2014-10-21

Pietie gaan Londen toe....

Na al Pietie se eskapades het hy 'n relatief rustige matriekjaar gehad. So ver as wat my speurwerk my vertel het in elk geval. Veel later sou ek agterkom van die skelm rokery en drinkery, hy het die detail daarvan sommer self vir my vertel op sy 21ste verjaarsdag, maar op die oog af was hy heel voorbeeldig. Hy het hom nog steeds van tyd tot tyd probeer snaaks hou. Aangesien hy die enigste seun in die Huishoudkundeklas was, het hy dit byvoorbeeld goedgedink om in 'n rok na een van die skool se formele danse toe te gaan. Nogal een van sy vriende se ouer suster se matriekafskeidsrok gewees. So blou "triloble" nommertjie met 'n spleet aan die een kant. Moet sê, hy't nogal mooi gelyk.
Ook in sy matriekjaar besluit ek mos om vir my 'n trapmeul te koop om my drawwery nou na die volgende level toe te vat. Nou help hy my om die ding in die kamer op te stel. In so aantrekkamer gedeelte. Prop hom in, skakel aan en daar gaan ek. Na so kilometer besef ek die verveling is te erg. Ek het 'n TV in die kamer gehad, en langs elke kant van die bed was daar 'n ronde tafeltjie met 'n lang tafeldoek oor met 'n lamp en boeke op die tafeltjie. Nou manouvre ek en Pietie die trapmeul voor die bed in. Daar is net genoeg plek direk langs die bed. Die agterkant van die trapmeul raak aan die kanttafeltjie. Nou lê Pietie op die bed en ek en hy kyk The Bold and the Beautiful. Die trapmeul is nou hier by hom, reg langs die bed waarop hy lê. Maar so raas die ding so erg dat hy die TV al harder moet sit om te kan hoor. Dis toe nou in die middel van die winter en ek begin toe nou my drafsessie met 'n langmoutop aan. Na so 2 km begin ek erg warm kry en besluit ek om sommer so in die hardloop die top uit te trek. Fout. Daai trapmeul was seker gestel teen 'n spoed van 14 km/h, maar met daai top so halfpad oor my kop slaan ek daar neer en daai conveyor belt spoeg vir my agtertoe reg deur daai tafeltjie dat jy net lamp en Bybel en al Solly Ozrovech se dagstukkies sien trek. Ek gil vir Pietie om die ding af te skakel. Daar is so groot rooi knop waarby staan "Emergency Stop". Maar hy is so histeries van die lag dat hy nie kan beweeg nie. Al pad nou is vorentoe. Daar is nie plek aan die kante nie. Een kant is bed, ander kant is kas. Maar soos ek terugkruip onder die tafel uit en my verswikte hand op die belt sit om myself op te trek, so spoeg hy my weer uit. Keer op keer. Teen hierdie tyd het Pietie al aan die ander kant van die bed afgeval soos wat hy lag. Ek neem aan hy het toe die situasie opgeweeg en besluit hy sal agterna maar sy ma se toorn verduur, maar hy gaan dit geniet solank as wat hy kan. Wat toe 'n hele paar minute was op die ou end. Ten einde laaste kry ek vatplek aan die buitenste raam van die duiwelsapparaat en kry ek myself opgetrek sodat ek die ding kan stop. Teen daai tyd lyk dit of 'n orkaan daai kamer getref het. Pietie is nou stom van histerie. Hy kry nie meer 'n fisiese geluid uit nie. Hy klap net met sy een hand so op die bed. My enkels was beide bebloed, so ook die bokante van beide hande. My ego was gebroke, nie net gekneus nie. Maar ek staan daar op en begin op daai kind gil. Toe hou hy vinnig op lag. Ek slaan daai trapmeul daar op en sleep hom teen daai trappe af en bel soos in onmiddellik die vrou van die gym en verkoop hom net daar teen halfprys aan haar! So ek sou hom nogal mis as hy moes weggaan. Pietie, nie die trapmeul nie. Hy was slim genoeg om nooit weer na daai insident te verwys nie. Ons het meestal VIR mekaar gelag en nie MET mekaar nie, maar ons het ten minste baie gelag.
Daar is toe besluit dat hy direk na matriek Londen toe sal gaan en daar sal gaan werk vir 'n jaar. Dit was op daardie stadium vir my die veiligste opsie. Ver genoeg van die huis, maar darem in dieselfde tydsone. En hoeveel skade kan hy nou daar aanrig? Dis mos nou daai tyd wat ek hom, in wat ek net kan toeskryf aan 'n breinfloute, R1000 belowe het vir elke onderskeiding wat hy kry. En ek in die week na Kersfees R4000 moes bymekaarmaak, 14 jaar gelede se R4000!
So is hy knap na nuwejaar 2001 vort. Nou het ek natuurlik maande lank voorberei aan my preek wat ek gaan afsteek voor hy gaan. Ek het tot notas gemaak en flitskaarte en kort opsommings agter op poskaarte geskryf, en ek was reg vir hom. Ek het die hele preek toe saamgevat in 'n bondige toespraak van ongeveer 2 en 'n half uur. Ek het begin waar ek my eerste kraampyn met hom gekry het, deur die detail van die 19-uur lange kraamproses gewerk, en dit toe jaar vir jaar gevat. Ek het besluit om die hoogtepunte te ignoreer en my toe te spits op die laagtepunte. Vanwaar die tydsduur van die toespraak. Ek het vooraf besluit die toespraak sal eindig in 'n crescendo op die oomblik waar hy dan nou in die vliegtuig sit Londen toe. Die preek het grootliks gegaan oor wat hy MOET doen en ook NIE moet doen nie. Ek het hom 'n paar keer tydens my vertoning sien aan die slaap raak maar ek het hom op sulke geleenthede met 'n flink klappie teruggebring na die hede toe. Ek het ook regdeur die toespraak met dramatiese tussenposes hom so met die wysvinger voor die bors gedruk. Dis nou regtig as ek 'n belangrike punt wou tuisbring. So kom ek toe by die grand finale van my preek. Nou staan ek al regop. Begeesterd is nie die woord nie. En ek "prod" hom so met die vinger voor die bors en sê: En JY mannetjie (prod), JY, JY (prod, prod), JY (prod) moenie dink jy gaan vir jou windgat hou die oomblik as jy op daai vliegtuig sit en dink jy is nou grootmeneer met MY geld nie!! JY (prod) sal vir jou gedra! Moenie dink JY (prod) gaan die lugwaardin roep en vir jou 'n double Jack Russell en Coke bestel nie!!
Nou as ek nou net onthou het dis Jack Daniels en nie Jack Russell nie, kon ek daai hele speech afgepull het. Maar na 2 en 'n halwe uur het ek alles opgedonner met EEN verkeerde woordjie. Needless to say het hy my dadelik reggehelp, tussen sy histeriese gelag deur. Ek kon eenvoudig nie dink aan 'n comeback nie en het toe nou maar net iets gemompel van "ek watch jou" en so is Pietie Londen toe. En ek is vas oortuig hy het JUIS 'n dubbel Jack Daniels en Coke op sy ma gedrink toe daai lugwaardin die gang af kom met haar trollietjie.
Binne 'n week het hy 'n werk gekry in 'n hotel daar in Cumbria in die Noorde van Engeland op die Skotse grens, naby die dorpie Keswick. . Dis nou lank voor selfone en whatsapp en sms'e wat jy moeiteloos oorsee kon stuur. Kommunikasie was moeilik, en beperk. Die kere wat ek wel met hom kon praat, het ek hom elke keer gewaarsku om op die uitkyk te wees vir Bokman. Ek het gereeld vir hom pakkies gestuur en op sy 19de verjaarsdag was hy in Londen en het ek vir hom, met 'n chocolatekoek in my rugsak, gaan kuier. Tot op hierdie dag kon ek nie uitfigure presies waar hy gebly het in daai tyd nie, want ons is nie toegelaat om daarheen te gaan nie. Ons het by ander Thabazimbikinders gebly in Leyton. Maar ek het hom elke dag gesien. Hy het toe vir 'n Fillipynse ou koerier gery met so groot van. Hy het pakkies heen-en-weer Heathrow toe vervoer. Baie later, lank nadat hy teruggekom het, het hy my vertel presies HOE swaar hy gekry het. Hoe hulle nie kos gehad het om te eet nie, hoe hy letterlik party aande in die bad moes slaap, hoe hulle omtrent elke maand na 'n ander plek getrek het, ensovoorts. Hoeka kom hy weereens by so nuwe blyplek aan en in een van die kaste kom hy af op 'n tjekboek. Net daar besluit hy om te gaan kos koop en hy skryf daar 'n tjek uit en teken hom en vir 'n week lank kon hy soos 'n koning eet. Vindingryk man! Altyd 'n outjie wat 'n plan kan maak!
Na 'n jaar kom hy terug. Van die grandiose spaarplanne het natuurlik dadels van gekom. Hy het 'n Oakley sonbril, 'n paar DC sneakers en 'n Play Station gehad om te wys vir sy moeite. En natuurlik stories en avonture waarvan ek nooit sal mag weet nie. Toe hy van die vliegtuig afklim is sy hare pikswart gekleur en hy het 'n stud deur die oogbank. Seker al die pad Jack Russells ook gedrink as jy my vra......
Sent from my BlackBerry® wireless device




1 opmerking:

  1. Dis juis toe ek jou in die SA winkel in Embankment gesien het na baaaaie jare.

    AntwoordVee uit