2014-09-29

Terug na Pietie...

So begin hy mos nou sy skooljare daar in die Boesmanland by Laerskool Aggeneys. Klein myndorpie. Alles behoort aan die myn. Die skool ook. Die Personeelbestuurder is ook sommer outomaties die Voorsitter van die Skool se Beheerliggaam. Heel toevallig is dit ook Pietie se pa. Nou weet julle mos, as 'n kind nou met obskure kneusplekke by die skool aankom, dan moet die onderwyseres mos nou ondersoek instel. Of as die kind nou snaakse goed kwytraak dan moet daar mos nou sekere rooi vlae opgaan. Maar Pietie vat daai een toe nou na die volgende level toe. Hy teken sommer vir die Juffrou prentjies en skryf 'n lekker storie daarby. (Julle weet mos nou al teen die tyd hoe innoverend en slim en taalvaardig hy is van geboorte af!).
So probeer ek mos nou my betrokkenheid by die skool tot die minimum beperk. Op daai stadium is Nola in Liewe Heksie Kleuterskool en het haar Juffrou so paar maande tevore 'n baba gehad. Die stomme vrou dink toe sy's oulik en stuur 'n foto van die baba in die klas om. Nadat al die ou kindertjies nou ge-oe en ge-aa het, vra die juffrou vir Nola wat SY dink van die nuwe baba. "Sy lyk nes 'n klein varkie". I rest my case. Die juffrou het my by die huis kom sien oor "Nola se uitgesprokenheid wat haar nog in warm water gaan laat beland". As ek maar geweet het dat die vrou eintlik 'n hedendaagse Nostradamus was, kon ek myself baie kak en hare gespaar het. So ek was toe heel benoud toe die kinders se pa by die huis kom en sê die Skoolhoof wil ons sien. Ek leef op daai stadium toe nog onder die illusie dat Pietie 'n dokter, 'n dominee of 'n prokureur gaan word. So kom ons by die Skoolhoof se kantoor, hier sit Pietie se Gr 2 onderwyseres ook, Juffrou Mosterd. Heel stug, let ek toe dadelik op. Die Skoolhoof uiter sy normale gatkruiperige gemeenplase teenoor die Voorsitter van die Beheerliggaam en elkeen kry sy sit. So uit die hoek van my oog vang ek Pietie se werksboek wat daar eenkant oop lê. Ek ontspan toe bietjie, vas oortuig hulle gaan ons nou meedeel dat hy maar Graad 2 kan skip en sommer reguit kan deurbeweeg na Standerd 3 toe. Toe nou nie.
So begin die Skoolhoof nou ewe verleë vir die Voorsitter verduidelik hoe netelige kwessie dit nou is en in hoe moeilike posisie hulle nou is en hoe almal nou oor dieselfde kam geskeer moet word bla bla bla. Na nog 'n halfuur toe word die werksboekie nou nader gesleep. Boonste helfte het hy geskryf en onderste helfte geteken. Nou kyk, die kind is geen Rembrandt nie. So deurmekaar prentjie van 'n grassnyer en 'n kruiwa en klomp stokmannetjies wat so bo-oor mekaar lê en dan was daar 'n vuur met iets wat lyk soos 'n braaivleisrooster met tjops op en lang gras en leë bottels en daar was blou wolke en 'n son en so 4 voëltjies. Bladsy mooi vol geteken. Maar toe ek die eerste sin lees, toe verstaan ek hoekom ons sit waar ons sit.
My klein skrywertjie val toe sommer dadelik met die deur in die huis: "My pa was die naweek weer lekker gesuip. Toe sê hy vir my: Gaan sny die gras. Toe sê ek vir hom: sny jou eie gras. Toe stamp hy my bo-oor die kruiwa. Toe stamp my ma hom. Verder het ons gebraai en lekker rugby gekyk. Die WP het gewen".
Nou kyk, ek wil net so graag soos die volgende vrou my eksman slegmaak, maar so iets het nog nooit in ons huis gebeur nie, nie eens naastenby nie. Ek wou op daai stadium alles net so los en huistoe sprint en daai kind die pak slae van sy lewe gaan gee. (Wat ek toe wel, teen die uitdruklike raad van die Skoolhoof, 'n halfuur later die plesier sou hê om te doen). Ons het toe verskriklik verduidelik en gesê ons sal met hom praat en ons het geen idee hoekom hy so iets sou doen nie. Druipstert en bloedrooi in die gesig is ons daar weg. Ek kon die twyfel in Juffrou Mosterd se oë sien. Kyk, daai kar het nog so afgeslack om te stop toe klap ek al daai agterdeur oop. Toe pluk ek daai klein gebroedsel van die mat af op waar hy sit en Nils Holgerson kyk en donner sewe soorte waks uit hom uit. Toe sê ek vir hom: Gaan teken nou vir jou Juffrou DAARVAN 'n prentjie! Later die aand, toe ek gekalmeer het en hy weer kon loop, toe vra ek hom nou hoekom hy dit gedoen het. Hys moeg om elke maandag dieselfde boring goed te skryf van hoe ons braai en swem en rugby kyk en hardloop en fietsry. Die ander kinders skryf dan sulke lekker stories daar op die ou myndorpie.....
Sent from my BlackBerry® wireless device


2 opmerkings:

  1. Kakakakakakakaaaaa! Baie geniet.

    AntwoordVee uit
  2. Ek sien 'n movie kom........Truth is better than fiction. Dink maar solank aan 'n gepaste titel. Jy gaan jou eie rol moet speel, want ek dink nie daar is 'n aktrise wat bevoegd is om jou te weergee nie.

    AntwoordVee uit