2014-09-12

Nog ‘n troue…

So is ek en Maggie verlede saterdag weer op pad Rustenburg toe vir nog 'n troue. 
Ook van iemand wat saam met haar werk. Johanna. Sy trou met Tshepo, hys 'n 
ambagsman hier op die myn. Troue begin 11 uur. Een of ander obskure adres in 
Thlabane. Maar gelukkig leer ek mos vinnig. So pak ek klein koelboksie met water 
en buns met lekker peanut butter en piesang op. Iets wat ons nou genoeg krag sal 
gee vir die dag. En 'n medium size pakkie Grandpa's.....so 4 vir elk. Okay daar 
het ek bietjie ge-under cater, kon maar gegaan het vir die groot pakkie.

Ons ry toe so 10 uur. Ons gaan nou vir Lorraine kry daar by die garage by Sun 
City dan saam met haar ry. Sy werk ook saam met Maggie. Sy sal ons half 11 daar 
kry. So 11 uur toe staan ek kalm soos 'n daggawalm my bun en eet langs die kar. 
Nie 'n teken van Lorraine nie. 3 Grandpa's oor van my kwota. So kwart oor 11 
sleep Lorraine en haar entourage daar in. Ons ry. Kwart voor 12 kom ons by die 
kerk aan. Evangelical Lutheran Church. Lyk baie katoliekerig binne, baie 
Jesusbeeldjies en kerse en ook so spesiale amper altaar-agtige deel met Jesus 
aan die kruis bokant dit. Met so tafel voor waar jy nou 'n offer kan bring of 
iets lyk dit my. Kyk op die foto van die binnekant van die kerk. Needless to say 
is ons die eerste mense daar.

So net na 12 toe start die koperblaasorkes op buite die kerk. Daar sit toe seker 
so 50 mense in die kerk. Die bruidegom en sy pa en 2 van sy ooms sit voor ons. 
Die kleurskema dié keer was wit en turkoois. Okay hier wil ek nou iets noem: ek 
het nou teen die tweede troue agtergekom dat sekere goed presies dieselfde 
gedoen word by ALLE troues. Tswana troues in elk geval. Ek het heeltyd met een 
van Maggie se ander kollegas, Doris, gepraat en haar lekker uitgevra. Die 
dansery die kerk in met die hele gevolg vooruit is nou een van daai goed, die 
orkes blêrend agterna. Weereens 5 strooimeisies en 5 strooijonkers en 2 
blommemeisietjies. Dieselfde as die vorige troue. Hierdie dominee was egter baie 
oulik. Ons was die enigste witmense daar. Hy het ons welkom geheet en dadelik 
iemand gevra om by ons te kom sit en te tolk. Johannes, een van Tshepo se ooms, 
het tussen ons kom sit en woord vir woord vertaal. Pragtige preek. Gladnie die 
vuur en swawel van verlede saterdag nie. Die orde waarvolgens die hele diens 
geskied het, was presies soos in die NG Kerk. Voorlesing, gebed, kort preek, 
huweliksformulier, ringe aangesit, kollekte opgeneem, gesing, seën uitgespreek. 
Die dominee was kalm en rustig en bedaard. Toe hy nou sê hulle gaan kollekte 
opneem, toe is ek voorbereid op dit ook. So het ek 2 R50 note in my sak en 'n 
R100 noot. Toe word so groot houtbak voor op die altaartipe plek gesit en dan 
loop die hele gemeente nou singend en dansend verby die bak en gooi die geld in 
en gaan sit weer. Ek en Maggie val toe ook in die tou elkeen met 'n R50 in die 
klou, al dansend op die maat van die orkes, gaan gooi ons toe ook ons kollekte 
in. Almal vol smiles. 

Buite gekom, orkes steeds blêrend, staan daar toe nou so slap afslaankap 
Mercedes Benz met spesiale nommerplate met die bruidspaar se name op. So is 
hulle in die kar in en almal is na hulle karre toe. Genadiglik het niemand in 
ons kar ingespring nie, maar net vir die wis en die onwis kap ek toe nog 'n 
Grandpa. Dis toe nou so kwart oor 1 die middag. Snikheet. Nou gaan ons die karre 
volg na die bruid se ouerhuis toe vir die onthaal.

To be continued......

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking