2014-09-19

Ek raak sommer van voor af die moer in as ek nou daaraan dink...

So moet ons mos nou vir Nola Bloemfontein toe vat een jaar vir 'n modelstorie. 
Dit val oor 'n langnaweek, daai een rondom 1 Mei. Werkersdag. Ons gaan die 
donderdag al ry en sal die maandag terug wees. Nou is Pietie in St. 9. By "ons" 
bedoel ek nou ek en my tweede man. (Moet asseblief  nou nie op hierdie vroeë 
stadium al julle wenkbroue in afkeer lig nie, daar was net 2 mans). Anyway. 
Bloemfontein. Pietie is in charge van die huis en die onmiddellike periferie. 
Fout Nr 2. (Dit  sal ek nou eers heelwat later agterkom). Ek het op daai stadium 
so Honda XL250 scrambler gehad. Hy kon die bike bitter goed ry. (Ek het mos nou 
al vertel hoe begaafd en multi-talented hy is). Maar natuurlik het hy nog nie 'n 
lisensie vir die bike gehad nie, maar hy sal hom mos nou nie net vat en met die 
ding gaan ry nie. Nie MY Pietie nie! En ek gaan ook nie soos ander ouers die 
sleutels wegsteek en die drankkabinet sluit en hom laat babysit nie. (Fout Nr 
3). Wat kan tog nou verkeerd gaan?! So saam met ons wegganery is dit mos nou 
daai naweek nog Wildsfees op Thabazimbi ook. Maar Pietie weet hy mag nie sy 
voete in die biertent sit nie, hy moet 6 uur die middag by die huis wees. Voor 
donker. Hy het ons oortuig hy gaan aan sy take werk, die hond versorg, swot vir 
die rekord eksamen, kerk kyk op die TV en bietjie Bybelstudie ook inpas as hy 'n 
break vat van die swottings.  

So ry ek weg met 'n lied in die hart. My voorbeeldige dogter veilig in die kar 
saam met my. (Hier lurk toe al klaar 'n surprise vir my, maar ek leef nog op 
daai stadium in my eie fool's paradise). My dominee/dokter/prokureur-seun is 
veilig toegesluit in die huis agter sy boeke met 'n glasie pienk Nesquik in die 
een hand en 'n Zookoekie in die ander handjie. Ai, ek het die tweetjies darem 
goed grootgemaak!! Mens sou nooit sê die arme goedjies kom uit 'n gebroke huis 
uit nie! In die gees van die oomblik sit ek sommer die radio op RSG en ons 
luister vir Niekie van der Berg se "Sê wie". Tussendeur sing Rina Hugo 
"Drakensberge van Verlange", net so voor ons by Welkom se Wimpy stop.

Min weet ek Pietie is teen daai tyd seker al snotdronk en halfpad deur 'n pakkie 
Camels en die braaivleisvure brand nou al dakhoogte, die bike is al vir 'n spin 
gevat, die swembad is vol kinders, daar's 'n moerse kompetisie aan rondom die 
pooltafel, en heavy metal blêr myle ver oor die hi-fi se speakers, met 'n couple 
wat lê en vry in elke kamer van die huis. Soos ons nou die middag laat 
Bloemfontein binnery, het Pietie al 'n paar draaie gegooi in die biertent by die 
Wildsfees. Die strelende klanke van Anneli van Rooyen dra ons die Vrystaatse 
hoofstad binne. (Syt toe nog nie daai heavy pyn in haar gesig gehad nie). Te 
pragtig sing sy "Pie Jesu". Ek huil sommer. 800 km verder dreun Sepultura en 
Cradle of Filth en System of a Down en Linkin Park oor die bosveldvlaktes....

So sms ek maar af en toe vir Pietie net om te hoor of hy okay is. Ek wil hom ook 
nou nie te veel pla nie. Hy swot mos nou. Ek wag nogal lank om terug te hoor van 
hom. Ai die Pietie!! As hy so weggevoer raak met Bybelstudie of swottings kan 
die wêreld om hom vergaan. (Min weet ek die wêreld WAS besig om om hom te 
vergaan). Die naweek is verby en die maandagmiddag is ons terug by die huis. Hy 
hardloop nogal af met die trap garage toe en help ewe gretig om die tasse op te 
dra. Ek moes dit al as een moerse red flag gesien het. Maar die huis is pragtig 
skoon. Nie 'n vuil koppie of glas in sig nie. Vloere blink, hondjie is happy, 
swembad skitter, nie 'n ding uit sy plek uit nie. (Wonderlik hoe 30 babelas 
matriekgirls 'n plek kan regruk as die oom en tannie sterk op pad is huistoe). 

So gaan die dae verby. Dae word weke. Weke word maande. Maar soos hulle op die 
Crime Channel sê: The truth is always out there. Die "truth" kom toe in die vorm 
van die oorywerige vriendin wat my altyd getrou laat weet het van my kinders se 
doen en late wanneer ek nie by is nie. Ek is darem op daai stadium redelik op 
die ball wat my openlike spioenasie op hulle aanbetref. As ek hulle broodjies in 
hulle tasse sit, gooi ek die hele tas uit op soek na prentjies van kopbene en 
pentagramme en Liewe Heksie en die Turtles en sulke goed. Niks. As ek die 
wasgoed in die kaste bêre krap ek in elke laai en kas. Hier soek ek nou na 
groter items, soos lampskerms wat gemaak is van mensvel of katbloed in 
botteltjies of enige dooie diere for that matter. Ook niks. Nee kyk, niks sal by 
MY verbykom nie. Maar so gee die vriendin een middag, op pad na my toe vir 'n 
koppie tee, 'n random skoolkind 'n lift. Die kind vra toe blykbaar: Waarheen 
gaan Juffrou? O ek gaan by tannie Hester kuier. O dis mos Pietie Heyns se ma? 
Ja, ken jy hom? Nee Juffrou, maar ek het gehoor van die partytjie by sy huis 
daai naweek van die Wildsfees......

Needless to say is daai stomme kind seker in die ry by daai kar uitgestamp en is 
sy oop en toe op pad na my toe! Fok die teedrinkery. Hierdie is vir haar die 
scoop van die jaar! So vertel sy nou in detail van die party en alles wat daar 
gebeur het. Dis toe nou so legendary gewees dat die hele skool daarvan weet. Ek 
wou-wou so half trots begin voel op Pietie maar ek keer myself net betyds. Maar 
ek maak 'n mental note om "event planner" ook by te voeg by sy lysie van 
begaafdhede. So is hy natuurlik salig onbewus van hierdie nuut verworwe kennis 
van sy "estrogen deficient" ma. Hy saunter later die middag rustig die huis in, 
King Pie krummels nog om die mond. Op daai stadium het ek vir man Nr 1 al gebel 
en die hele storie uitgegil oor die telefoon. Man Nr 2 is teruggeroep van waar 
hy besig was met wat ook al en ons sit nou en wag vir Pietie. Satan se eie klein 
gesant.

Nou moet julle een ding eers verstaan. As jy getroud is met 'n man wat sy eie 
kinders het, dan wil jy nou nie dat jou kinders so openlik kak aanjaag dat hulle 
nou afsteek by sy kinders nie. Jy wil mos nou wys jou kinders is beter 
grootgemaak as dit. Of julle dit nou wil weet of nie, daar bly maar 'n gevoel 
van kompetisie tussen die twee gesinne. Jy wil mos nou nie toegee dat die 
eksvrou se kinders beter gemanierd is as jou eie kinders nie. Nee my donner man! 
So daai moordadige gedagte dwaal ook nou nog hier in my brein rond. Dieselfde 
brein wat sonder die estrogeen moet operate.

Nou moet julle nog 'n ding van 'n tiener verstaan. Veral 'n geslepe klein wetter 
soos myne. As jy hom nou vra: Wat het jy gedoen?!!!!!! Dan gaan hy dadelik sê: 
Niks nie, hoekom? In so effens hoër stem as gewoonlik. Ogies beweeg dan vlietend 
na links en regs, settle dan op 'n punt hier onder jou regterwang. (Eers 
jaaaaaare later, en ongelukkig hopeloos te laat, sou ek 'n kursus doen in 
"non-verbal communication"). Die tiener probeer nou uitvind presies wat die ma 
alles weet. Hy gaan mos nou nie confess oor shit wat jy nie eens van geweet het 
nie!! Asseblief!! Dink jy nou hy gaan vir jou sê: Ag jammer Mammie, vergewe my, 
ek het gerook en gedrink en gevry en na duiwelmusiek geluister. Neeeee. Hy kap 
hom net: Niks nie, hoekom? So sê ek vir hom (in 'n heelwat hoër stem as 
gewoonlik. Jy sou dit selfs kon beskryf as histeries): Man moenie vir my kom kak 
vertel nie!!!!!! Ek weet wat het hier aangegaan!!!!!! Die hond kruip nou onder 
die pooltafel in. Man Nr 2 sit alreeds daar. Nou is ek op 'n roll pappie. Maar 
ek vergil daai kind en pluk hom daar rond en gaan soos 'n mak heks tekere! Hy 
huil snot en trane en weet nie waar om te keer of te vat of te los nie. Kyk, ek 
het al baie boeke oor kinderopvoeding gelees, maar die grootste pot kak wat 
hulle nou KAN verkondig is dat jy nou kamma nie 'n kind moet "tugtig" terwyl jy 
kwaad is nie. Man, ek is lankal verby die stadium van "tugtig"!!!! Ek wil hom 
doodbliksem!!!!! En wie de donner is nou so psycho dat jy 'n kind gaan donner as 
jy NIE kwaad is nie??????? Hoe blerrie belaglik is dit nou??? Moet ek nou 'n 
week lank wag tot ek in 'n moerse happy bui is en hom dan met 'n groot smile op 
die gesig die pakslae van sy lewe gee? Asseblief.

So gryp ek pen en papier en nou moet hy skryf! Ek soek nou die naam van elke 
kind wat hier was. Hy huil. Maar hy skryf. Man nr 2 is nou uit onder die 
pooltafel. Hy het die telefoonboek gaan haal. Hy gaan nou bel. Dis nou die jare 
voor almal selfone gehad het. Ons praat nou hier van 1999. Almal het nog 
landlyne gehad. Telkom het nog gewerk. Soos wat Pietie skryf, so blaai ek rond 
in die telefoonboek, en so slaan Man nr 2 die lyn. Tussendeur gil ek nog op 
Pietie en slaan sommer sulke random houe met die plathand oor sy kop en skouers 
en rug. Hy koes en hy skryf en hy keer en hy vee snot af, maar na so ruk sit ons 
met 'n lang lys name. Lyk amper soos die skool se ererol wat daar verteenwoordig 
was. En Man nr 2 bel. Hy vertel elke ouer presies wat daar gebeur het, wat die 
omstandighede was, wie daar was, wat Pietie se rol was in alles, en dat hulle 
maar met hulle kinders moet deel soos hulle goeddink. Op hierdie stadium is 
Pietie al verby die punt waar hy selfmoord contemplate. Hy soek nou na sy 
paspoort. So het ek hom basically vir die res van die dag tot laat die nag in 
vergil. As ek in die gang afkom en hy sien my betyds, duik hy by sy kamer in. As 
hy te laat is, maak hy homself so plat teen die gangmuur, kop weggedraai en ook 
platgedruk teen die muur, tot ek verbygeloop het. So moes hy maar die volgende 
dag die music gaan face by die skool. Van die kinders was die middag by ons om 
om verskoning te kom vra. Ander ouers het ons eenvoudig nie geglo nie. Nog ander 
het ons gedreig met regsaksie. Een het in ons sitkamer kom sit en lang trane 
gehuil. Pietie het vir weke nie met ons gepraat nie. Dit kan moontlik toegeskryf 
word aan die feit dat hy ook vir weke nie kos of sakgeld gekry het nie, ek weet 
nie. Hy het swembad skoongemaak, gras gesny, hond gewas, kar gewas, bike gewas, 
skottelgoed gewas.......maaaaande lank. Hy was ook vir maande gehok. Hy mag net 
broodnodige skoolaktiwiteite bygewoon het. Verder moes hy in sy kamer sit en 
dink aan sy sondes en hoe diep hy sy ma teleurgestel het. Dokter gaan hy nie 
word nie. Na dese beslis ook nie dominee nie. Nou bly nog net prokureur oor. En 
event planner....

So sal mens nou dink dat hy sy les geleer het. Mens sou selfs verder gaan, en 
dink dat sy jonger suster ook sal tips vang oor wat toelaatbaar is en wat nie. 
Fout Nr 4.

2 opmerkings:

  1. Event Planner, woohoo!! Haha, donners fantasties man.

    AntwoordVee uit
  2. Noot sal ek dit glo van Pieter Heyns nie, NOOIT! Hy is heeltemal te veel van 'n goeie kind....Hehehehehe

    AntwoordVee uit