2014-09-12

Troue in Mogwase – deel 3,4,5 ……13

So klim ons toe nou uit en stap nader. Ek het mos so ligte graad van OCD wat 
beteken ek tel alles. Maar jy hoef nou nie OCD te hê om te kon sien die 30 
stoele gaan nie genoeg wees vir die 300+ gaste nie. Dadelik panic ek mos dan. 
Nugter weet hoekom.

Die hele wedding party het toe nou daar bymekaargekom. Die kleurskema was 
wynrooi, wit en silwer. Soos in ALLES. Verskriklike detail. 5 strooimeisies, 5 
strooijonkers, 2 blommemeisies, bruid en bruidegom. So sing en dans hulle nou 
voor die bruidspaar uit en almal is happy en klap saam hande, maar ek tel net 
stoele en gaste. Ons kon toe nou gladnie uitmaak wie's nou veronderstel om te 
sit of te staan nie, toe staan ons maar. Nou word die "pastor" voorgestel. Daar 
blyk toe meer as een te wees wat gaan preek op die dag. 12 om presies te wees.

Daar trek daai maat los maar hy val soos in dadelik weg met Adam, uitgespreek 
"ay-dum" wat vir "eve" gevat het, en nie vir "steve" nie. En hy laat waai verder 
oor die "despicable gay lifestyle". Maggie wil nog onderlangs vir my kyk toe 
staan ek al doooooour tussen die bruid se anties. En so het hy aangegaan. Maar 
na so uur bring hy hom weer in na wat voor hom gebeur. Ek het toe al 'n paar 
maal op my hurke gaan sit in daai ongenadige Noordwesson. Soos daai jare as jy 
kadette gedoen het. Later het ek so hoedjie geprakseer van die program. So sien 
ek op die einste program alles is netjies uitgelê en daar is presies 34 items. 
Toe ek nou sien na 2 uur is ons klaar met 2 items toe sê ek vir Maggie, of ek 
het haar gesms want ek het te ver van haar gestaan, dat ons teen hierdie rate 
vroeg Donderdagaand klaar behoort te wees.

Toe kom dit nou uiteindelik by die uitruil van die ringe en die lees van die 
"vows". Toe gee hulle vir mekaar horlosies. Vreemd. En dit vorm nou 'n groot 
deel van die bruidegom se "vows". Met die aansit van die horlosie aan haar arm 
het hy seker 10 x herhaal: "I want you to be relevant". Huh? Ek dink hyt bedoel 
"I want you to be on time". Toe hy nou deur sy "vows" werk, toe kap hy hom: "if 
there's something new in a shop, you will have it". Goed dan. Persoonlik dink ek 
hyt daar 'n lat vir sy eie gat gepluk maar toemaar.

Daar stap ons toe nou terug karre toe. Die bruidspaar gaan nou troufoto's laat 
neem by Sun City en die gaste, die 270 wat gestaan het en die 30 wat gesit het, 
moet nou hulle weg maak na die bruid se ouerhuis toe. Jy volg maar net die 
karre. Pas in die kar geklim, hier spring 3 mense agter in. Maggie gryp na die 
pistool onder die sitplek, ek is besig om my 4de grandpa met warm water af te 
sluk, toe sê die stemme gelukkig hier van agter af: Leeft mama!!! Dis nou 'n 
lift.

So ry ons nou met 3 wildvreemde mense agter in ons kar na die bruid se ouerhuis 
toe. Ons het die venue gehoor voor ons hom gesien het. Ons kry toe darem 
parkering naby, net so 7 straatblokke ver. Orals is nou mense. Op sypaadjies sit 
hulle op stoele met bottels drank tussen hulle, bo-op colemans, musiek blêrend 
uit karradio's, bo-op bakkies, agter uit kattebakke, orals is mense. Baie soos 
Oppikoppi. Die Tswana weergawe. By die huis gekom is daar nou so 12 
plastiekstoele voor die voordeur uitgepak, en omtrent 500 gaste. Weereens panic 
ek. Maar dié keer storm ek en Maggie vir 'n stoel. Darem in die skaduwee. Daar 
het ons nou maar gesit vir so 3 uur en die mense gadegeslaan wat in- en 
uitbeweeg. Agter die huis was die catering section. Daar was nie gras nie, orals 
plaveisel. So die vure is op die grond gemaak met hierdie moerse potte op. 
Beesvleis, hoender, groente, rys, aartappels. En dan dromme vol kerriepasta 
slaai met baked beans in. Geen brood. Ook potte vol mieliepap en daai bruin 
suurpap. Genoeg vir die hele woonbuurt. Wat toe ook opgedaag het om saam te eet.

In die straat reg voor die huis was 'n moerse markiestent opgeslaan. Pragtig 
versier binne. Alles in die kleurskema. Geen alkohol nie. Onthou die drank wat 
gebruik is was op die randfees, nie op die hooffees of binne die feesterrein 
nie. Vir die wat nou al by KKNK was....

Na nog so uur toe hoor ons uit die verte 'n koperblaasorkes. Toe is dit nou die 
bruidspaar en hulle gevolg wat by die huis aankom. Ek en Maggie maak toe 'n 
bee-line vir die tent en plak ons neer. Daar was seker plek vir so 150 mense as 
ek moet raai. Straat-af het hulle gestaan so ver as wat die oog kon sien. Orals 
speakers en fotograwe en tv skerms wat foto's deurlopend wys. Voor in die saal 
is die hooftafel op 'n verhoog gesit, met 2 spierwit leerstoele, amper soos 
trone. Daar sit die couple toe. Orals ook net blomme en linte. Baie mooi 
eintlik. Stylvol selfs. Geen onkoste is ontsien nie, laat ek dit baie duidelik 
maak. Toe begin die eintlike preke.

Ek gaan julle nou nie met daai detail verveel nie, glo my as ek sê daar was 
regtig 12 "pastors". Dit blyk toe 'n "kerktroue" te wees. Die bruidegom is toe 
eintlik ook 'n "pastor". Dis deel van die Assemblies of God Church, onder 
leiding van 'n Amerikaanse pastoor en sy gesin, wat ook daar was. Hulle kom 
almal van 'n Bible School en kollege in Thlabane daar naby Rustenburg. So is ons 
deur 12 gillende pastore se preke, die een meer "contradictory" as die ander, 
maar toemaar, dis seker die gedagte wat tel. Ek onthou wel iets van ene Rebekka 
wat haar "kaymels" (camels) gevat het om te gaan water drink. Isak was ook daar.

Hier 6 uur die middag toe eet ons. Teen daai tyd het Maggie al sulke happe uit 
die ruiker uit gevat. Sy was mos nou te grand vir 'n garage pie. Die kos was 
binne in die tent. In bakke. Baie mooi. Lekker geeet. Lyk my die res van die 
buurt het buite opge-queue en is direk uit die potte uit gehelp. Toe word die 
geskenke die tent ingedra. Onder luide toejuiging. Eerste geskenk is sommer 'n 
stoof. So in sy verpakking. Volgende kom 'n moerse tafel met 8 stoele. En so 
gaan dit aan. Ek het nou nie besef ons moes meubels bring nie. Ons het toe maar 
ons kaartjie, met 'n foto van 'n spierwit bruid en bruidegom voorop, vir die 
bruid se pa gegee.

Maar so is daar mos nou 'n onthaal by die bruidegom se ouerhuis ook. En hy bly 
in Acornhoek in Mpumalanga. Dié onthaal is toe nou die volgende dag, die sondag. 
So die bruidspaar en hulle gevolg en baie van die gaste sou saterdagaand al 
soontoe vertrek. Hulle is toe later weg. Ek glo die feesvieringe self sou 
deurnag aanhou daar in die woonbuurt. Ons het so net na 7 die aand huistoe gery. 
My insigte? Lekker troue. Lekker kos. Nice mense. Almal vredeliewend en 
vriendelik. Baie dieselfde as Afrikaners. Bly ons het gegaan. More gaan ons na 
'n ander troue toe.

To be continued.... 





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking