, te implementeer nie. Toe hy in Oktober 2008 dus teruggaan Thabazimbi toe, was dit vir hom 'n uitkoms. In Augustus 2010 is ek Thabazimbi toe om Nicole se familie te gaan ontmoet voor haar en Pietie se troue in September 2010. Gedurende hierdie tyd het ek in Maggie vasgeloop. Ek het haar geken, bloot vanweë die feit dat almal in Thabazimbi mekaar ken en ook omdat sy saam met Pietie gholf gespeel het. Ek is terug Kaap toe, weer gekom vir die troue, en weer terug Kaap toe. Tydens hierdie laaste trippie het Pietie en Nicole my gesmeek om terug te kom Thabazimbi toe omdat die besigheid ten gronde gaan en hulle eenvoudig nie kon bybly nie. Hy wou ook begin swot en sy eie veilingbesigheid op die been bring en hy was moeg om vasgevang te wees in wat ooglopend 'n doodloopstraat was. Ek het hom belowe ek sal kennis gee by my werk in die Kaap en net my huis se huurtydperk uitbly en dan terugkom. Einde April 2011 is ek toe, met 'n bitter swaar hart, na 3 wonderlike jare in die Kaap, terug Thabazimbi toe. Ek stap toe daar in 'n administratiewe nagmerrie in. Na so 4 maande se dag en nag werk kon ons weer die lig sien. Ek en my man het nie veel vir mekaar te sê gehad nie, hoofsaaklik vanweë sy onvermoë om enige fiskale dissipline toe te pas en die besigheid tot op die rand van bankrotskap te "bestuur". Dit het my mateloos gefrustreerd gelaat. En hier vat ek absoluut NIKS weg van die feit dat hy 'n wonderlike man en mens en pa is nie, en meer van 'n pa was vir my kinders as wat hul eie pa in 'n miljoen jaar kan hoop om te wees! Ek berig bloot oor die stand van die besigheid.
Tydens September 2011 kom Anne-marie (my nie-amptelike kind) na my toe met haar eie stuk ongelukkigheid, en na 'n baie lang storie gaan haal ek haar op 7 Oktober 2011 by Skilpadnek grenspos anderkant Zeerust in Botswana. Vir haar en haar 2 kinders. Dis nou 'n kind wie se matriekafskeid, matriekvakansie, verblyf in Engeland en my kuier daar, haar jarelange diens in ons kantoor, haar mondigwording, verlowing, troue, swangerskap, kraam, en emigrasie ek hou vir hou saam met haar deurleef het. So dit is net ons DNA wat verskil. Sy is my kind andersins. So begin haar soektog na 'n werk en 'n blyplek en basies 'n nuwe lewe. Op daardie stadium het ons natuurlik nie geweet wat in my eie lewe gaan gebeur en dat sy en die kinders op die ou end 16 maande by my gaan bly nie!
Op 20 Maart 2012 gaan ek en die einste Anne-marie na die kunstegrot toe in Thabazimbi om vir Chris Chameleon te gaan kyk. Daar loop ek toe nou weer in Maggie vas. Die eerste keer sedert Augustus 2010. Ons gesels lekker en ek besef sy is alles wat ek nog OOIT in 'n mens gesoek het. Klein detailtjie was dat sy 'n vrou was natuurlik. Ek het dit maar by die horings gepak en die bom gelos. Nou wel nie die volgende dag nie, maar gou genoeg. So los sy ook haar bom in haar verhouding en op 16 Mei 2012 trek sy uit haar privaat huis uit in Thabazimbi en sy trek Swartklip toe. Na die huis waar ons tans nog bly. Ek en Anne-marie en die 2 seuntjies trek hiernatoe einde September 2012. Ek werk steeds vir my man. Pietie en Nicole is teen hierdie tyd al in Brits waar hulle 'n suksesvolle veilingbesigheid bedryf. Nola is by haar, op daardie stadium, verloofde op die plaas by Dwaalboom maar hulle is sterk op pad Kaap toe. Ek en my man kom ooreen dat ek sal aanhou werk en dat die besigheid sal voortgaan soos normaalweg en dat ek 'n billike salaris betaal sal word. Ek het die finansies gestroomlyn en alles was op 'n gesonde grondslag. Ek was absoluut deursigtig met alles! Ek het Anne-marie se kar, wat ek vir haar gegee het, se versekering afgehaal van sy versekering, asook Nola se kar s'n, ek het my motorfiets verkoop, ek het my eie polisse en medies en voertuie gehad en ek het ook Anne-marie se salaris betaal. Ek het swart op wit aan hom gewys dat ek NIKS wil hê nie, behalwe my familiemeubels en persoonlike goed waarmee ek 15 jaar gelede die huwelik ingekom het. Ek het trouens nog die bakkie, wat myne was, se "change of ownership" papiere geteken sodat hy 'n voertuig sou hê. Ek het HOM gedagvaar vir 'n egskeiding sodat hy dit nie hoef te betaal nie en ook nie Hooggeregshof hoef toe te gaan nie. Daar was absoluut GEEN kwade gevoelens nie. Ek het voortgegaan om daar te werk Oktober en November van 2012. Die atmosfeer was inderwaarheid beter as ooit. Die spanning was weg en ons het altwee 'n pad vorentoe gesien wat vir ons albei sou werk. Donderdag 6 Desember is ek Hooggeregshof toe in Pretoria en die egskeiding is toegestaan. Vrydag 7 Desember slaan ek my rekenaar oop en probeer om by die besigheid se bankrekening in te log, iets wat ek heel eerste elke dag doen om die betalings te kontroleer en die krediteure se rekords daarvolgens aan te pas. Maar my password werk nie. Ek steur my nie TE veel daaraan nie. Ek probeer toe inlog by die e-mail, die tweede ding wat ek daagliks doen, om al die navrae dadelik te antwoord en op te volg. Ook hier werk die password nie. Ek vermoed steeds niks nie. Ek ry toe na die prokureurskantore om maar die nuwe werk te gaan haal. Hier loop ek orals vas in 'n baksteenmuur. Nou begin ek stadig maar seker 2 en 2 bymekaar te tel. Orals word ek meegedeel dat geen werk hoegenaamd vir my gegee moet word nie en dat ek trouens nie meer werksaam is by die Baljukantoor nie. Ek stap toe oor die pad Poskantoor toe. Ek probeer die posbus oopsluit om die pos uit te haal, maar die sleutel pas nie. Ek gaan in, en 'n uiters stroewe Posmeester deel my mee die slot is die vorige dag verander en ek moet asseblief die sleutel wat ek het teruggee, aangesien die posbus nie aan my behoort nie. Ek bel toe my nuwe eksman, totaal uit die veld geslaan. Ja baie dankie vir jou diens die afgelope 16 jaar en dit sal dan nou al wees. Ek vra hom wie dan nou die werk gaan doen? Hy gaan dit self doen. O, ek sien. Ek ry terug Swartklip toe. Op daardie stadium het ek R12000 'n maand se aftrekorders. Anne-marie kan nie werk kry nie. Sy en haar 2 kinders bly by my. Nou wat nou?
Sent from my BlackBerry® wireless device



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking