So bly Nola mos nou in Kaapstad nadat sy van haar modelstories terug is uit Italië na 5 jaar. Sy's nou klaar met haar 1 jaar voltydse kursus by die Cape College en werk in 'n haarsalon in Seepunt. So raak sy nou verlief op 'n mede-haarkapper. Moerse nice ou. Maar 'n hele paar jaar ouer as sy. Op daai stadium is sy seker so 21 en die ou die beste deel van 33 of 34. Hy het 2 seuns uit 'n vorige verhouding van seker so 10 en 8 jr oud op daai stadium. Sy bly toe in die woonstel wat ek vir haar gekry het en op daai stadium steeds betaal, want 'n appie verdien mos R200 per maand. Lekker flat, daar agter die Mount Nelson in Tuine. Maar na so ruk toe jeuk haar gat nou en wil sy by die boyfriend intrek. Ek gooi net wal en keer vir al wat ek werd is, maar wat weet ek nou, after all. Die boyfriend het nie eintlik meubels om van te praat nie, maar Nola het mos nou alles. Mammie het mos gesorg! So trek sy. Nou waarsku ek haar dat sy nou van al haar onafhanklikheid afstand doen. Nou is sy in iemand anders se plek en verander die landskap nou onherroeplik. Nee maar dit is nou baie beter vir almal en ek hoef nie meer huur te betaal nie en dis nader aan die werk en bla bla bla di bla. Man dit was nie 2 weke nie toe begin die krake wys. Maar so sit ek nou in Thabazimbi en het ook nou net foongesprekke om al hierdie dinge vanuit af te lei. Maar ek kan hoor by tye haar stemmetjie is baie dun. Lyk toe nou of sy ma en kinders daar was en die ma het rooiwyn op Nola se bank gemors en die kinders mors orals en maak krismisbeddens en die boyfriend doen niks en so gaan dit aan. Nou 'n ma sal mos nou nooit sê "ek het jou mos nou presies teen dit gewaarsku" nie. Maar ek het dit gedink! Hoe gaan hierdie kind nou daar uitkom? Nou moet sy weer trek, met 'n removal company, weer woonstel soek, weer deposito betaal, weer water en ligte se aansluiting betaal, en wat van haar werk? Die man werk saam met haar en is in 'n baie meer senior posisie as sy....Maar so byt sy maar vas vir nog 'n ruk. Sy maak maar of dit okay is en ek moenie worry nie. Nou kyk. As 'n kind vir jou sê "moenie worry nie", dan moet jy nie worry nie. Jy moet in 'n blinde paniek ingaan. Op daai stadium is Pietie ook in die Kaap. Hy bly saam met sy destydse verloofde in Parklands en hy is 'n Personal Trainer by Planet Fitness en ook self-aangestelde Hoofseun van die hele Weskaap en Nola se deeltydse pa. So sit ek mos nou een dag in Thabazimbi se Wimpy en geniet 'n Mega koffie. Nou bel Nola weer. Praat praat praat sommer so oor goed en noem toe iets van sy wat op die bank slaap. Maar kyk, ek is mos 'n baie lankmoedige mens soos die Bybel dit noem. In Afrikaans beteken dit ek vat baie lank om my moer te strip, maar as dit dan nou gebeur dan doen ek dit ordentlik. Ek plak daar geld neer op daai tafel en ek sê vir die twee vrouens saam met my: Fok dit. Tot hiertoe en nie verder nie. 10 Minute later is ek by die huis. Man, ousie en hond het hulle opdragte gekry. Ek pak my tassie. 20 minute later toe sleep daai SLK Joburg toe. Toe kon jy nog nie van Lanseria af vlieg Kaap toe nie. So in die ry bel ek vir Brits Travel en kry 'n kaartjie. One way pappie. Tweede oproep is na Pam Golding in Parklands. Daai tyd sleep ek by Koedoeskop verby. Op cruise control. So 180 km/h. Derde oproep is na Pietie. Die stomme kind is in die middel van 'n oefensessie met 'n kliënt maar ek vergil hom so dat hy alles net daar laat val en spaander. 'N uur later tel ek die vliegtuigkaartjie op in Brits. Voor ek by Brits uit is het Pietie klaar na 2 woonstelle gaan kyk in Parklands. Toe ek Pretoria se buitewyke tref het Pietie in my bankrekening inge-log en die woonstel se deposito en huur betaal en die sleutel gekry. Toe ek die R21 vat na OR Tambo toe, toe is Pietie by Pick 'n Pay besig om leë bokse te laai. Toe ek insleep by die lughawe toe het ek Mario's Movers opge-line en Nola se adres gegee by die boyfriend se huis, hulle deposito betaal en hulle geboek vir die volgende oggend 7 uur. So land ek in die Kaap seker so 3 uur daai middag. Witwarm. Ek. Nie die Kaap nie. Die Kaap was koud. Ek kan nou nie die detail onthou van hoe ek dan nou 'n sleutel van Nola se plek gekry het nie, maar ek moes somehow. So weet sy nie eens ek is in die Kaap nie! Ek gaan toe na Pietie se plek toe. Die arme ding natuurlik in 'n algehele staat van bomskok. Hy probeer nog so flouerig protes aanteken maar ek stu net voort. So moet hy al sy afsprake vir die volgende dag kanselleer en hy moet saamgaan na Nola se plek en help pak. Ons slaan so saam met die treklorrie daar uit. Hulle wil nog daar rondstaan en pere bak soos net die Kapenaars kan, maar toe sien hulle "hierdie antie is nie vandag lus vir kakpraat nie". Ook seker maar die verwilderde uitdrukking op Pietie se gesig reg geinterpreteer. Nou is Nola en die boyfriend by die werk. Salig onbewus. Maar ek en Pietie pak daai flat op binne 'n uur. Soos ek die bokse toemaak so dra hulle dit af. Nou is ons op die 6de verdieping. En Nola het een moerse groot sitkamerbank. Hoe de hel daai ding daar bo gekom het, weet ek nie, maar hy is op die ou end met kabels langs die kant van die gebou af van balkon tot balkon. Met my wat na elke vloer hardloop en die mense direk onder hulle vra om in te kom sodat ek die bank kan guide tot onder. Absolute blerrie nagmerrie. Maar so 11 uur die oggend is ons daar weg. Woonstel leeg. By die nuwe woonstel gekom, word alles binne 'n uur uitgedra. En Pietie moet net spark. TV moet gekonnekteer word, hy moet heen en weer jaag vir kabels en extension cords en plugs en tools en ek verskree hom dat sy ore tuit. Dis nou sommer als sy skuld. Ek pak net uit. Boks vir boks. Niks word oorgeslaan om "later" te doen nie. Nee. Alles word NOU gedoen. Tussendeur steek ek sedelesse en preke af vir die arme Pietie dat ek hier teen 4 uur die middag heeltemal reg is om demone uit hom te verdryf. Elke sin begin natuurlik met "jou suster". Eintlik het hy fokol verkeerd gedoen, is gladnie deel van die drama nie, het in der waarheid laas in St 9 iets verkeerds gedoen, maar hy is nou die naaste en hy gaan dit nou kry. Met hindsight dink ek ek was op daai stadium pre-menopousaal, want die Here weet, geen mens met normale estrogeenvlakke sal so aangaan nie. Daai middag 5 uur toe sit ons en koffie drink. Toe lyk dit of daar al jaaaaare mense in daai plek bly. Matte uitgegooi, beddens opgemaak, gordyne gehang, plastiekplant van Mr Price Home natgegooi, elke ding. Nou sms ek vir Nola: moenie huistoe gaan nie. Jy bly nie meer daar nie. Kom na whatever die adres was. Haar antwoord: huh? Ek antwoord terug: dis jou ma wat praat. Ek is nie ontvoer nie. Kom na hierdie adres. Ek sal verduidelik as jy hier is. So half 6 die middag kom Nola daar aan. Pietie het intussen al gevlug van sy mal ma af. Sy stap in. Die totale ongeloof en verstomming en wanbegrip op die arme kind se gesig sal my bybly tot die dag van my dood. Ek val toe sommer met die deur in die huis. Hoor hier Nola, ek weet jys ongelukkig. Jy weet jyt 'n fout gemaak. Dis okay. Ek weet jy weet nie hoe om dit reg te maak nie. Ek het dit VIR jou kom doen. Ek weet jy dink ek is mal. Maar trust me, oor 2 maande gaan jy my bedank. Ek dink ons het 'n pizza gaan koop. Lekker geslaap in die nuwe plek. Pietie toe nou nie weer gesien op daai trippie nie. So is ek die volgende oggend terug. Daai aand sms sy my: Dankie Mamma. Jyt my lewe gered. Ek sal dit nooit vergeet nie. En die volgende man by wie sy ingetrek het 10 jaar later, is die man met wie sy vandag getroud is. So duidelik het sy daai lessie geleer. More vertel ek julle wat die voorbeeldige Pietie dan nou verkeerd gedoen het in St. 9.
2014-09-16
Ek breek op met Nola se boyfriend...
Teken in op:
Plaas opmerkings (Atom)
Dankie Hester, jy maak my dag!
AntwoordVee uitJy is die BESTE!!!
Vee uit