2014-12-15

Episode 6

Ons altwee besef toe die kalf is nou regtig in die put. Maggie leen, weereens, R20000 by 'n vriendin om net die huisverband en die aftrekorders te dek vir daardie maand. Ek weet sy lees ook hier. Mag die Here gee dat ek eendag 'n klip uit jou pad uit kan rol. Die huurder is weg van die plot, die plek staan leeg, ons kan nie nuwe huurders insit nie want ons wil dan nou die plek verkoop! Die vloere in die kombuis lig op, die swembadpomp hardloop droog en die swembad is pikswart, die boorgatpomp loop droog en die dam is gekraak. Alles val uitmekaar uit en ons het nie 'n sent om dit mee reg te maak nie. Elke prys wat ons vir die eiendom vra, word ons deur 'n prokureursbrief ingelig dat dit onaanvaarbaar is vir die persoon wat moet deel in die wins. Uiteindelik kry Pietie vir ons 'n prokureur wat sy sout werd is. Met geleende geld bring hy 'n aansoek in die hof dat Maggie se "commercial interest" swaarder weeg as hierdie parasiet se "personal interest". Die aansoek word toegestaan en die plot is in die mark vir R1.6 miljoen. Ver benede sy waarde van R2.1 miljoen waar ons oorspronklik begin het. Die uitstaande verband is R1.2 miljoen. As dit ooit tot verkoop kom is ons deel van die wins maar
R200 000,00. Elke sent sal net so aan mense terugbetaal moet word. Maar dis ook okay, ten minste sal ons dit dan hê om te kan terugbetaal. Maar al hierdie planne is steeds langtermynplanne. Dit is nie goed wat op daai dag gaan realiseer nie. En ons probleem is NOU.
So het daar ook tussendeur goeie goed gebeur. Nola het 'n fantastiese werk gekry. Christiaan se besigheid het maandeliks sterker geword. Nicole het 'n fantastiese werk gekry. Pietie het 'n firma gekry by wie hy sy articles kon gaan doen. Baie vriende het ons gehelp. Mense wat kom kuier het en vragte vol kos saamgebring het. Mense wat geld in my rekening inbetaal het. Mense wat hier gekuier het en R200 op die wasbak gelos het. Airtime wat op my foon verskyn het. Jy kom op 'n punt waar dankbaarheid skaamte en trots verbysteek. Dis waar ons nou was. Ek sal hierdie mense vir die res van my lewe saam met my dra, jul name op my hart gegraveer. Ek het in hierdie tyd gesien van watter stoffasie my kinders gemaak is. Pietie wat as 'n article klerk R4500 per maand verdien het, en vir sy ma gehelp het. Wat alles wat hy het, verkoop het om die geld vir my te gee. Nicole wat hom hou vir hou daarin bygestaan het. In die meer as 4 jaar wat hulle al getroud is, het hulle nog nooit op hulle eie gebly nie. Hulle bly steeds in 'n klein kamertjie by sy skoonouers. Ook mense wat van goedheid aanmekaar gesit is, en meer vir Pietie gedoen het as wat menslik van enige skoonma of skoonpa verwag kon word. Dankie vir die naweek in die wildtuin wat Herman Barnard, Pietie se skoonpa, moontlik gemaak het. Dankie vir die Prado vol petrol van sy skoonma, Anita Barnard, waarmee ons heel naweek kon rondry. Dankie Pietie en Nicole dat ons vir 3 dae van alles kon vergeet. Dankie vir die 4 uur lange wildritte in die nag want julle wou hê ek en Maggie moes die Groot 5 almal sien. En ons het! Dankie vir elke ete wat julle voorberei het en alles wat julle vir ons gedoen het. Ek sal daai naweek ook saam met my graf toe vat. Hulle doen aansoek vir 'n verband. Hulle kry net 'n gedeelte en hy moet binne 6 maande
R100 000,00 bymekaarmaak om te betaal as die eiendom in hulle naam geregistreer word. Hy begin, ook deur sy skoonpa, wildsveilings te hou by Aucor Wildlife Auctions. Nicole begin ook daar werk. Dit is op saterdae in Vaalwater. Dit is bo en behalwe sy eie werk en sy voltydse Llb studies, waarin hy fantasties vaar. Teen Januarie wanneer hulle daar intrek, sal hulle die R100K hê. Hoe sê hulle? Cometh the moment, cometh the man. En daarby wil ek voeg: Agter elke man.....
Daar was Nola wat haar kar verkoop het en die geld vir my gegee het. Wat elke maand al my aftrekorders betaal het. Wat vir my 'n vliegtuigkaartjie Kaap toe gekoop het om vir 2 weke net van alles te vergeet. En my daar soos 'n koningin getreat het. Hoe die bordjies darem verhang is.......who could've thought! Ek wat alles al die jare vir almal gesponsor en betaal het. Wat nou vir 'n Wimpykoffie in 'n kind se oë moes kyk. En die grasie en waardigheid en empatie en liefde waarmee daai kind dit gedoen het. Hoeveel keer het hulle vir my dieselfde woorde oor en oor gesê: "Mamma, moenie worry nie. Alles sal regkom. Ons sal nie dat jy swaarkry nie. Ons sal 'n plan maak." Nola wat met haar nuwe payslip 'n kredietkaart gaan kry het. Maand na maand vir ons kos gekoop het. Ek kan die Here nie genoeg dankie sê vir die mense wat julle geword het nie. En om te dink, as hierdie swaarkry ons nie getref het nie, het ek hierdie deel van julle dalk nooit geken nie. Wat 'n ongelooflike verlies sou dit nie wees nie!
Op hierdie stadium is dit duidelik dat ek en Maggie hierdie krisis totaal verskillend hanteer. Sy raak stiller, werk harder, raak bitter, stort nie 'n traan nie. Terselfdertyd werk sy vir maande aaneen 12-uur lange skofte. Van 6vm tot 6nm. Haar gesondheid verswak so dat sy eenvoudig nie meer die krag het om te gaan gym nie. Die dormante coxsackie virus word weer by haar opgetel na vele bloedtoetse. Dit veroorsaak die "chronic fatigue syndrome". Haar lewer en haar milt pyn so dat jy nie aan haar kan raak nie. In die nagte is dit die hartkloppings. Ook maar iets waaraan jy niks kan doen nie. Ek het ook vir maande hieraan gely. Maar nie EEN dag het sy gekla nie. Nie een dag het sy van die werk af weggebly nie. Behalwe kort tye waar ons spesialiste moes gaan sien in Rustenburg en toe sy 2x die afgelope jaar moes narkose kry. Nie een dag het sy 'n traan gestort of tekens van swakheid getoon nie. Die feit dat ons net pasta, brood, meel en mince kon bekostig, veroorsaak dat sy 10kg optel. Dit maak haar nog meer depressief. Maar sy gaan aan. Elke dag doen sy haar werk. Elke dag spandeer sy ure met oproepe en mails aan agente en prokureurs en personeelagentskappe. Sy gee eenvoudig nie op nie. Sy is die een wat my troos. Hier wil ek net weereens sê dat ek myself in my hele lewe nog nooit in so posisie bevind het nie. Ek kon dit nie voorsien nie en ek kon myself dit nie in my ergste nagmerries voorstel nie.
Dis natuurlik lewensbelangrik om in 'n tyd soos hierdie steeds "normale" goed ook te doen. Anders sal jy verval in 'n put van depressie en hopeloosheid waaruit jy nooit sal kan kom nie en waar geen pil jou van sal kan uitsleep nie. Dit gee jou ook iets om na uit te sien. Ons het dus hier en daar lekker goed gaan doen. Die kinders, onder Nola se leiding, het vir ons kaartjies vir Skouspel gekoop. Al beteken dit ons moes broodjies van die huis af saamvat. Ons het ook besluit om 'n vriendin wat aan kanker ly se gholfdag te gaan ondersteun. Die inskrywing het middagete vir Maggie ingesluit, omdat sy gespeel het. Ons het eenvoudig nie die R20 gehad vir 'n boerewors roll vir my nie. Ek het my eie padkos saamgevat. Die feit dat Maggie 38 houe op die laaste 9 gate, na 'n afwesigheid van 10 maande van die gholfbaan, gespeel het, het ons siele laat vlieg. Ons het ook vir Valiant Swart gaan kyk met R30 om uit te gee in 'n restaurant. Ek het nog R4 in die kar gekry. Just as well want 'n Tab kos toe R17. Ons kon maar net sit en lag en die show geniet. So kan ek aangaan. Moenie dat so iets jou afsit om 'n dag te geniet nie. Jy sal bitter word.
In 2014 staak die myners. Vir 3 maande lank. Van 25 Januarie tot 25 April. Mense kry swaar. Mense verloor hulle werk. Maggie is in Human Resources. Dit is die stories wat sy elke dag moet aanhoor. Solidariteit Helpende Hande hou Rustenburg se mense aan die gang met kospakkies. Foto's van mense wat kilometerlange toue vorm om kos te ontvang breek my hart. Toe die werkers terugkom is dit hierdie massiewe proses van "Return to Work". Iets wat tot NOG langer ure lei. Nou werk sy snags in die bed op haar laptop. Aan my maak dit nie saak nie want ek slaap in elk geval net 3 uur per nag. Net toe almal terug is by die werk en voor produksie eens op dreef is, tref die nuus ons dat die myn verkoop gaan word. Die "declines" waar Maggie werk word in sy geheel gesluit. Sy is in beheer van die hele proses om daai meer as 1500 mense te plaas, te retain, te retrain, onderhoude te rëel met ander werkgewers, behuising, verhuising, transport, mense wat "voluntary severence packages" wil vat, alles wat so massiewe proses moontlik kan behels. Hier stap Ria de Villiers uit die skaduwees uit en word vir Maggie soos die rots van Gibraltar. Cometh the moment, cometh the woman.
Ek aan die ander kant, gaan soos 'n mak heks tekere. Ek huil my dae om. Ek hardloop en ry fiets. Ek stap myle en myle in die veld met die honde. Ek stort my hart uit op whatsapp en bbm. Ek vertel vir almal waardeur ons gaan. Ek gil en skree en verloor 14 kg. (Epic score). Ek vee hierdie huis dat die teels dun raak. Ek was en stryk en polish skoene. Ek stof af en kyk TV. Ek lees duisende boeke. Ek speel cd's en dans met die besem. Ek bid. Ek bid NIE. Ek glo. Ek glo NIE. Ek sien vir dae aaneen geen ander mens nie. Al my ondertande se brûe breek. Ek het nie geld vir 'n tandarts nie. Ek eet 2x op 'n dag oats. Die ander ete is yoghurt. Ek dink resepte uit met een koppie meel en 'n eier en melk. Afhangende van hoeveel meel ek het, kan ek 'n koek, 'n scone, 'n flapjack of 'n pannekoek vir jou maak. Ek entertain Maggie met my stories. Ek maak eers 4 uur die middag die bed op. Ek spoel my gesig af en sit my rooi neus op. As ek haar by die kar sien uitklim en hoor hoe sy in 'n dooie stem die honde groet, wil my hart breek.....
Sent from my BlackBerry® wireless device




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking