2014-09-12

Laaste deel van die troue…uiteindelik!

Daar ry ons toe nou agter die bruidskar aan. Om een of ander rede besluit die 
bestuurder, ene Trevor, om teen 'n duiselingwekkende spoed te ry. Ons hou hulle 
darem heeltyd in die oog. Maggie dodge die slaggate en ek navigate. Oor 
treinspore, spoedwalle, sypaadjies, dongas, grondpad, sinkpad, al dieper 
Tlhabane in. Ons het later geen idee waar ons is nie. Maar Trevor en die silwer 
Merc ry!! Uiteindelik kom hy iewers langs 'n veld tot stilstand. Al 30 die karre 
in die konvooi stop ook. Ons kyk rond op soek na iets wat soos 'n tent lyk. 
Niks. Tshepo die bruidegom klouter uit die Mercedes uit en stap veld-in. Ons 
staan en kyk nou maar. Hier is seker nou weer een of ander ritueel wat hom gaan 
afspeel. Toe nou nie. Moerse nood. Nadat Tshepo homself verlig het, ten aanskoue 
van almal, klim hy terug. Maar nou is ons seker naby aan die venue want die 
bruidspaar sit nou op die rugleuning van die agtersitplek van die afslaankap. Al 
toetend en wuiwend en met groot fanfare ry ons toe nou almal die township in. 
Kinders en honde en bokke hardloop saam agter die karre aan, jillend en gillend 
van opgewondenheid. Die bokke blêrend. Op so stuk veld wat herinner aan die 
destydse "vlakte duskant Hebron" kom ons tot stilstand. Die skare het nou al 
aansienlik aangegroei. Ons klim uit. Die bruidspaar het so 2 blokke terug al 
gestop. Na so uur se rondstaan in die stof hoor ons weer die koperblaasorkes 
opstart. En daar kom hulle straat-af gedans na die bruid se ouerhuis toe. Hele 
gevolg agterna. 

Hier is dit toe nou dieselfde storie as met die vorige troue. Tot dieselfde 
wysie van die orkes ook. Ek vermoed dit was dieselfde orkes. Baie beperkte 
repertoire. So word daar nou gesing en gedans ......in by die hek.....uit by die 
hek....op in die pad.......af in die pad. En ons staan en ons kyk. Na so uur van 
dit, toe is die bruidspaar nou reg om die tent in te gaan. Tent is pragtig. In 
totaaaaaaale kontras met die omgewing....as jy nou perspex tiffany chairs met 
spierwit tafeldoeke en turkoois overlays en lapservette en silwer 
sjampanjehouers en perspex blomhouers en spierwit blomme en spierwit leermeubels 
kan picture onder 'n spierwit bedoïen tent in die middel van 'n 
township......Ook dieselfde wit leertrone vir die bruidspaar om op te 
sit....spieels net waar jy kyk. Fantastiese 3-laag troukoek. Met 'n swart bruid 
en bruidegompie bo-op as 'n "cake topper"....

Dit was lieflik koel in die tent. Die toesprake was kort en kragtig. Nikse 
geskree oor "adam and steve" en "adam and eve" of niks van daai nie. Ons sit toe 
aan tafel met al Johanna, die bruid, se kollegas. Volgende oomblik toe kondig 
die MC aan ene Miss Maggie Hoffmann gaan nou 'n paar woorde sê. Dié val sommer 
weg deur die bruid direk aan te spreek met: "you will understand that I am 
definitely not going to repeat everyone's instruction to you to be submissive to 
your husband". Ai....kan haarself maar NET nie help nie. Na nog so paar 
uitlatings wat volgens my meer gepas sou wees op Martina Navratilova se 
voorgenome troue, het sy darem toe so bietjie meer in algemene terme die 
bruidspaar 'n lang en gelukkige lewe saam toegewens. Luide toejuiging ontvang.

Toe is daar 'n heildronk ingestel en die bruid het haar speech gemaak. Syt so 
bietjie disconnected en amper verveeld voorgekom. Vreemde set-up eintlik. Syt al 
2 opgeskote kinders van 'n ander man, die bruidegom het ook 'n wydverspreide 
kroos. Spierwit rok nonetheless vir die bruid hoor! Anyway. Toe is die tafels 
aangesé om te gaan opskep in nommervolgorde. Bakke vol kos aangedra. Als deur 
spyseniers. Spinasie, gemengde groente, daai bruin suurpap, slaaie, wortels, 
hoender, beesbredie.......heerlik!! Eintlik baie lekkerder as die vorige troue 
s'n. Groter verskeidenheid, tafels baaaaaie mooier, baaaie minder toesprake, 
kerkdiens meer in lyn met waaraan ons gewoond is, baie vinniger deur program 
beweeg, lekkerder geselskap aan tafel.....

Nee nou is ek eers moeg geskryf! So ek sal more verder vertel! Daar's nog baie 
om te vertel!! Ons gaan nog groen afval kry en ons gaan nog op 'n amper leë tenk 
net dieper die township in verdwaal ook!!

To be continued......

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking