2014-09-18

Die naakte waarheid oor ons almal se kinders....myne in elk geval.

Kyk nê, van die oomblik wat jy uitvind jy is swanger, dink jy mos nou jou kind 
is spesiaal. Hy kan eenvoudig nie dieselfde wees as almal anders se kinders nie. 
Hy skop meer, hyt meer hare, hy doen die oulikste goedjies op die sonar, hy lê 
tot sy duimpie en suig, en jy kan amper sweer hy smile. Hy gaan beslis begaafd 
wees, jy kan dit nou al sien. Skaars is hy 6 minute oud dan kan jy op daai 
verrimpelde, lelike, rooi gevreetjie nou kwansuis presies sien na wie hy lyk. 
Kak man. Ag en hy suig dan so sterk en hy slaap tog so soet. Alles wat hy doen 
is tog so oulik. Jy vergelyk hom ook sommer dadelik met die ander babas in die 
kraamsaal. Jy kan klaar sien hy is myyyyyle, of dan nou sekondes, vooruit met AL 
sy mylpale. Selle met my. Vergete is nou die 19 uur wat jy daar teen die mure 
uitgeklim het met 'n suurstofmasker oor jou gesig en taal wat by jou mond uitkom 
wat jy nie eens geweet het jy oor beskik nie. Vergete is die feit dat hierdie 
klein werfetter amper 4 kg geweeg het met 'n groot kop soos 'n siek tier. Ag nee 
wat. Hier voor jou lê net een van 3 dinge: dokter, dominee of prokureur. (Dis 32 
jaar terug onthou).

Nou gaan dit goed so vir die eerste 6 jaar. Intussen is daar nou nog een gebore. 
Goddank het daai tweede een nie eerste gekom nie, want dan het ek op daai 
kraamtafel gevra vir 'n histerektomie en 'n vasektomie en 'n sterilisasie en 3 
skrape. Ag maar hulle is tog so oulik. En mooi man. En slim! Praat baaaaaaie 
vinniger en beter as hulle maatjies, kan baaaaaaie vroeer skoenveters knoop en 
fietsry en ken al wat 'n kleur en 'n vorm is. Jy is diep teleurgesteld as jy nou 
vir die klein doktertjie vang snot eet, of die klein domineetjie hoor 
vloekwoorde presies in konteks gebruik op 3-jarige ouderdom. Dis seker maar 
omdat hy so besonder taalvaardig is. En die feit dat hy so goed kan lieg is net 
nog 'n bewys dat hy 'n prokureur gaan word. Dalk nog 'n advokaat. Selfs 'n 
regter is nie uitgesluit nie.

So gaan dit goed reg deur die laerskool. Klein Pietie doen sy take en sing in 
die koor en is klaskaptein en later selfs op die leerlingraad. Haartjies netjies 
in 'n kantpaadjie gekam. Skoentjies blink. Ag en hyt so netjiese handskriffie. 
(Okay dalk gaan hy dan nou nie 'n dokter word nie, maar daar's darem nog die 
Regte en Teologie). En so goed gebalanseerde ou seuntjie ook. Doen sport en 
speel kitaar en neem tot saksofoonlesse. (In hindsight het ek besef hyt seker 
iets gehoor van "sax lessons" en net summier opgesign).
Natuurlik is die plaaslike hoërskool nou nie naastenby goed genoeg vir jou klein 
Einstein nie. O nee. Hy moet opslag Pretoria toe gestuur word. Koshuis toe by 
Affies. Fout nr 1 in 'n reeks van baie. Aanvanklik gaan dit goed. Ook maar net 
omdat dit 'n seunsskool is en hy minimale kontak het met die teenoorgestelde 
geslag. So gaan hy nou maar deur St 6 en St 7 en so in die laaste deel van St 8 
besef ek, ek betaal nou 'n klomp geld vir hom om gemiddeld te wees in Pretoria, 
terwyl hy sommer verniet kan kom kak aanjaag by die huis. So kom hy terug 
Thabazimbi toe en gaan na die plaaslike Hoërskool toe. Hier reg onder sy ma se 
oë sal hy mos nou niks verkeerd kan doen nie. Min weet ek dat sy geslepenheid, 
alles nog  "on the job training" vir sy loopbaan as prokureur, nou nuwe hoogtes 
sal bereik. (Eers dink jy mos hulle gaan 'n prokureur word, dan besef jy hy gaan 
'n prokureur nodig kry......). Dadelik neem hy sommer Huishoudkunde as 'n vak! 
Ongehoord in daardie dae man! Daar was nog nie so iets soos Gasvryheidstudies 
nie, so hy is die enigste seun in die Huishoudkundeklas. Hier het my trots en 
toekomsdrome en snobisme 'n bietjie van 'n knock gevat want ek wou nou regtig 
nie hê hy moes 'n sjef word nie. Ag nee man! Onthou dis nou jaaaaaare voor 
Masterchef en hierdie hele ontploffing van die koskultuur. En hoe kan 'n kind 
wat nie koffie kan maak of 'n sny brood kan smeer nie, nou eens 'n vae belang hê 
in Huishoudkunde? Hy sit heeldag en Playstation speel en kyk TV en speel X-box 
en lees FHM, dis nou nie asof hy resepteboeke sit en lees nie. Die eintlike rede 
was natuurlik om in 'n klas vol meisies te wees. Maar so doen hy heel goed op 
skool. Sing in die revue en is op die leerlingraad. Kry selfs erekleure vir 
Kultuur, kan jy nou meer!!!! Ag en sy ma gryp na elke strooihalmpie as hy tog 
net 'n glimps sal toon van sy vroeëre briljansie. Hoe is dit dan moontlik dat 
dit so vervaag het met die jare? Wat het ek verkeerd gedoen? Hoekom word ek tog 
so gestraf????

So stort ek maar al my energie in sy jonger suster in. Want duidelik is hy 'n 
hopeless case beyond rescue. Hy gaan 'n kok word in die Spur met die 
wêreldrekord vir die hoogste score in Grand Theft Auto en ek gaan op 36 'n ouma 
wees. Rook en drink is toe op daai stadium the least of my worries. Mens se 
standaarde val mos maar soos wat hulle elke jaar ouer word. In St 6 sé jy: eks 
net bly hy rook nie. In St 7 dink jy: eks so bly hy drink nie. In St 8 is jy tog 
so dankbaar hys nie gay nie. In matriek het ek gedink: die enigste hoop en seker 
wete wat ek oor het op hierdie stafium,  is dat hy beslis nie 'n satanis sal 
word of dwelms sal gebruik nie. Daar's net een ding waarvoor hy banger is as vir 
'n naald, en dis die donker. So ek kon hom genadiglik nou nie om middernag sien 
rondsluip in Thabazimbi se begraafplaas met 'n naald tussen sy tone nie. Thank 
God for small mercies. Hys anyway ook te lui. Satanisme vat te veel effort. Hy 
sal liewer sondae in die NG Kerk gaan sit en slaap.

So probeer ek maar motiveer en aanmoedig. Ek is later SO desperaat ek sê vir hom 
hier in die middel van matriek, ek sal hom 'n R1000 gee vir elke onderskeiding 
wat hy kry. Ons praat hier van 'n R1000 in die jaar 2000! Ek weet ek het nie die 
geld nie, maar ek weet darem ook die kans dat hy 'n onderskeiding sal kry, is 
nul. Op daai stadium is hy nou al gedreig dat hy nie sal kan eksamen skryf nie, 
want hyt sy kop in rooi voedselkleursel gaan druk om by sy atletiekspan te pas. 
Een van die onderwyseresse het dit ook oor die jare heen haar heilige plig geag 
om my sommer van die skool af te bel met 'n bal-vir-bal verslag oor die kak wat 
hy daar aanjaag. Dan het hy met sy motorfiets sonder 'n helmet oor die skool se 
speed humps geramp, dan het hy die wyn in die Huishoudkundeklas gedrink. Dan 
dit. Dan dat. Ek kan nou nie meer worry nie. Ek hou maar net my ore oop vir 
enige satanistiese bedrywighede. Want in my kop het ek dit nou die "finale 
oortreding op pad hel toe" gemaak. Enige iets minder as dit bly 'n bargain en 
sal ek dit sien as 'n sukses. So is ons by Margate en die matriekuitslae word 
bekendgemaak. So hardloop ek 2 dae tussen Kersfees en Nuwejaar rond en probeer 
'n overdraft reël dat ek hom sy R4000 kan gee wat ek hom skuld. Ek en my groot 
bek.


4 opmerkings:

  1. Lol!!! My maag pyn al van die lag!!! Skryf NOG!

    AntwoordVee uit
  2. Sal jou leer... moet nooit 'n lui mens onderskat nie... LOL Ons ken van doen wat ons wil.

    AntwoordVee uit
  3. Nee ek kry jou om al my dogters se dirty work te doen....Ek sal jou betaal!

    AntwoordVee uit