2014-09-16

Ek breek op met Nola se boyfriend...

So bly Nola mos nou in Kaapstad nadat sy van haar modelstories terug is uit 
Italië na 5 jaar. Sy's nou klaar met haar 1 jaar voltydse kursus by die Cape 
College en werk in 'n haarsalon in Seepunt. So raak sy nou verlief op 'n 
mede-haarkapper. Moerse nice ou. Maar 'n hele paar jaar ouer as sy. Op daai 
stadium is sy seker so 21 en die ou die beste deel van 33 of 34. Hy het 2 seuns 
uit 'n vorige verhouding van seker so 10 en 8 jr oud op daai stadium. Sy bly toe 
in die woonstel wat ek vir haar gekry het en op daai stadium steeds betaal, want 
'n appie verdien mos R200 per maand. Lekker flat, daar agter die Mount Nelson in 
Tuine. Maar na so ruk toe jeuk haar gat nou en wil sy by die boyfriend intrek.

Ek gooi net wal en keer vir al wat ek werd is, maar wat weet ek nou, after all. 
Die boyfriend het nie eintlik meubels om van te praat nie, maar Nola het mos nou 
alles. Mammie het mos gesorg! So trek sy. Nou waarsku ek haar dat sy nou van al 
haar onafhanklikheid afstand doen. Nou is sy in iemand anders se plek en 
verander die landskap nou onherroeplik. Nee maar dit is nou baie beter vir almal 
en ek hoef nie meer huur te betaal nie en dis nader aan die werk en bla bla bla 
di bla.

Man dit was nie 2 weke nie toe begin die krake wys. Maar so sit ek nou in 
Thabazimbi en het ook nou net foongesprekke om al hierdie dinge vanuit af te 
lei. Maar ek kan hoor by tye haar stemmetjie is baie dun. Lyk toe nou of sy ma 
en kinders daar was en die ma het rooiwyn op Nola se bank gemors en die kinders 
mors orals en maak krismisbeddens en die boyfriend doen niks en so gaan dit aan. 
Nou 'n ma sal mos nou nooit sê "ek het jou mos nou presies teen dit gewaarsku" 
nie. Maar ek het dit gedink! Hoe gaan hierdie kind nou daar uitkom? Nou moet sy 
weer trek, met 'n removal company, weer woonstel soek, weer deposito betaal, 
weer water en ligte se aansluiting betaal, en wat van haar werk? Die man werk 
saam met haar en is in 'n baie meer senior posisie as sy....Maar so byt sy maar 
vas vir nog 'n ruk. Sy maak maar of dit okay is en ek moenie worry nie. Nou kyk. 
As 'n kind vir jou sê "moenie worry nie", dan moet jy nie worry nie. Jy moet in 
'n blinde paniek ingaan.

Op daai stadium is Pietie ook in die Kaap. Hy bly saam met sy destydse verloofde 
in Parklands en hy is 'n Personal Trainer by Planet Fitness en ook 
self-aangestelde Hoofseun van die hele Weskaap en Nola se deeltydse pa. So sit 
ek mos nou een dag in Thabazimbi se Wimpy en geniet 'n Mega koffie. Nou bel Nola 
weer. Praat praat praat sommer so oor goed en noem toe iets van sy wat op die 
bank slaap. Maar kyk, ek is mos 'n baie lankmoedige mens soos die Bybel dit 
noem. In Afrikaans beteken dit ek vat baie lank om my moer te strip, maar as dit 
dan nou gebeur dan doen ek dit ordentlik. Ek plak daar geld neer op daai tafel 
en ek sê vir die twee vrouens saam met my: Fok dit. Tot hiertoe en nie verder 
nie.

10 Minute later is ek by die huis. Man, ousie en hond het hulle opdragte gekry. 
Ek pak my tassie. 20 minute later toe sleep daai SLK Joburg toe. Toe kon jy nog 
nie van Lanseria af vlieg Kaap toe nie. So in die ry bel ek vir Brits Travel en 
kry 'n kaartjie. One way pappie. Tweede oproep is na Pam Golding in Parklands. 
Daai tyd  sleep ek by Koedoeskop verby. Op cruise control. So 180 km/h. Derde 
oproep is na Pietie. Die stomme kind is in die middel van 'n oefensessie met 'n 
kliënt maar ek vergil hom so dat hy alles net daar laat val en spaander. 'N uur 
later tel ek die vliegtuigkaartjie op in Brits. Voor ek by Brits uit is het 
Pietie klaar na 2 woonstelle gaan kyk in Parklands. Toe ek Pretoria se buitewyke 
tref het Pietie in my bankrekening inge-log en die woonstel se deposito en huur 
betaal en die sleutel gekry. Toe ek die R21 vat na OR Tambo toe, toe is Pietie 
by Pick 'n Pay besig om leë bokse te laai. Toe ek insleep by die lughawe toe het 
ek Mario's Movers opge-line en Nola se adres gegee by die boyfriend se huis, 
hulle deposito betaal en hulle geboek vir die volgende oggend 7 uur. 

So land ek in die Kaap seker so 3 uur daai middag. Witwarm. Ek. Nie die Kaap 
nie. Die Kaap was koud. Ek kan nou nie die detail onthou van hoe ek dan nou 'n 
sleutel van Nola se plek gekry het nie, maar ek moes somehow. So weet sy nie 
eens ek is in die Kaap nie! Ek gaan toe na Pietie se plek toe. Die arme ding 
natuurlik in 'n algehele staat van bomskok. Hy probeer nog so flouerig protes 
aanteken maar ek stu net voort. So moet hy al sy afsprake vir die volgende dag 
kanselleer en hy moet saamgaan na Nola se plek en help pak. Ons slaan so saam 
met die treklorrie daar uit. Hulle wil nog daar rondstaan en pere bak soos net 
die Kapenaars kan, maar toe sien hulle "hierdie antie is nie vandag lus vir 
kakpraat nie". Ook seker maar die verwilderde uitdrukking op Pietie se gesig reg 
geinterpreteer.  Nou is Nola en die boyfriend by die werk. Salig onbewus. Maar 
ek en Pietie pak daai flat op binne 'n uur. Soos ek die bokse toemaak so dra 
hulle dit af. Nou is ons op die 6de verdieping. En Nola het een moerse groot 
sitkamerbank. Hoe de hel daai ding daar bo gekom het, weet ek nie, maar hy is op 
die ou end met kabels langs die kant van die gebou af van balkon tot balkon. Met 
my wat na elke vloer hardloop en die mense direk onder hulle vra om in te kom 
sodat ek die bank kan guide tot onder.  Absolute blerrie nagmerrie. Maar so 11 
uur die oggend is ons daar weg. Woonstel leeg.

By die nuwe woonstel gekom, word alles binne 'n uur uitgedra. En Pietie moet net 
spark. TV moet gekonnekteer word, hy moet heen en weer jaag vir kabels en 
extension cords en plugs en tools en ek verskree hom dat sy ore tuit. Dis nou 
sommer als sy skuld. Ek pak net uit. Boks vir boks. Niks word oorgeslaan om 
"later" te doen nie. Nee. Alles word NOU gedoen. Tussendeur steek ek sedelesse 
en preke af vir die arme Pietie dat ek hier teen 4 uur die middag heeltemal reg 
is om demone uit hom te verdryf. Elke sin begin natuurlik met "jou suster". 
Eintlik het hy fokol verkeerd gedoen, is gladnie deel van die drama nie, het in 
der waarheid laas in St 9 iets verkeerds gedoen, maar hy is nou die naaste en hy 
gaan dit nou kry. Met hindsight dink ek ek was op daai stadium pre-menopousaal, 
want die Here weet, geen mens met normale estrogeenvlakke sal so aangaan nie.

Daai middag 5 uur toe sit ons en koffie drink. Toe lyk dit of daar al jaaaaare 
mense in daai plek bly. Matte uitgegooi, beddens opgemaak, gordyne gehang, 
plastiekplant van Mr Price Home natgegooi, elke ding. Nou sms ek vir Nola: 
moenie huistoe gaan nie. Jy bly nie meer daar nie. Kom na whatever die adres 
was. Haar antwoord: huh? Ek antwoord terug: dis jou ma wat praat. Ek is nie 
ontvoer nie. Kom na hierdie adres. Ek sal verduidelik as jy hier is. So half 6 
die middag kom Nola daar aan. Pietie het intussen al gevlug van sy mal ma af. Sy 
stap in. Die totale ongeloof en verstomming en wanbegrip op die arme kind se 
gesig sal my bybly tot die dag van my dood. Ek val toe sommer met die deur in 
die huis. Hoor hier Nola, ek weet jys ongelukkig. Jy weet jyt 'n fout gemaak. 
Dis okay. Ek weet jy weet nie hoe om dit reg te maak nie. Ek het dit VIR jou kom 
doen. Ek weet jy dink ek is mal. Maar trust me, oor 2 maande gaan jy my bedank. 
Ek dink ons het 'n pizza gaan koop. Lekker geslaap in die nuwe plek. Pietie toe 
nou nie weer gesien op daai trippie nie. So is ek die volgende oggend terug. 
Daai aand sms sy my: Dankie Mamma. Jyt my lewe gered. Ek sal dit nooit vergeet 
nie. En die volgende man by wie sy ingetrek het 10 jaar later, is die man met 
wie sy vandag getroud is. So duidelik het sy daai lessie geleer.

More vertel ek julle wat die voorbeeldige Pietie dan nou verkeerd gedoen het in 
St. 9.

2 opmerkings: