2014-12-13

Episode 4

Nola en Christiaan is op daardie stadium in die Kaap. Nola werk vir R4500 per maand. Vir 5 maande lank kry Christiaan nie 'n werk nie. Waarna hy besluit om sy eie ding te doen en gelamineerde houtvloere in te sit. Vir daai 2 kinders haal ek my hoed af, want die Here weet hulle het klippe gekou. Pietie en Nicole is nog in Brits besig met die veilings. Hy vra my om hom so paar dae 'n week daar te kom help en hy bied my 'n reddingsboei aan van R3000 per maand. Ten minste sal ons kan kos koop daarvan. Maar so lê Brits natuurlik nie om die draai nie en is dit elke keer 'n 260km round trip om dit te kan doen. Petrolgeld maak ons klaar! Maar so ontdek ek ten minste 'n manier om geld in die hande te kry.
Intussen sit ek 3 maal per week op Brits. Ek werk ook een maal per maand op 'n saterdag heeldag by Pietie se maandelikse veilings. Hier kom ek agter wat is die goed wat regtig verkoop. Ek het vir 'n jaar lank elke maand met 'n sleepwa na daai veiling toe gery in Brits. Ek het gaan leë bierbokse haal by die drankwinkel. So 10 of 15 op 'n slag. Ek het so blik aaklige groen dakverf hier ontdek, en 'n ou harde kwas. Dan verf ek daai bokse en laat dit droog word in die son. Ek het so dik rol gladwrap by my skoonma gekry. Mense......dan vat ek hierdie huis. Kamer vir kamer. Al ek en Maggie se goed wat ons oor 50 jaar gesamentlik bymekaar gemaak het. Ek pak elke ding uit op die eetkamertafel wat ek die afgelope 6 maande nie gebruik het nie. En ek bedoel alles. Elke koppie, bord, teelepel, vatlap, bakkie, houertjie, elke dingetjie in jou kas wat soos kitsch lyk of wat jy as 'n geskenk gekry het, elke lappie, elke laken, elke kussingsloop, elke kers, blaker, elke fotoraam. Letterlik alles waaraan jy kan dink. Dan pak ek so bierboks vol met sulke los goed. Dan maak ek hom mooi toe met gladwrap. Nou lyk dit heel aantreklik. Amper soos 'n gelukspakkie wat jy op 'n Wit Olifanttafel sal koop by die kerkbasaar. Vir 'n volle jaar lank verkoop ek hierdie "hampers" van my elke maand. Ek noem dit "crockery hampers" of "linen hampers" op die veiling se inventaris. Ek maak elke stukkie kostuum juweliersware, horlosies, selfone, elke elektroniese of elektriese item, mooi skoon en sleep dit Brits toe. Pietie kry goeie pryse daarvoor. Elke sent word gebruik vir kos en petrol en om Nola se troue te help betaal. Sy loop met 'n lêer rond waarin sy elke sent neerskryf. Sy kom met die ontwerper, die fotograaf en die venue ooreen dat sy ook die deposito's stuk-stuk kan afbetaal. Sy source elke dingetjie vir daai troue self. Op die internet, by die china shops, by vriende, by familie. Ons betaal daai troue in bedrae van R100 hier en R200 daar. Maar stadig maar seker begin dit 'n werklikheid word. Christiaan doen aansoek vir 'n kredietkaart en 'n oortrokke rekening wat seker 'n week voor die troue eers toegestaan word. Nola sê hy het sy gesig weggedraai van die konsultant af dat sy nie sy trane moes sien nie.

Tussendeur al hierdie planne om uit ons moeilikheid uit te kom, is Maggie steeds besig om werk te soek en ook om ander planne te maak. So probeer sy geld geleen kry teen haar pensioen. Daar is 'n manier, naamlik dat jy dit kan doen as jy kan bewys dat jy verbeterings wil aanbring teen jou eiendom. Sy kom toe met die koper ooreen dat hy die strokies vir al die verbeterings wat hy tot op daardie stadium aangebring het, vir haar sal stuur. Dit beloop toe 'n hele paar duisend rand. Hy het van die begin af onderneem om dit te doen, omdat hy van plan was om die eiendom te koop en hierdie bedrag dan van die koopprys afgetrek sou word. So lewer sy alles in by die pensioenfonds, maar dit word afgekeur. Want jy moet self op die eiendom bly. Dan probeer ons die volgende scheme. Sy probeer haar aandele verkoop. Nee jammer, eers oor 2 jaar. Ek probeer my goue munte verkoop. Nee jammer, eers oor 5 jaar. Ek probeer my kar verkoop. Nee jammer, jy skuld nog meer op hom as wat sy inruilwaarde is. Ek probeer my erf by St Helenabaai verkoop. Nee jammer, ons doen nie herverkope terwyl al die erwe nog nie verkoop is nie.
Sy probeer haar verlof verkoop. Nee jammer, jy moet 'n minimum van 30 dae uithou wat eers uitbetaal sal word as jy bedank. Glo julle my nou vandag. Daar is nie op hierdie aardkors EEN ding oor wat ons NIE probeer het nie. Behalwe om bedrog te pleeg. En dis ook net omdat ons nie toegang gehad het tot sulke geleenthede nie.........
Sent from my BlackBerry® wireless device

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking