Hier is vir julle nog 'n "blast from the past" terwyl ek nou obviously vandag verdwaal het in Memory Lane.....
Kyk, ek verstaan heeltemal van werkende ma's en 'n besige skedule en die lewe in die stad. So ek kritiseer nie. En ek oordeel ook nie. Ek blog net. Oor MY lewe....
My kinders se verjaarsdae is tot hierdie dag toe die 2 belangrikste dae van my jaar. So was dit nog altyd. En so sal dit altyd wees. En saam met dit kom die partytjie natuurlik. Daar was nie 'n tema nie. Daar was ook nie 'n kleur nie. Alles was goedkoop, so daar was ook nie regtig veel van 'n budget nie. Daar was nie 'n" party planner" of 'n "event organiser" nie. Daar was nie 'n plek soos 'n Spur waar jou kind 'n kartonburger gaan eet en tussen 3 en 4nm op die oorgroot plastiekspeelgoed rondklouter en die waiters hulle moet oppas nie. Maar die meeste sit mos en Playstation speel in elk geval. In die Spur.
Nee, dit was gladnie so nie. Dit het begin waar jy saam met jou ma Checkers toe gaan. Dan stap sy in die skryfbehoefte- en speelgoedgang af. Dan koop sy daai uitnodigings wat in 'n skryfblok is. Daar was net 2 keuses: Seuns of Meisies. Dit is net vir die maatjies by die skool wat jou ma nie gaan sien nie. Jy moet dit môre voor skool vir hulle gee. En daar is ook nie 'n spasie vir RSVP nie. Hulle sal sommer vir die kind self sê as hulle kom. En hoekom sou hulle nou NIE kom nie? En die uitnodiging is doodeenvoudig en straight forward: Pietie word 9 jaar oud. Datum: 7 Oktober. Tyd: 3nm. Adres: Pimasingel 44. Daar is nie 'n selfoonnommer nie, daar is ook nie 'n tyd wat die partytjie moet klaar wees nie. Jou vriendinne en al hulle kinders nooi jy sommer as jy hulle sien. Almal gaan anyway kom. Maak ook nie saak of dit seuntjies of dogtertjies is of wat hulle ouderdomme is nie. O ja, en die partytjie word OP die kind se verjaarsdag gehou, behalwe as dit nou 'n sondag is. En net daar begin daai kind se opgewondenheid en afwagting.
Bitter min van die ma's het gewerk. As 'n ma gewerk het, het sy jou laat weet dat die ousie saam met die kind sal kom. Of as hulle oud genoeg is, kom hulle op hul eie. Met hulle fietse wat die hele driveway vol lê. Dan sit al die ousies op die gras, elk met haar blikbeker vol rooi koeldrank en elkeen met 'n groot stuk koek! En hulle help keer dat dit nie handuit ruk nie, of troos as dit te laat is....
Ek het 'n boek gehad wat ek by Leserskring bestel het: Veels geluk liewe maatjie! As die uitnodigings dan nou afgegee is per hand, dan kom jy nou een aand met storietyd in die kamer in en sê: Kom ons kyk watse koek wil jy hê vir jou verjaarsdag. Daai gesiggie!!!!! Die een wat nie verjaar nie het natuurlik meer te sê as die een wat verjaar. Veral as dit Pietie was wat verjaar het. Dan het Nola aangegaan asof dit sy is wat verjaar. Kort-kort moet die gemoedere gekalmeer word as dit op loop gaan. Dan word die boek nou deurgeblaai. Hulle altwee sit amper bo-op jou. Elke foto van 'n koek word luidkeels begroet met 'n "Jaaaaaa!!!!!!" of 'n "Neeee!!!!" En so gaan ons nou aand vir aand deur dieselfde boek. Elke aand direk na die storie. Kyk, daar MOET altyd 3 stories wees. Eers 'n storie uit 'n kinderboek uit. Pietie en Nola maak beurte om te kies. En dan wil die een ook nou nie van die ander een se storie hou nie. Op- en aanmerkings word deurgaans gemaak. Veral deur Nola. Van hoe stupid die storie nou is, tot waar sy nou aspris lag op die verkeerde plekke. En so gaan ons nou aan. Die boek se naam was: Goue lint, my storie begint. So DIK boek. En as jy nou die eerste reël lees en jy noem die held of heldin se naam, dan gil Pietie en Nola nou gelyktydig uit: Dis ek!!!!!!! Is nie, dis ek!!!!! Dis ek Nola! Ek het die storie gekies!!!!!! Dit maak nie saak nie, ek het eerste gesè!!!! En dan kom ons by die tweede reël. Dan is dit nou die Bybelstorie. Jy werk hom deur van Adam en die listige slang, na die verraderlike Kain, aka Nola, wat haar broer doodgemaak het, verby Jona en die Vis en Josef, aka Pietie, wat deur sy broers, suster in hierdie geval, verkoop is. En so by elke storie werk jy nou 'n sedelessie in. En die derde storie is nou die een wat ek self moet opmaak. Uit my kop uit moet vertel. Vir 10 jaar of langer. 365 maal per jaar. Amper 4000 stories. En moenie dat hulle jou vang dat enige storielyne of twists herhaal word nie. En nou kom die boek oor die verjaarsdagkoeke ook nog by. Nou werk jy deur die voordele van Bennie Boekwurm bo diè van enige iets wat moet regop staan. Jy blaai vinnig verby die kastele en die diere en die trekkers en probeer die kind oortuig hoe mooi is die hanswors of die treintjie. Maar niks. Hy soek die kasteel. Die 4 hoeke is swiss rolls. Toegeplak met icing. Die kasteel self is 'n vierkantige chocolatekoek. Die gras is klapper in 'n plastieksakkie geskud met groen voedselkleursel by. Nou soek hy op slag plastieksoldate bo-op die koek en "baddies" op die groen klappergras wat die kasteel "attack". In Aggeneys? Yeah right. Kasteel was toe op die ou einde toegepak met cowboys bo-op en Indiane op die gras en sommer 'n paar plastiekdiere wat rondgewei het ook, so tussen die bloedvergieting deur. Dan is dit mos nou verskillende groottes diere uit verskillende pakkies. Dan sal Kain nou vir 'n week lank vir Josef terg omdat die plastiekhoender groter as die cowboy se perd is......
Die bak en versier van die koek is ook natuurlik amper groter opwinding as die partytjie self. Selfs as Tannie Liana die koek gemaak het as dit nou regtig 'n ingewikkelde bestelling was, was ons almal hou vir hou deel van die proses. My vaardighede het nou net voor plastiekversiersel en marsepein en daai klas van goed gestop. Maar ek kon darem iets soos 'n trein laat lyk met watte vir stoom, en waens vol liquorice all sorts. En die dag voor die partytjie sé jy vir daai kind: Jy moet vinnig na skool huistoe kom vanmiddag, ons moet die partytjiegoed maak. Hulle is SO opgewonde hulle huil omtrent as jy sê hulle moet eers uittrek en gaan hande was. Dan tree hulle aan vir diens. Van vingerbeskuitjies (Boudoirkoekies) maak ons karretjies. Die wiele is Smarties. Vasgeplak met icing. Bo-op kom ook icing, vir die jellybaby mannetjie om op vas te sit. Sy onderlyf is met 'n skêr afgeknip. Dit word verorber. En ek moet al die swart jelliebabies eers self eet. Ou Suid-Afrika......
Op 'n Mariebeskuitjie word ook icing gesmeer. 'n Leë Ice Cream cone word op hom geplak. Met 'n Marshmallow heel bo. En 'n gesiggie opgespuit met so dun spuit vol icing. Bakke vol Nik Naks en chips word uitgesit. Daar is nie iets souts binne 'n 300m radius van daai tafel nie. En daar is geen entertainment nie. Ons klomp ma's entertain hulle! Ons speel vroteier en krewe en krappe en handjieslaan en bok in die hok en alles wat jy aan kan dink. Die gewildste speletjie was eenvoudig dat almal vir almal gejaag het. Touchers op groot skaal! Maatjies kom in hulle hordes aan. Geskenke is basies. Vetkryte, puzzles, kokipenne, boeke, bubble bath, R10 in 'n kaartjie, karretjies, krale, inkleurboeke, Barbieklere, 'n bal, pajamas, enige iets. Dit word oopgemaak, die maatjie word weer bedank, en dan word dit gebêre tot vanaand. Om vir 'n tweede keer daai lekker te beleef. Op die tafel is net aanmaakkoeldrank. Seven-up. Raspberry, Cream Soda en Kontiki. Rooi, groen en geel. En plastiekglasies. Kinders papnat gesweet en vol gras in die hare en klere vuil, kom tafel toe gehardloop en soek nog koeldrank. Hulle gil en jil en skree en hardloop om daai huis, deur die beddings, deur die huis, met die hond agterna tot hulle tonge sleep. Die ma's kompeteer nie met mekaar nie. Dis hoe partytjies maar deur die bank gehou is. En dan kom jou pa vroeg huis toe. Net betyds om die koek te sny en vir jou te sing en die kersies uit te blaas. En dan gaan haal ek die kamera. Die cheap mik-en-druk. En ons neem nie 580 foto's vir facebook nie. Die film het net 12 foto's op, en jy moet vir elke een se ontwikkelling betaal, of dit nou 'n flop is of nie. So ons neem net een van jou by die koek.
En as dit 'n naweekaand is, dan steek jou pa 'n vuur aan. Dan bly jou ma-hulle se vriende en hulle kinders. Al die ander maatjies is eers huistoe toe die son gesak het. Nou gaan die spelery net "much better" voort. Dié keer in die donker. Goed word in die vuur gegooi, kinders jaag mekaar met gloeiende stokke, ek skree soos 'n mak heks.... Laat die aand dra jy 'n uitgeputte kind bed toe. Te moeg om te bad. Of tande te borsel. Maar baie happy. En die volgende oggend sê daai kind vir jou, soos elke jaar: Dit was die lekkerste partytjie van my lewe. Dankie Mamma.....
Sent from my BlackBerry® wireless device
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking