2014-09-12

Die troue in Mogwase – Deel 1

So is Maggie mos nou nog saterdagoggend in Magaliesburg. Sy moet nog 
terugry EN my kom haal in Swartklip EN dan moet ons Mogwase toe vir die 
troue. 6 uur die oggend is ek natuurlik al reg om te ry. Daai tyd toe is sy nog 
besig om te slaap in Magaliesburg. 7 uur het ek haar darem al tot in die kar 
geskree. Elke halfuur bel ek om te hoor waar sy trek. En om Emsie Schoeman 
te quote oor hoe swak styl dit is om laat te wees vir enige iets, let alone 'n troue.
 Anderkant Rustenburg word sy vir spoed afgetrek en kry 'n R1000 boete. Maar 
so kom sy. Oop en toe. 9 uur toe sy hier insleep toe staan ek reg. Hekke gesluit, 
deure gesluit, vensters gegrendel, hortjies afgetrek, diere gebêre, al drawwende 
langs die kar om sommer so in die ry, al gillende op haar, in te klim. Maar nee. 
Toe moet sy nou op slag toilet toe. Kwart oor 9 sleep ons hier uit. Die troue 
begin 10 uur. Ons het nog nie 'n geskenk nie. Ons besluit dan gaan ons maar 
geld in 'n kaartjie sit. Maar ons het nie 'n kaartjie nie. Ook nie geld om in 
te sit nie. Wel ons het soort van geld, maar ons moet dit iewers trek. Gelukkig 
weet sy mos nou waar die spoedlokvalle is, so ons kan laat waai. Al die pad 
soontoe stry ons oor die aanwysings op die uitnodiging. 
Teen 180 km per uur jaag ons Mogwase binne. Ek met my neus teen die
 voorruit, kneukels wit geklem teen die dash board.By die eerste mens kom 
ons met skreeuende bande tot stilstand. Where's Mogwase Park? Geen reaksie. 
By die 4de mens, 'n taxibestuurder, vra ons weer. You go left...dan wys hy met 
sy regterhand na regs, then you go straight. 
How far? Far far far far. Uitgespreek: fahfahfahfah. 
So ry ons daai plek plat. Ek en Maggie praat nou sulke eenwoordsinne met 
mekaar. Basies net "links" of "regs" of "daar". Uiteindelik kom ons by 
'n plek aan wat lyk of daar 'n troue kan gebeur. Maar dis by 'n huis. Maar 
daar's 'n groot tent. Maggie klim uit. 
Is this where the wedding is? Yes. 
So verdwyn sy tussen 'n massa mense. Party sit buite op matrasse. Ander maak
 kos op vure. Sys die huis in. Ek sit in die kar. Pepersproei se safety is al af. Vinger is 
op die trigger pappie. Na 10 minute kom sy uit. Sy kap hom, bleek om die kiewe: o my 
donner ek was nou midde-in 'n heel ander troue se lobola samesprekings ingetrek. 
Groot misverstand. Daar sleep ons weer.
Kom by 'n park tipe plek aan. Op die grasperk staan pragtige wit stoele toegedraai in 
wynrooi en silwer lap, 'n rooi tapyt, afdak met tafels en stoele, groot luidsprekers, keyboard, 
orals elektriese kabels, potte vol blomme. En 2 sekuriteitswagte. Verder totale verlatenheid. 
Nou is dit half 11. Ek gil op maggie: sien jy nou!!!! Dis als jou skuld!!!!! 
Nou is die troue al verby en ek het als gemis!!!! Dis omdat jy laat was!!!!! Dis omdat jou 
stupid werk jou op 'n stupid kursus stuur in Magaliesburg!!!! En ek is nog dodelik siek ook!!!! 
Alles verniet!!!!! Kalm stap sy na die sekuriteitswag. Nou is dit eers "dumela" en "agê" en al 
5 haar ander Tswanawoorde ook en die 3-greep handdruk en praatjies maak en dit terwyl jy 
nou al 6 eiers in my gat kan kook, en toe vra sy: Is this where the wedding is? Yeeeeeees. 
Where are the guests? Noooooooo they will still come......
(To be continued)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking