2014-09-25

Try hierdie outjie

Hallo maatjies! Voor ek nou enigsins verder my kinders se name vergat, kom ek 
deel gou 'n reseppie. Kyk, vir my is die hindernis nie soseer om die aandete te 
MAAK nie, dis meer om dit UIT te dink! Party couples maak mos nou "beurte" om 
kos te maak. Ons is nie een van daai couples nie. Ons het dit probeer. Dan is 
dit nou Maggie se beurt. Dan vra sy my: Waarvoor is jy lus? Of: Wat wil jy hê 
moet ek maak? Of: Wat is hier in die huis? Nou kyk. As ek daai vrae kon 
beantwoord dan was dit in die eerste plek nie nodig om beurte te maak nie. 
Gewoonlik gebruik sy dan haar beurt om te braai. Waarteen ek, in beginsel, niks 
het nie. Maar dan werk dit nou min of meer so: Waar is die Blitz? In die kas 
onder die wasbak. (In hierdie scenario is sy nou die vraesteller en ek die een 
wat antwoord). Waar is die vuurhoutjies? Ook daar. (Dit gebeur nou alles terwyl 
ek iets probeer kyk soos Boer soek 'n Vrou of The Fat Doctor). Het ons hout? Ek 
weet nie, kyk in die wendy house. Waar is die wendy house se sleutel? Daar waar 
al die sleutels hang. Waar is dit? In die spens. Het ons 'n spens? Ja Maggie, 
daai klein vertrekkie langs die kombuis waar die wyn yskas staan. (Gelukkig weet 
sy waar DIT is). Watter sleutel is dit? Die een met die tag op wat sê wendy 
house. Op hierdie stadium is ek natuurlik bitterlik tempted om vir haar te sê: 
Bring sommer daai rump hier dan maak jy hom medium rare in my gat gaar. Maar ek 
wil haar nou nie ontneem van haar "beurt" om ook kos te maak nie. Okay. Moving 
right along. Het ons nog charcoal? Kyk onder die braai. Goddank vra sy nie waar 
is die braai nie, want dan het ek dit verloor. Waar is die byl? Ook in die wendy 
house. Intussen is 3 mense al uitgestem op Boer soek 'n Vrou en die vrou op The 
Fat Doctor  het al "four stone" verloor, maar ek het dit nou gemis. Nou hoor ek 
buite 'n gekap en 'n binnensmondse gevloek en van hout wat nat is en blitz wat 
nie wil vat nie, maar ek is mos nou "af" vanaand so ek blok dit uit. Okay, nou 
brand die vuur en sy kom terug in die huis in. Nou begin die vrae van voor af. 
Wat gaan ons braai? Kyk in die vrieskas wat is daar. Dit word nou opgevolg met 
haar wat nou elke item in die vrieskas een vir een uithaal en vir my kom 
"presenteer" en dan vra: wat is dit, kan ons dit braai? En dan nou my 
nimmereindigende string antwoorde van: nee, dis 'n stuk deeg. Nee, dis mince. 
Nee, dis gevriesde oorskiet spaghetti bolognaise. En so gaan dit nou aan, tot ek 
nou opstaan en vrieskas toe stap en 'n pakkie wors en 'n pakkie tjops gaan 
uithaal.

Dan skink sy vir haar 'n brantie. Ricky Louw soos sy dit noem. Dan is dit nou 
vir 'n halfuur stil en hou sy haarself buite doenig met die vuur en die vleis 
wat sy probeer ontdooi en tussendeur trim sy die boom daar by die braai met die 
byl en so aan. Nou kyk, ek gaan julle nou nie verder verveel nie, want julle 
weet presies hoe hierdie scenario homself uitspeel. Intussen kook ek aartappels 
in die skil, maak braaibroodjies, dra bakke en vatlappe en branties aan, ry Spar 
toe vir 'n avo, maak mengelslaai, dek die tafel, dek af, was die skottelgoed, 
droog af, pak weg, voer die diere, maak die asblik leeg, maak vir ons koffie. As 
ek dan nou neersyg in 'n stoel, dan sê sy: Jys seker bly jyt vanaand bietjie 'n 
break gehad, nê? Dan sê ek: Baie! So het ons toe maar besluit om 'n ander 
beurtstelsel te probeer. Dis nou vir die volgende 10 jaar haar beurt om te werk 
en my beurt om die huis te run.

Kyk, ek is nou nie eintlik 'n outjie vir 'n resep nie. Om die eenvoudige rede, 
dat deesdae se resepte se bestanddele is eenvoudig te vreemd. Ek weet helfte van 
die tyd nie waarvan hulle praat nie, en die ander helfte kan ek julle waarborg 
sal die Porra by Foodzone ook nie weet waarvan hulle praat nie. So as ek sulke 
grand kos wil eet, dan gaan eet ek in 'n restaurant. So moenie worry nie, ek 
gaan vir julle lekker kommin resepte gee. Niks van "sundried tomatoes" en "basil 
pesto" en "homemade mayonnaise" en "cumin" en al sulke snaakse goed nie. Kyk ek 
weet ook nou nie of julle kinders hierdie outjie gaan eet nie. Ek het my kinders 
mos onderskeidelik tot in St 4 (Nola) en St 9 (Pietie) geborsvoed, so hulle kon 
eers hier in hul laat tienerjare ordentlik met 'n mes en vurk eet. Voor daai tyd 
het hulle geleef van two-minute noodles en daai klein gevriesde pizza'tjies en 
koffie en beskuit en rice krispies wat hulle sommer self uit bierbekers uit 
gëeet het. En natuurlik sweets. En Pringles. Maar try maar en kyk of hulle dit 
sal eet.

Jy vat 'n pak van daai cheap "no-name brand" pastaskroewe van Shoprite. Kook dit 
gaar in soutwater. Spoel goed af en sit eenkant. Vat wat jy het in jou kas. Dis 
nou nie asof macaroni of skulpe anders gaan proe nie. Obviously gaan spaghetti 
nou nie werk nie. Ek vat dan klein bietjie asyn, klein bietjie olyfolie, 1 
lepeltjie suiker en Ina Paarman se vegetable and herb spice. Ook net omdat ek 
dit het in die kas, moenie spesiaal gaan koop nie. Vat Aromat as jy niks anders 
het nie. Gewone kookolie sal ook werk. Dan maak ek so slaaisousie van dit. Klein 
bietjie man. As dit klaar is, is dit seker so 50ml. Dan meng ek dit met die 
pasta. Dis nou net om dit los te hou.

Dan chop ek 'n halwe pynappel op. Alles word in blokkies opgechop. So 1cm by 1cm 
blokkies, een ring fetakaas, so stuk gewone kaas sê maar die grootte van 2 
vuurhoutjieboksies, so halwe komkommer (geskil), so 2 tamaties, en dan so paar 
gherkins. Dit moes ek nou gaan koop. Chop dit op in skyfies. En dan 'n groen 
appel. 'N granny smith. Skil hom. Ook in blokkies. Moenie vra hoekom nie, doen 
dit net. Trust me on the apple. En dan so halwe ui fyngekap. Moenie blaarslaai 
of avo insit nie. Om een of ander rede werk dit nie. En dan 'n blik pilchards. 
Lekker kommin Glenryck pilchards in tamatiesous. Haal die binnegoed uit, gooi 
die sous oor die hond se pille, en breek die pilchards in sulke bite size 
stukke. Nie te fyn nie. Groterig. As jy tuna in jou kas het, vat dit. 2 blikke. 
Ek dink dis al. Dan gooi jy so bietjie sout by, en dan so 2 lepels suiker. Moet 
ook nie vra hoekom nie want ek weet nie. Maar dit werk. En dan meng jy nou daai 
mixture met die pasta en met mayonnaise. Ek noem dit nou 'n visslaai. Duh. Dis 
verskriklik lekker. Regtig. Dit klink heavy eenvoudig, maar dis moerlekker. En 
as dit nou jou "beurt" is kan jy als voor die tyd opchop in een bak en in die 
yskas bêre, en ook die pasta met sy slaaisousie, en as Binneland begin dan gaan 
meng jy net die mayonnaise by. Dis oorgenoeg vir 4 honger mense. Enjoy!!!!!


4 opmerkings:

  1. Jy is reg, jou eenkind sal dit nie eet nie. Jy het my verloor by uie en gherkins

    AntwoordVee uit
  2. Gherkins en pilchards!Eeeeeuuuuwwwwww!Eerder borsmelk gevries en vacuum packed vir my dankie!

    AntwoordVee uit
  3. Okay nou julle tweetjies, jou ma het haar voor daai stoof afgesloof. OK sal nou duidelik alles apart eet, even daai vis se binnegoed so honger soos wat ek nou is

    AntwoordVee uit
  4. moers snaaks Hester, het my lam gelag . Ek "picture" Maggie daar voor die braai

    AntwoordVee uit