2014-09-23

Ek en die Skoolhoof

So is Nola nou in St 6 in Thabazimbi. Pietie is mos nou nog in St 8 besig om te onderpresteer daar op Affies. Op daai stadium run hy 'n hoogs betalende snoepie vanuit sy klerekas waar hy al die skool se rokers voorsien van lighters wat hy vir next-to-nothing aankoop by Kit Kat Wholesalers in Pretoria-Wes. Hy verkoop ook AL die beskuit en koekies wat ek en my arme ma daar in Sunnyside op sondae, in groot liefde, met hom saamstuur. Nou word Nola-hulle mos nou ontgroen. So vee sy haar gat af aan die meeste van die goed. Weier point blank om met 'n onderstebo rok en 12 pony tails op die kop skooltoe te gaan. Ag nee wat, sy't haar rok se soom korter gemaak en sy paradeer skool toe en terug soos 'n wafferse runway model, min gepla met bord-om-die-nek dra en al daai kinderagtige goedjies. Op daai stadium het sy toe al klaar 'n ogie op Christiaan Greyling, wat toe in St 9 was, en met wie sy 16 jaar later sou trou. Maar daarvan is ek ook nou, soos van die meeste goedjies, onbewus.
So kom vertel Nola my sy is gekies om deel te neem aan die kleuresport se swemgala. Ek was effens verbaas hieroor, want ek het nou nie geweet sy het al 4 die swemslae onder die knie nie. Sy ook nie, sal dit later blyk. Nou kyk, ek is nou gladnie een van daai histeriese ouers wat soos 'n hoermeid op en af langs die swembad of netbalbaan of atletiekveld hardloop en vir my kind instruksies skreeu nie. Genadiglik is my kinders ook gladnie so talentvol dat dit ooit nodig was nie. As ek skooltoe gegaan het was dit meestal om te gaan verneem watse kak hulle nou weer aangejaag het. Ek stuur ook nie geld saam as die Hoof verjaar nie en skenk nie 'n bees 'n maand voor die Leerlingraadverkiesing nie. Die feit dat Pietie in die laerskool sowel as op hoërskool op die Leerlingraad was, is ten spyte van sy ma, nie as gevolg van sy ma nie. En ek glo hulle berou dit tot vandag toe. So het hy my ook in matriek kom vertel van iets soos 'n "Leerlingraad Ouerkomitee" wat ook nou moet werk om geld in te samel vir 'n geskenk aan die skool as die Leerlingraad se termyn klaar is. Ek het maar net vir die kind gelag. Gelukkig het hy verstaan.
Nou is dit die aand van die gala. So sit ek nou daar in die pawiljoen langs die swembad. Al die meisies is in swart Speedo's met swemkappies en swembrilletjies. Nola is in 'n bikini. Hare soos 'n meermin gekrul. Fake tan al 2 weke terug opgespuit en elke dag opge-touch. Nou begin hulle mos met rugslag, dan borsslag, dan vlinderslag, dan vryslag. Daai het sy darem geweet want sy't nogal vir my gesê sy's so bly hulle hoef nie in te duik nie want dan gaan haar bikini se broek afval. So klim hulle in en die skoot klap. Sy "swem" soos 'n dronk mens op haar rug en eindig uiteindelik op teen die oorkantste wal nadat sy oor 6 bane se toue en vlae en advertensieborde en ander deelnemers geswem het, met arms wat nie een oomblik opgehou maal en swaai en klap het soos 'n windmeul nie. Daar kry sy toe op 'n manier omgedraai en "swem" toe nou borsslag weer terug oor alles en almal en eindig somehow weer op in die baan waar sy begin het. Toe is dit mos nou die vlinderslag se beurt. Nou kyk, ek sal een ding van my kinders sê: hulle ken hul eie beperkinge. After all het hulle al die jare vir my byderhand gehad om dit aan hulle uit te wys. So toe sy nou sien die ander deelnemers is al halfpad weg met die vlinderslag, toe besluit sy: fok dit, en sy klim net daar uit. Stap ewe nonchalant na haar handdoek toe en begin afdroog. Die cheer leaders en die spankapteine en die onderwyser, ou Ben Liebenberg, begin almal tegelyk skreeu en op die kind afstorm om haar terug in die water te kry. True to character, vee sy haar gat af aan hulle. Sy stap rustig pawiljoen toe en kom sit by my. Ou Ben agterna, bloedrooi in die gesig! Hy sê vir my: Doen iets! Laat haar klaarmaak! Maak nie saak of sy laaste kom nie, ons span soek die punt vir deelname! Ek het hom net so aangestaar. As ek in die toekoms kon insien sou ek vir hom kon sê: Jaaaaa ou Ben.....ons praat maar weer oor "Doen iets!!!" as jy oor 'n jaar van nou af vir Nola probeer Wiskunde leer. Needless to say, was dit die laaste wat sy ooit vir 'n sportspan gekies is.
Maar nou is dit die groentjiekonsert. Ook hier het sy eintlik geweier om deel te neem, maar dit blyk toe dat weiering gelykstaande is aan skorsing en 'n vuurpeleton. So het sy die matriek in beheer oortuig om haar net asseblief nie iets te laat doen waar sy herken sal word nie. Die versoek is toe darem toegestaan. Sy is toe 'n skaap met 'n papierbord met 'n rekkie aan oor die gesig, met so skaapgesiggie op die papierbord geteken, wit rugbybroekie en wit t-shirt. Totaal onherkenbaar. So begin die konsert 6nm. Min het ek nou daai tyd geweet dis die absolute jaarlikse sosiale kalender hoogtepunt in Thabazimbi. Met die gevolg ek kom so 10 voor 6 by die skoolsaal aan. Toe is daar seker al 3000 mense binne en nie plek vir 'n muis nie. Ook nie vir 'n skaap se ma nie. Ek staan toe maar daar teen die muur binne die saal. Een van die matrieks kondig toe af dat die standerd sesse se ouers moet voorkeur kry en daar is nog 'n paar sitplekke oop heel voor. So charge ek vir 'n sitplek en soos die genade of die voorsienigheid of die duiwel of die noodlot dit wou hê, beland ek tussen die skoolhoof en die voorsitter van die Beheerliggaam. Nou hier gaan ek nou gladnie name noem nie. Maar onthou ons praat hier van 'n klein dorpie. Glo my maar net as ek sê die dominee, die skoolhoof, die voorsitter van die Beheerliggaam, en die Hoofouderling is nie 4 mense nie, maar 2 mense. Figure julle dit maar self uit. Maar so sit ek nou maar en gesels met die tweetjies. Dis mos nou maar 'n klein dorpie en almal ken mos nou maar vir almal. Konsert is later verby en nou is die standerd sesse mos nou klaar ontgroen en alles is weer normaal en kan Nola konsentreer op haar roemryke akademiese loopbaan.
Die volgende dag gaan haal ek vir Nola by die skool. Met my motorfiets. Ek stop op dieselfde plek waar ek altyd stop. So sien ek van haar klasmaats, maar ek sien haar nie. Ek haal die helmet af en bly so op die bike sit. Ek onthou nog die spesifieke seun wat met my staan en gesels het, ook een van Nola se laerskoolmaats. Hy sê my toe Nola se klas het laaste periode LO gehad en hulle was swembad toe. Ek staan toe maar en wag want sy weet waar ek haar altyd optel. So sien ek haar aangestap kom. Volgende oomblik kom die Skoolhoof ook uitgestap. Hy bly daar op die skoolterrein, seker 50m van die skool af. Net toe Nola regmaak om op die bike te klim, storm die skoolhoof, voor Nola en 'n klomp kinders, op my af. Hy begin sonder waarskuwing op my skree: Wat maak jy hier!!??? Ek het gesê ek soek jou nie weer op die skoolterrein nie!!!!! Ek is natuurlik totaal kontverstom. Ek het geen idee wat aangaan nie. Nola is in totale en algehele skok en heel verstaanbaar, in trane. Ek probeer nog verduidelik wie ek is maar hy gee my eenvoudig nie 'n kans om te praat nie, hy hou net aan skreeu op my. Ek is SO geskok dat ek net die bike start en so vinnig as moontlik by die huis wil kom. Daar gekom, bel ek dadelik my man. Hy hoor ek is heeltemal histeries en sê ek moet nou net kalm bly en woord vir woord gaan neerskryf wat gebeur het en wie wat gesê het en 'n presiese weergawe neerskryf van alles wat gebeur het. So maak ek toe. Maar so ver ek skryf, so meer befok raak ek. Op daai stadium het ek net aanhoudend vir Nola gesê: Niemand, maar niemand, sal so met my praat nie. En veral nie voor jou nie. Toe ek daai verslaggie neergepen het, toe is ek soos 'n bul wie jy met 'n terpentynkwas onder die gat bygekom het. Ek maak toe 'n afskrif van die verklaring, klim op my bike en gaan lewer dit af by die Voorsitter van die Beheerliggaam, ook die dominee. Een mens. Hier wil ek noem dat hierdie 'n bitter ordentlike man was, met sy integriteit bo verdenking. Ek verduidelik aan hom wat gebeur het. Obviously ken hy my baie goed, aangesien hy die vorige aand langs my gesit het by die groentjiekonsert. Hy is totaal stomgeslaan deur die Skoolhoof en Hoofouderling, een mens, se optrede en kan dit gladnie verklaar nie. Hy vra my wat wil ek hê moet gebeur. Ek het net een versoek: Hy gaan my voor my kind om verskoning vra. Ek gaan toe huistoe. Die aand bel die Dominee my, hy het die verklaring aan die Hoof gegee, die volgende dag is vrydag en die hele skool is Naboomspruit toe vir die Interhoër en hulle sal die maandag terugkom na my toe. Daai vrydagmiddag kom een van die ander dominees van een van die ander moederkerke na ons huis toe. Hy wil by my kom pleit om die hele saak te laat vaar en dit gaan nou so groot verleentheid vir die Hoof wees en bla bla bla di bla. O....en wat van die verleentheid vir my? Ek sê vir hom ek soek niks behalwe 'n apologie en 'n verduideliking van die Skoolhoof nie, dis al. Dis seker nie te veel gevra nie?
So is die naweek verby en die maandagoggend bel die dominee my en sé die skoolhoof ontken dat hy op MY geskreeu het en hy het blykbaar my vir iemand anders aangesien en hy gaan om die rede my NIE om verskoning vra nie, allermins homself voor 'n St 6 dogtertjie verneder. En daar is 'n vergadering belê met al die partye daai maandagmiddag 2 uur in die pastorie se studeerkamer en ek moet maar 'n prokureur saambring. So kry ek 'n prokureur. My eerste keuse van prokureur is nie bereid om my te help nie aangesien hy ook op die kerkraad en die beheerliggaaam is en hy namens die skoolhoof optree. So stop ek in 'n stofwolk met my scrambler voor die pastorie die middag 2 uur. Die dominee het my nogal gebel om te sê hulle hou dit juis op 'n neutrale terrein want hulle wil nie hê ek moet "geïntimideerd" voel nie. Shame. Min weet die dominee op daai stadium dat daar bitter min mense is wat my intimideer. Daar sit almal toe. Die dominee, die voorsitter van die beheerliggaam, die skoolhoof, die hoofouderling, die prokureur, die kerkraadslid. Dit is 3 mense, nie 6 nie. Ek, en my prokureur. Ons 5. Nou is dit die kant toe en daai kant toe. Bottom line, ek weier om in te gee en die skoolhoof weier om om verskoning te vra. Hy is bereid om my DAAR om verskoning te vra, maar nie voor Nola nie. Hy kan gladnie verstaan wat my issue is met dit nie. Ek staan toe daar op en met trane wat loop oor my wange van woede, sê ek vir hulle: Ek is bereid om jou verskoning nou en hier te aanvaar en hierdie storie agter my te sit, maar watter les leer ek vir my kind? Dat iemand onverdiend en ongevraagd op haar ma kan skree en gil en ek moet dit maar net vat omdat dit 'n gesagsfiguur is?? Ek is daai kind se hero, al kan julle dalk nie verstaan hoekom nie! En JY SAL my om verskoning vra voor haar! Toe is die skoolhoof en sy prokureur buitentoe vir 'n lang ruk. Toe hulle terugkom is die hoof baie stug en die prokureur het net vir my gesê ek moet die volgende oggend, dinsdag, 8 vm by die skool wees. Ek is huistoe en het niks vir Nola gesê nie. Die volgende oggend is ek 8 uur na die skool toe. Ek het aangemeld by Ontvangs en 'n bitterlik nors ontvangsdame het gesê ek kan maar deurstap, die Hoof wag vir my. Daar gekom het hy my gevra om te sit. Ek het gesê: Nee dis reg ek staan sommer. Toe druk hy die knoppie van die interkom op sy lessenaar en kondig af: Kan Nola Heyns in St 6E asseblief na die Hoof se kantoor toe kom. So paar minute later toe stap sy daar in, bleek om die kiewe. So effense glimlaggie toe sy my sien. Toe sê hy: Nola, ek wil voor jou vir jou ma om verskoning vra dat ek op haar geskreeu het. En ek wil vir jou ook om verskoning vra. Aanvaar jy my verskoning? Toe sê sy: Ja meneer. Toe sê hy: Goed dan, jy kan teruggaan na jou klas toe. Toe vra hy my: Kan ek vir ons tee bestel? Toe sê ek: Nee meneer, ek dink nie ek en jy gaan ooit saam tee drink nie. Toe draai ek om en loop uit, klim op my bike, en ry huistoe. Daai middag kom Nola ingehardloop in die huis. Raai wat?? Die skoolhoof gaan vervroegde pensioen vat en hy waai die einde van die maand.
En vandag is Nola 30 jaar oud en sy behandel mense met respek en sy laat niemand, maar niemand, met HAAR praat asof sy 'n stuk gemors is wat die kat ingedra het nie......
Sent from my BlackBerry® wireless device




2 opmerkings:

  1. Fantasties! Op 'n manier is ek verskriklik trots op jou - al het dit so lank gelede gebeur. Wow!

    AntwoordVee uit
  2. Ek sit hier met trane in my oe! Jy is ook nogal my held hoor....

    AntwoordVee uit