2014-09-12

Troue in Mogwase – deel 2

So sit ons toe nou daar in die warm son op 'n saterdagoggend 
kwart oor 11 in Mogwase by 'n troue wat die baie grand kaartjie 
gesê het gaan 10 uur begin. Die gel op my hare is later kliphard 
gebak. En Maggie wat nou elke 3 minute sê: "ek kon nog 
geslaap het" irriteer die waks uit my uit. Sy wissel dit af met: "nou 
het ek nog 'n donnerse R1000 speeding fine ook gekry". 
Dit word nou opgevolg deur 'n beskuldigende kyk na my, direk 
gevolg deur 'n swaar sug. Repeat. Hier half 12 toe kan ek nie 
meer nie. Toe is ons altwee honger en ons moet in elk geval 
petrol ingooi vir die terugtog en nog 'n kaartjie gaan koop en nog 
geld trek vir 'n geskenk ook.

So ry ons die metropolis van Mogwase binne. Die eerste en 
enigste garage is gesluit. Nou debatteer ons verder of die kar 
Sun City sal haal. So ry ons in stilte Sun City toe. Maggie steeds 
mompelend oor verlore slaap en spoedkaartjies en ek naarstigtelik 
besig om te google vir 'n egskeidingsprokureur. Dalk kan ek sommer 
direk gaan vir 'n annulment, want regtig. So haal ons darem 
Sun City. Ons geld is min maar so is daar mos altyd 'n silwer randjie 
en kom ek triomfantlik uit die garage winkeltjie uit met 2 van daai 
groot Bar Ones. "R13,50 each but today only 2 for R20,00!!" 
Vergete is alle gedagtes aan egskeidings en annulments! Ek volg 
dit toe op met 'n lekker garage pie! Ons kry 'n kaartjie by die 
Sun Village Spar en die 3de ATM werk gelukkig! Nadat ek 'n 
hartroerende boodskap geskryf het vir 2 mense wat ek nog nooit 
ontmoet het nie, maak ons toe nou, "in high spirits" ons pad terug 
na die trou venue toe.

So 2 km om te gaan stop ons by 'n 4-rigting stop. Van links kom 
daar toe 'n moerse stoet karre. Of seker dan nou 'n konvooi. Weet 
nou nie of jy van karre op pad na 'n troue praat van 'n stoet nie. 
Dis die een Range Rover Evoque na die volgende Mercedes en 
Lexus en BMW X5. Dis linte en ballonne net waar jy kyk en toeters 
wat raas. Goddank kan mens nie aan ons Volvo sien of hy 'n paaiement 
agter is nie. So val Maggie in by die konvooi en ek skraap nog 
R200 bymekaar en druk dit ook in die kaartjie in met die mooi wense. 
Laat ons nou nie vandag gatte van onsself maak nie. Ons kan môre 
worry oor die speeding fine.

To be continued...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking