2014-12-14

Episode 5

So kom Nola se troue al nader. Sy kry ook nie beter werk wat beter betaal nie, en Christiaan se besigheid is nog op wankelrige bene. Sy neem toe nou maar die onsmaaklike stap om haar pa reguit te vra of hy bereid gaan wees om enige bydrae te lewer? Nee. Dieselfde antwoord kom ook van Christiaan se pa. Trouens, laasgenoemde was nie eens op hulle troue nie. Nola se pa was "toegelaat" om so 20 minute op haar troue te wees. Hy verskyn nêrens op 'n foto nie en was ook nie by die onthaal nie. Hy het behalwe vir die feit dat hy nie 'n sent bygedra het nie, nie eens vir hulle 5c in 'n kaartjie gesit vir 'n trougeskenk nie. Vergun my hierdie stukkie bitterheid. Ek dink ek is dit veroorloof. Dankie vir Pietie en Nicole en vir Esbé Miller en vir haar tannies Erla en Nola wat hierdie las help dra het. Ek sal dit saam met my graf toe vat. Maggie het die troukar gery. Ons eie kar. Ek het voor gesit. Nola en Anne-marie het agter gesit. Soos in die ou dae. Pietie het sy sussie ingewag toe daai kar stop. 50 gaste in totaal. My wolfpack almal daar: Esti, Mickey, Amolene, Anne-marie, Helen, Erla, Nola, Esbé, Yolandi, Nicole.....daai Gideonsbende wat ek met my sal saamvat oorlog toe. En voor het Chris du Preez gestaan. My skoolvriend van 1975 wat hulle gaan trou. 'n Dominee wat my weer laat glo het en wat ek vir die res van my lewe voor in sy skuld sal wees en hom nooit sal kan terugbetaal of sal kan teruggee vir wat hy in my lewe beteken het nie.
Op pad troue toe het ons R900 kontant by ons. Dit is dit. Daar is nie op ons naam of op enige ander plek 'n sent geld nie. Niks. Ek het nie geld vir nuwe trouklere vir my enigste dogter se troue nie. Ek het 'n wit hemp se roesvlekke van die wasmasjien met Tippex uitgeverf agter op my hemp. Ons het absoluut geen idee waar ons gaan petrolgeld kry om terug te kom by die huis nie. Maar niemand weet hiervan nie. Ons gesels en grap en lag en lê elke nag wakker. Op pad Grootbrak toe, breek die sleepwa se as op 'n sondagmiddag 5 uur in Graaf-Reinet. Ek het daai dag by daai kar se venster gesit en uitkyk hoe Maggie sukkel om iemand op te spoor om ons te kom help, hoe hulle die werkswinkel kom oopsluit, hoe sy daar buite staan tot dit donker word. Toe kom sy na die kar se venster toe na 3 uur en sê vir my: Haal R750 uit. Ons het in stilte verder gery en laat die nag eers in Grootbrak aangekom. En ek het vir die eerste keer ernstig begin twyfel in my geloof. Of wat daarvan oor was.
Die volgende dag het ek en Maggie weer onsself opgetel en koppe bymekaar gesit. Ons het nou al die amptelike weë uitgeput. Ons aftrekorders is maande agterstallig. Ons kan nie eens ons banksake doen nie, want die selfone waarna die bank pin toe gestuur moet word, is gevries en buite werking. Ons het nie internet nie. Ons besef toe ons sal nou nie-amptelike weë moet ondersoek. Sy gaan nou vir vriende begin vra vir geld. Dis al begin 2014. Die plot behoort binnekort te verkoop en sy behoort mos binnekort 'n ander werk te kry. So loop ons ons vas. Jammer, ek moes in die droogte ekstra voer koop vir my beeste. Jammer, ek moes so pas 2 vliegtuigkaartjies Australië toe koop. Nadat ons nie meer weet waarheen om te draai nie, bel sy 'n ou vriendin van Phalaborwa se dae. Vir wie ek en sy al so 2 x gaan kuier het vandat sy in Kleinmond bly. Maggie begin nog om haar storie te vertel, toe maak daai vrou haar stil. Sy sê sy wil nie die storie hoor nie, sy soek net die bankbesonderhede. Sy klim in haar kar, ry dorp toe, gaan bank toe, kanselleer die kosmetiese operasie waarvoor sy die geld gespaar het, en sonder om te blik of te bloos betaal daai vrou vir ons R50000 in ons rekening in. "Betaal my terug die dag as jy kan". Dit was haar woorde.Sy weet wie sy is, want sy lees ook nou hier. Tot die dag van my dood sal ek nooit jou absolute en onvoorwaardelike liefde en empatie van daardie oomblik vergeet nie.
Daai geld is genoeg om agterstallige skuld in te haal, maar dit het nie die probleem opgelos op langtermyn nie. Toe ons terug is van die troue toe besef ons ons sal nou moet besef "this is as good as it gets". Die plot gaan nie verkoop nie. Maggie gaan nie 'n ander werk kry nie. Die skrif is aan die muur. Op daai stadium is ek amper voltyds besig om vir kompetisies en blokraaie in te skryf in die hoop om geld te wen. Besef julle die vlak van 'n mens se desperaatheid as dit op daai stadium die enigste ding is wat vir jou lyk na 'n "viable option??" Ons het letterlik nie eens die geld gehad om onsself vrywillig te laat sekwestreer nie. Want jy moet 'n persentasie van al jou uitstaande skuld aan die kurator oorbetaal. Ons was te bankrot om amptelik bankrot verklaar te word. Ons enigste alternatief was om onder "debt review" te gaan. So begin die pynlike en uiters lang administratiewe proses om dit te bewerkstellig. Sonder om julle te verveel met hierdie detail, na 2 maande en derduisende oproepe en e-mails is ons altwee onder "debt review" geplaas. Maggie moet elke maand 'n enorme bedrag oorbetaal aan Debt Busters. Daar bly 'n gedeelte van haar salaris oor. Dit is op die sent na net genoeg om die aftrekorders te dek wat buite die spektrum van skuldberading val, soos jou kar se versekering, jou polisse ens. Lg is mos nou nie skuld per se nie. Ons enigste hoop is op die R10000 per maand wat die huurder op die plot betaal. Daarvan moet ons petrol, klere, kos, dierekos, ALLES koop. Maartmaand 2014 haal ons asem. Ons het fokol oor. Ongelukkig is "niks" nie beskrywend genoeg in hierdie sin nie. Maar somehow kom ons deur daai maand. Die "debt review" sal oor 3 jaar afgehandel wees. Dan is ons skuldvry. Die plot is in die mark. Maar die teistering hou nie op nie. Voornemende kopers word gebel. Afgeskrik. Einde April is daar weer 'n "koop op die tafel". Die huurder trek uit. Die koop val deur die mat. Die koper is gebel en vertel daar is 'n "interdik" teen die verkoop van die eiendom en die persoon wat moet deel in die wins moet toestemming gee tot die verkoop en sy het besluit die prys is te laag. Ons kon al hierdie teistering en aantygings in 'n hof gaan beveg het. Ons weet dit ook. Maar ongelukkig het ons nie 'n span prokureurs gehad om pro bono vir ons op te tree nie. Bottom line? Geen huurder. Geen koper. Geen R10000. Geen hoop. Geen plan. Saam met dit? Die myn waar Maggie word gaan verkoop word. Die skag waarop sy werk gaan in sy geheel gesluit word. Sy sit heel moontlik sonder werk. Sy werk nog net 8 jaar hier. Haar pakket sal 'n week se salaris vir elke jaar diens wees, plus die bietjie verlof wat haar toekom. Nou hoe nou, wat nou? Dit alles vertel sy vir my terwyl ek met die honde in die veld stap, en net daar begin ek 'n plan uitbroei. Ek sal graag baie edel woorde wou gebruik op hierdie stadium, maar ek moet nou maar eerlik wees en die enigste woorde wat ek op daai stadium kon vind, met julle deel: Fok dit! So maklik kry julle ons nie onder nie!!!!!
Sent from my BlackBerry® wireless device

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking