2014-10-22

Tiny Living....

Met al hierdie troues wat ek en Maggie bygewoon het die afgelope ruk, het dit my aan die dink gesit oor troues en al die tradisies daaraan verbonde. Eintlik het dit ook gemaak dat ek SO oor troues is, dis net nie snaaks nie.
Ek weet nie hoeveel van julle is vertroud met die begrip "Eurosentrisme" nie. Dis basies 'n verheerliking van alles wat "westers" of "beskaafd" is. Alles wat jou "wit" kultuur voorskryf, is reg en aanvaarbaar. Alles anders is barbaars. Is dit regtig?
Terwyl ek nou so daar gesit het op die tradisionele Tswanatroues waarheen ons genooi was, sit ek die spul nou so en bekyk en dink by myself: Is ons nie bitterlik aanmatigend om ons eie kultuur voorop te stel en elke ander kultuur af te skiet nie? So sing en dans die mense nou en eet pap en afval en hompe vleis. By ons druk die bruidegom sy kop onder die bruid se trourok in en haal die kousband af met sy tande. Koue vis word gerol in rys en bedek met swart papier wat gemaak is van seewier en ten hemele stink as jy dit naby jou mond bring, dis hoekom jy dit moet doop in sojasous en met sterk gemmer en wasabi moet bedek. Maar sushi is mos deftig. Afval is barbaars. By ons gooi die bruid haar bruidsruiker oor haar kop en die ongetroude dame wat dit vang is die volgende een om te trou. Die bruidegom doen dieselfde met die kousband en die ongetroude man wat dit vang, is die volgende een om te trou. Dan praat ek nou nie van die troues waarop ek al was waar die gaste, bo en behalwe die geskenk wat hulle gebring het, nog geldnote aan die bruid se rok ook moet vassteek as hulle laataand vertrek op wittebrood nie! En dan is daar nog die "something old, something new, something borrowed, something blue" tradisie. En die bruidegom mag die bruid gladnie sien voor die tyd op die troudag nie. Dit is bad luck. Maar dis 'n goeie teken as dit reën. En kinders word nie toegelaat nie. So is ons maar net so bygelowig met al ons ou gebruikies en gewoontetjies. Maar as ons dieselfde inheemse gebruike by 'n ander kultuur waarneem, word dit onmiddellik afgemaak as "primitief".
By 'n Afrikatroue word die hele gemeenskap genooi en almal is daar, elke oom en tannie en niggie en neef, en almal help betaal. Daar word nie juis geskenke gegee vir die bruidspaar nie, want die mense het eenvoudig nie die geld daarvoor nie. By ons baklei die bruid en bruidegom maande lank oor die gastelys. Families is dikbek en word by tye uitmekaar geskeur oor hierdie twiste. Syfers en getalle word op 'n spreadsheet uiteengesit en daar word per kop besluit wie bekostig kan word en wie nie. Daar is 'n A-lys en 'n B-lys. As iemand uit die A-lys nie kan bywoon nie, word 'n gelukkige wenner uit die B-lys gekies en die eer aangedoen om uitgenooi te word. Dit word selfs in boeke oor troues voorgestel dat indien iemand die uitnodiging aanvaar het en NIE opdaag nie, die bruidspaar die volste reg het om 'n rekening te stuur aan so 'n persoon vir die bedrag per kop wat bestee is. Dan gaan die bruidspaar na hulle gunstelingwinkel en kies alles uit wat hulle graag sal wil hê, van baie goedkoop tot baie duur. Die uitnodiging, wat gewoonlik per e-pos gestuur word, het sommer 'n link op waar jy met 'n kliek 'n geskenk kan bestel en sommer op die plek via paypal kan betaal ook! Die winkel sal na die troue alles by die nuwe egpaar se huis kom aflewer! Baie gesofistikeerd.....
Toe ek met my tweede man getroud is, nooi ons 'n ou oom en sy vrou wat 'n stoorplek met ons gedeel het, en wat ons uit die aard van ons besigheid, elke dag gesien het. Toe dit nou nader kom aan die RSVP datum, toe vra ons die oom of hy en die tannie nou gaan kom. Ja hulle wil kom, maar hul volwasse kinders en diè se gades en kinders wil ook graag kom. Baie verleë verduidelik ons dat ons nie hierdie mense ken nie en dat daar beperkte plek is by die onthaal en dat ons net begroot het vir 'n sekere aantal gaste. Die oom laat waai toe met sy troefkaart: Maar sy kinders wil nie verniet kom nie, hulle is bereid om kaartjies te koop! I rest my case. Die oom was so kwaad dat hy en die tannie toe ook nie na die troue toe gekom het nie. Ons het darem nie 'n rekening vir hulle gestuur nie.
'N vriendin van my word genooi na 'n troue in Delmas. Op die uitnodiging sê dit duidelik: Volwassenes R140 per kop. Kinders R80 per kop. Die bankdetail word dan gegee. Gebruik jou naam as verwysing. En heel onderaan: Baie dankie, op dié manier kan ons almal bydra om te verseker dat almal 'n lekker tyd gaan hê en die bruidspaar nie alles moet betaal nie. Baie classy. Dan moet jy seker nog 'n geskenk ook vat, want iewers staan daar ook nog: 'n Geldjie in die sak is beter as 'n geskenkie op die rak. I kid you not.
So eintlik het die hele troumark as sodanig op homself ingeplof. Dit het eenvoudig gegaan van absurd na banaal: die tema, die kleur, die uitnodigings, die spyskaart, die koek, die kos, die musiek, die fotograaf, die videograaf, die gevolg, die klere, die blomme, die venue, die entertainment, die seremoniemeester, die heildronke, die drank..... Juis daarom is ek baie trots op my twee kinders en skoonkinders vir die informele, onpretensieuse en relatief goedkoop troues wat hulle op besluit het. Deels ook genoodsaak deur ekonomiese oorwegings, want ek dink as Nola 'n halwe kans gegun was sou sy Kim Kardashian en Kanye West se troue soos 'n laerskool klaspartytjie laat lyk het. Gelukkig het common sense geseëvier.
Ek lees net gisteraand 'n artikel wat iemand op facebook gepost het oor "tiny living". Hoekom is dit nodig om in 'n massiewe huis te bly, inloopkaste vol klere en skoene te hê waarvan jy driekwart nie dra nie, kaste en vrieskaste vol kos te hê wat geen mens in 'n jaar kan opeet nie, stoorkamers en pakkamers en garages en kratte vol "goed" te hê wat jy vir jare lank met jouself moet saamsleep. Wat jy nooit gebruik nie, maar te sleg voel om van ontslae te raak. En elke dag moet jy net meer en meer koop. Goed wat niks makeer nie moet voortdurend vervang word, soos beddegoed, gordyne, handdoeke, badkamerstelletjies, kussinkies. Daar MOET mos 'n punt kom in jou lewe waar jy besluit: Genoeg is genoeg. Dis nou dit. Dit wat ek nou het gaan goed genoeg wees totdat dit breek of totaal verslete is.
Goddank het ek en Maggie by daai punt gekom. Ons is letterlik en figuurlik gestroop van alles. Fisiese besittings sowel as geestelike bagasie. Wat 'n bevryding! Wat 'n verligting! En ja, ons gaan nog ons huweliksonthaal hou. Maar ek dink die mense wat genooi gaan word gaan in wees vir 'n moerse surprise!!
Sent from my BlackBerry® wireless device






2014-10-21

Pietie gaan Londen toe....

Na al Pietie se eskapades het hy 'n relatief rustige matriekjaar gehad. So ver as wat my speurwerk my vertel het in elk geval. Veel later sou ek agterkom van die skelm rokery en drinkery, hy het die detail daarvan sommer self vir my vertel op sy 21ste verjaarsdag, maar op die oog af was hy heel voorbeeldig. Hy het hom nog steeds van tyd tot tyd probeer snaaks hou. Aangesien hy die enigste seun in die Huishoudkundeklas was, het hy dit byvoorbeeld goedgedink om in 'n rok na een van die skool se formele danse toe te gaan. Nogal een van sy vriende se ouer suster se matriekafskeidsrok gewees. So blou "triloble" nommertjie met 'n spleet aan die een kant. Moet sê, hy't nogal mooi gelyk.
Ook in sy matriekjaar besluit ek mos om vir my 'n trapmeul te koop om my drawwery nou na die volgende level toe te vat. Nou help hy my om die ding in die kamer op te stel. In so aantrekkamer gedeelte. Prop hom in, skakel aan en daar gaan ek. Na so kilometer besef ek die verveling is te erg. Ek het 'n TV in die kamer gehad, en langs elke kant van die bed was daar 'n ronde tafeltjie met 'n lang tafeldoek oor met 'n lamp en boeke op die tafeltjie. Nou manouvre ek en Pietie die trapmeul voor die bed in. Daar is net genoeg plek direk langs die bed. Die agterkant van die trapmeul raak aan die kanttafeltjie. Nou lê Pietie op die bed en ek en hy kyk The Bold and the Beautiful. Die trapmeul is nou hier by hom, reg langs die bed waarop hy lê. Maar so raas die ding so erg dat hy die TV al harder moet sit om te kan hoor. Dis toe nou in die middel van die winter en ek begin toe nou my drafsessie met 'n langmoutop aan. Na so 2 km begin ek erg warm kry en besluit ek om sommer so in die hardloop die top uit te trek. Fout. Daai trapmeul was seker gestel teen 'n spoed van 14 km/h, maar met daai top so halfpad oor my kop slaan ek daar neer en daai conveyor belt spoeg vir my agtertoe reg deur daai tafeltjie dat jy net lamp en Bybel en al Solly Ozrovech se dagstukkies sien trek. Ek gil vir Pietie om die ding af te skakel. Daar is so groot rooi knop waarby staan "Emergency Stop". Maar hy is so histeries van die lag dat hy nie kan beweeg nie. Al pad nou is vorentoe. Daar is nie plek aan die kante nie. Een kant is bed, ander kant is kas. Maar soos ek terugkruip onder die tafel uit en my verswikte hand op die belt sit om myself op te trek, so spoeg hy my weer uit. Keer op keer. Teen hierdie tyd het Pietie al aan die ander kant van die bed afgeval soos wat hy lag. Ek neem aan hy het toe die situasie opgeweeg en besluit hy sal agterna maar sy ma se toorn verduur, maar hy gaan dit geniet solank as wat hy kan. Wat toe 'n hele paar minute was op die ou end. Ten einde laaste kry ek vatplek aan die buitenste raam van die duiwelsapparaat en kry ek myself opgetrek sodat ek die ding kan stop. Teen daai tyd lyk dit of 'n orkaan daai kamer getref het. Pietie is nou stom van histerie. Hy kry nie meer 'n fisiese geluid uit nie. Hy klap net met sy een hand so op die bed. My enkels was beide bebloed, so ook die bokante van beide hande. My ego was gebroke, nie net gekneus nie. Maar ek staan daar op en begin op daai kind gil. Toe hou hy vinnig op lag. Ek slaan daai trapmeul daar op en sleep hom teen daai trappe af en bel soos in onmiddellik die vrou van die gym en verkoop hom net daar teen halfprys aan haar! So ek sou hom nogal mis as hy moes weggaan. Pietie, nie die trapmeul nie. Hy was slim genoeg om nooit weer na daai insident te verwys nie. Ons het meestal VIR mekaar gelag en nie MET mekaar nie, maar ons het ten minste baie gelag.
Daar is toe besluit dat hy direk na matriek Londen toe sal gaan en daar sal gaan werk vir 'n jaar. Dit was op daardie stadium vir my die veiligste opsie. Ver genoeg van die huis, maar darem in dieselfde tydsone. En hoeveel skade kan hy nou daar aanrig? Dis mos nou daai tyd wat ek hom, in wat ek net kan toeskryf aan 'n breinfloute, R1000 belowe het vir elke onderskeiding wat hy kry. En ek in die week na Kersfees R4000 moes bymekaarmaak, 14 jaar gelede se R4000!
So is hy knap na nuwejaar 2001 vort. Nou het ek natuurlik maande lank voorberei aan my preek wat ek gaan afsteek voor hy gaan. Ek het tot notas gemaak en flitskaarte en kort opsommings agter op poskaarte geskryf, en ek was reg vir hom. Ek het die hele preek toe saamgevat in 'n bondige toespraak van ongeveer 2 en 'n half uur. Ek het begin waar ek my eerste kraampyn met hom gekry het, deur die detail van die 19-uur lange kraamproses gewerk, en dit toe jaar vir jaar gevat. Ek het besluit om die hoogtepunte te ignoreer en my toe te spits op die laagtepunte. Vanwaar die tydsduur van die toespraak. Ek het vooraf besluit die toespraak sal eindig in 'n crescendo op die oomblik waar hy dan nou in die vliegtuig sit Londen toe. Die preek het grootliks gegaan oor wat hy MOET doen en ook NIE moet doen nie. Ek het hom 'n paar keer tydens my vertoning sien aan die slaap raak maar ek het hom op sulke geleenthede met 'n flink klappie teruggebring na die hede toe. Ek het ook regdeur die toespraak met dramatiese tussenposes hom so met die wysvinger voor die bors gedruk. Dis nou regtig as ek 'n belangrike punt wou tuisbring. So kom ek toe by die grand finale van my preek. Nou staan ek al regop. Begeesterd is nie die woord nie. En ek "prod" hom so met die vinger voor die bors en sê: En JY mannetjie (prod), JY, JY (prod, prod), JY (prod) moenie dink jy gaan vir jou windgat hou die oomblik as jy op daai vliegtuig sit en dink jy is nou grootmeneer met MY geld nie!! JY (prod) sal vir jou gedra! Moenie dink JY (prod) gaan die lugwaardin roep en vir jou 'n double Jack Russell en Coke bestel nie!!
Nou as ek nou net onthou het dis Jack Daniels en nie Jack Russell nie, kon ek daai hele speech afgepull het. Maar na 2 en 'n halwe uur het ek alles opgedonner met EEN verkeerde woordjie. Needless to say het hy my dadelik reggehelp, tussen sy histeriese gelag deur. Ek kon eenvoudig nie dink aan 'n comeback nie en het toe nou maar net iets gemompel van "ek watch jou" en so is Pietie Londen toe. En ek is vas oortuig hy het JUIS 'n dubbel Jack Daniels en Coke op sy ma gedrink toe daai lugwaardin die gang af kom met haar trollietjie.
Binne 'n week het hy 'n werk gekry in 'n hotel daar in Cumbria in die Noorde van Engeland op die Skotse grens, naby die dorpie Keswick. . Dis nou lank voor selfone en whatsapp en sms'e wat jy moeiteloos oorsee kon stuur. Kommunikasie was moeilik, en beperk. Die kere wat ek wel met hom kon praat, het ek hom elke keer gewaarsku om op die uitkyk te wees vir Bokman. Ek het gereeld vir hom pakkies gestuur en op sy 19de verjaarsdag was hy in Londen en het ek vir hom, met 'n chocolatekoek in my rugsak, gaan kuier. Tot op hierdie dag kon ek nie uitfigure presies waar hy gebly het in daai tyd nie, want ons is nie toegelaat om daarheen te gaan nie. Ons het by ander Thabazimbikinders gebly in Leyton. Maar ek het hom elke dag gesien. Hy het toe vir 'n Fillipynse ou koerier gery met so groot van. Hy het pakkies heen-en-weer Heathrow toe vervoer. Baie later, lank nadat hy teruggekom het, het hy my vertel presies HOE swaar hy gekry het. Hoe hulle nie kos gehad het om te eet nie, hoe hy letterlik party aande in die bad moes slaap, hoe hulle omtrent elke maand na 'n ander plek getrek het, ensovoorts. Hoeka kom hy weereens by so nuwe blyplek aan en in een van die kaste kom hy af op 'n tjekboek. Net daar besluit hy om te gaan kos koop en hy skryf daar 'n tjek uit en teken hom en vir 'n week lank kon hy soos 'n koning eet. Vindingryk man! Altyd 'n outjie wat 'n plan kan maak!
Na 'n jaar kom hy terug. Van die grandiose spaarplanne het natuurlik dadels van gekom. Hy het 'n Oakley sonbril, 'n paar DC sneakers en 'n Play Station gehad om te wys vir sy moeite. En natuurlik stories en avonture waarvan ek nooit sal mag weet nie. Toe hy van die vliegtuig afklim is sy hare pikswart gekleur en hy het 'n stud deur die oogbank. Seker al die pad Jack Russells ook gedrink as jy my vra......
Sent from my BlackBerry® wireless device




2014-10-20

Matriek is 'n klug!

So kom Nola se roemryke 2 jaar in Liewe Heksie Kleuterskool op Aggeneys tot 'n einde. Dieselfde plek waar sy vir die Juffrou gesê het haar kind lyk soos 'n vark. Ek is seker hulle was heimlik verlig om die laaste van haar te sien. Ek het nog altyd gewonder hoe het sy, veral na daai aanmerking, so gereeld die rol van klasleier gehad. Dan vra ek haar nou presies wat moet sy nou as klasleier doen? Sy sê sy moet kyk dat die gordyne oop is en dat al die toilette getrek is. Baie trots op haar hogere amp.
Maar vroeg-vroeg in Graad 1 het ek agtergekom sy toon bitter min belangstelling in die skoolwerk self. Sy toon wel 'n lewendige belangstelling in al die buitemuurse aktiwiteite. Word na elke partytjie toe genooi en het baie maatjies! Ken elke Roxette liedjie uit haar kop uit, saam met al die dans moves. Vra jy haar wat is 4 + 2, sal sy gou op haar vingers tel en 6 sê, maar vra jy haar wat is 2 + 4, sal sy jou "defiant" aankyk en sê die juffrou het nog nie daai somme gedoen nie. Hier teen St. 1 se kant het ek besef as ek wil hê hierdie kind moet eendag matriek slaag, sal ek moet ingryp. Nou kyk, party mense het mos nou sulke moerse elaborate planne waarvolgens hulle hul kinders straf. Daar's 'n bottel waarin jy nou 50c moet gooi vir elke vloekwoord en daar is kamerdiens en kombuisdiens en badkamerdiens en tuinwerkdiens en karwas en sakgeld wat afgetrek word en bygetel word en plakkate met sterretjies op en ag ek weet nie wat nog als nie. So iets was natuurlik hopeloos te veel admin vir my. Dit sou daai jare seriously ge-impact het op die tyd wat ek spandeer het aan Days of our Lives, Santa Barbara en The Bold and the Beautiful. So ek het nou regtig beter dinge gehad om te doen as om my kinders 24/7 te polisieer. (Dalk moes ek maar, come to think of it in hindsight...). As hulle stout was het hulle 'n moerse pakslae gekry en die probleem is binne 5 minute opgelos. Verder het hulle buite gespeel tot dit donker is. Die hele Aggeneys rondgery op hulle fietse en te voet. Nou dieselfde genius redenasie het ek ten opsigte van Nola se huiswerk gehad. Ek kon nou ure met haar gesit het en later is ons altwee in trane en sy weet steeds nie dat 4 +2 en 2 + 4 dieselfde is nie, of sy kon boomgeklim het buitekant en ek kon binne 5 minute vinnig in so St 1 handskriffie haar huiswerk gedoen het. Ek het gegaan vir die laaste opsie. Baie minder stres vir ons al 3. Ek, sy, en die Juffrou.
So vorder sy flink deur die Laerskool. Neem aan alles deel en is heel gewild en baie happy met haar lewe. Steeds steur sy haar natuurlik gladnie aan wat enige onderwyser vir haar sê nie. Aan die einde van St 4 word sy gekies vir die skolierpatrollie, wat sy toe sommer self vriendelik dog ferm van die hand wys. Haar redes: Sy gaan nie daar staan in die pad soos 'n dom spietkop nie en sy gaan ook nie 'n halfuur vroeër opstaan OF 'n halfuur na skool bly om dit te doen nie. Hoe stry mens nou met so 'n redenasie?
Altyd mos maar 'n ou mooi dogtertjie gewees. Hier in St 6 word sy raakgesien deur 'n agent en kry sy die kans om modelwerk oorsee te gaan doen. Ek neem toe die besluit dat sy kan gaan, daar's in elk geval nog jaaaare tyd om matriek te kom klaarmaak. In haar St 7 jaar is sy sak en pak Italië toe. Sy kom met tussenposes terug en sy slaag St 7 met vlieënde vaandels, dit nadat sy net die helfte van die jaar in die skool was. So leer sy vlot Italiaans praat en vir die volgende 5 jaar sou sy baie van Europa te siene kry en natuurlik onnoembare avonture beleef, waarvan ek genadiglik die minimum weet. Hier teen die einde van St 7 moet die kinders mos nou hulle vakke kies vir St 8. Toe besef ek ons sal hier 'n ander plan moet maak. Ek doen toe bietjie navorsing en besluit dat Intec Kollege die beste keuse is vir 'n volwaardige Nasionale Senior Sertifikaat dmv korrespondensie. Ek skryf toe sommer in. Op hierdie stadium kon ek Nola se handskrif beter namaak as sy self. So is sy vir die grootste deel van haar St 8 jaar by die huis, maar sy woon klasse by by die Thabazimbi Christian School sodat sy daar onder toesig haar werk kan sit en doen. (Ek is nou nog verbaas dat hulle nie daarna daai skool se naam moes verander nie). Hier gaan dit heel goed. Ek onthou nog die voormalige Jimmy Abbott het die skool kom besoek om sy getuienis te lewer, en daar was 'n foto van hom saam met die hele skool in die plaaslike koerant. Ek vra haar die middag na skool: Waar is jy dan op daai foto Nola, jy was mos daai dag by die skool? Sy het in die klas gebly want sy het vir die juffrou gesê daar is nie 'n MANIER wat sy saam met daai ou op 'n foto verskyn nie. So kies die TCS ook 'n leerlingraad, maar uit die aard van die skool word hierdie leiers of prefekte nou "servants" genoem. Nola word ook gekies. Vriendelik dog ferm weier sy. Rede? Sy's niemand se "servant" nie. Goed dan. So kom sy die Intec St 8 met vlieënde vaandels deur. Dit behels net werkstukke, geen geskrewe eksamen nie. Raai wie het daai werkstukke gedoen? Met St 8 in die sakkie is happy-go-lucky Nola weer terug Europa toe. Ek het 'n paar maal daar vir haar gaan kuier waar sy soos 'n grootmens alleen in 'n woonstel gebly het vir maande op 'n slag. Orals oor Italië heen en ook in Athene, Griekeland. Heeltemal haar eie ding gedoen en ge-survive, op 15. Ek weet ook vandag ek en sy het in daardie tye 'n band gevorm wat nooit gebreek sal kan word nie.
Nou kom ons by St 9 en St 10. Dit doen jy nou in een jaar deur Intec. Maar gou sien ek hierdie is 'n gansie van 'n ander dam. Nola sit op daai tyd in Milaan en ek moet nou vir haar vakke kies en sommer inskryf vir Graad 12 ook. Sy't een jaar tyd. Die einde van die jaar moet sy terugkom en matriek kom skryf saam met die res van haar klasmaats. Hulle skryf in die skoolsaal. Sy skryf by die skoolkoshuis. Selfde datums, selfde vraestelle. Al verskil is sy was aan die begin van St 7 laas in 'n klaskamer. Ek kies toe die volgende matriekvakke: Afrikaans, Engels, Ekonomie, Bedryfsekonomie, Bybelstudie en Handelsreg. Alles standaaardgraad, behalwe Afrikaans en Engels. 'N week later daag die boeke op in 'n boks. Nola sit in Milaan. Ek sit in Thabazimbi. Ek begin frantically deur alles gaan en sien daar is 'n magdom take wat ingehandig moet word. Ek sal dadelik aan die werk moet spring. So werk ek deur Afrikaanse poësie en die Merchant of Venice en Mercantile Law en Genesis tot by Openbaring en beslote korporasies en eenmansake en ek kry toelating tot die matriek eindeksamen met 'n eksamennommer en 'n eksamensentrum!!!!!
Daai Augustus van wat nou haar matriekjaar sou wees, kom Nola huistoe. Sy hoor toe vir die eerste keer watter vakke sy oor 2 maande op Graad 12 vlak eksamen oor moet skryf. Needless to say het sy nog nooit in haar lewe van sulke vakke gehoor nie. Sy het GEEN idee van 'n formele brief in Afrikaans of Engels, opstelle, begripstoetse, comprehension, hoe om 'n vraestel te antwoord, monkey puzzles, kortvrae, langvrae, niks nie!!!!!! Niks!!!!!! Sy het geen idee hoe om te leer nie. Dis 'n nagmerrie. Maar ek het haar na haar kamer toe gevat en vir haar gesê: Nola, luister nou vandag vir my. Jy KAN dit doen. Ek gaan jou help en jy GAAN dit doen, maar dan moet jy my belowe jy sal vir die volgende 6 weke PRESIES doen wat ek van jou verwag. "Ek belowe Mamma". Okay. Now listen up.
Daar is 6 vakke. Daar is 6 weke. Daar is 7 dae in 'n week. 6 dae sal ons swot en die 7de dag sal ons hersien. Ons sal nie rus nie. Jy sal 6vm opstaan, eet en aantrek en 7vm sal jy by die eetkamertafel kom sit. 10vm tot 10.30vm kan jy 'n break kry. Tussen 1 en 2 kan jy rus. Van 4.30 tot 7nm kan jy 'n lang break kry. Jy mag dan nie in jou kamer wees nie, jy moet swem of draf of by iemand gaan kuier. Van 7nm tot 9nm swot ons weer, dan gaan stort jy, ons drink saam tee, en presies 10nm is jou lig af. Vir 6 weke lank. Elke dag. Deal? Deal.
Ek begin toe sommer met die eerste vak. Onthou sy was nooit in 'n klaskamer nie. Sy het geen werksboeke of notas nie. Afrikaans en Engels is beide 3 vraestelle: grammatika, voorgeskrewe werk en opstelle en begripstoets. So altesaam skryf sy 10 vraestelle. Toe vat ek die Ekonomie handboek. Hy het 300 bladsye. Deel deur 6 dae. 50 bladsye per dag. Sewende dag hersien ons. Sy sit met pen en papier, ek begin lees en verduidelik. Ons stry, ons baklei, ons huil, skree, vloek, lag. Terselfdertyd het ek 'n kantoor om te bedryf van die huis af. Dit doen ek na 9nm tot in die vroeë oggendure. En so vat ek en Nola vak vir vak, boek vir boek. As ons afkom op diagramme en formules wat ek nou sien ons gaan 'n dag lank spandeer aan 'n enkele bladsy en dan kry sy dit dalk nie eens in die eksamen nie, dan los ons dit eenvoudig uit. En stadig maar seker sien ek hoe haar brein ontsluit en hoe die inligting insypel. Ek maak flitskaarte en ons bou snaakse sinne met die eerste letters van woorde en teken prentjies en maak assosiasies en vir 6 weke lank hou ons by ons program.
Ek registreer haar eksamennommer by daai sms lyn wat jy dan kan bel om te hoor of jy geslaag het. So kom die dag wat sy haar eerste vak moet gaan skryf. Ek het nog nooit in my lewe so gestres nie. So het sy nie besef sy hoef nie al die vrae te doen nie en dat daar keusevrae was nie! Op nog 'n geleentheid het sy 10 minute voor die einde agtergekom daar is nog 'n klomp vrae aan die agterkant van die vraestel! So het ek haar gemotiveer en moed ingepraat en opgetel en maar weer probeer en vasgebyt. Die eksamen het tot 'n einde gekom, en ons is Margate toe. Oujaarsdag 2002 sit ek en sy op die strand. Sy sê ek moet daai nommer skakel, sy is te bang. Ek bel. Druk haar eksamennommer in. Die geblikte stem sê vir my: You have passed your Senior Certificate.
Julle kan nou daarvan maak wat julle wil. Ek verkies om te dink dat Nola een van die skerpste mense is wat ek ken. Sy het daarna nog vir jare lank om die wêreld gereis en daar is min plekke wat sy nog nie gesien het nie. Sy is welbelese en welberese en het 'n fantastiese werk. Sy woon in Kaapstad. Is getroud met die mooiste man in die land en is elke dag vir my 'n rots waarop ek kan steun. Sy het so pas 30 jaar oud geword en is die mens wat ek die liefste op hierdie aarde het!
Sent from my BlackBerry® wireless device







2014-10-16

Ek en die masseuse...

Maggie sê gisteraand vir my hoe baie sy nou daarvan sal hou om na 'n spa te gaan en 'n "full body massage" te kry. Ek bly toe maar stil. Maar so hard soos wat ek probeer om my geheue die afgelope 12 jaar te onderdruk, so krap haar woorde die wonde oop en borrel die onthou na die oppervlak.....
Net ter agtergrond, die ander dag praat hulle op die TV met 'n ou oor die misdaadsituasie in die land en spesifiek oor wat mense kan doen om hulself te beveilig en te voorkom om nie in 'n misdaadsituasie opgevang te word nie. Volgens my is "emigrasie" die enigste logiese antwoord op hierdie probleem, maar die ou het toe 'n heel interessante invalshoek. Hy sê navorsing het bewys dat die mens die enigste lewende ding op aarde is wat sy instinkte ignoreer. Kyk, 'n bok sal mos nou water drink daar by die watergat in die wildkamp of die wildtuin of where ever, dan sien jy net hy ruk sy kop op, beweeg een oor, en daar trek hy! Jy sien niks. Daar is geen leeu of luiperd naby nie. Maar die bok wou nie die kans vat om rond te hang en seker te maak daar is of daar is nie 'n leeu nie. Hy het "gevoel iets is nie reg nie", toe slaan hy poot in die wind. Hy gaan mos nou nie voel hy't 'n gat van homself gemaak as daar nou NIE 'n leeu was nie? Hy worry ook nie of die ander bokke vir hom lag nie! Screw hulle man! Hy's in elk geval nog 'n dag gespaar!
Maar die mens is mos nou die teenoorgestelde. Jy sal nou half 6 op 'n vrydagmiddag in 'n verlate gebou in die industriële gebied van Bloemfontein die knoppie vir die hysbak druk en as die deure oopgaan, staan die Modimolle Monster voor jou. Jy voel ook "iets is nie reg nie", maar ons is mos bitter ordentlik. Jy wil mos nou nie aanstoot gee nie. Nou klim jy maar in. Nou sien jy hier langs die paneel met die knoppies op staan 'n ding wat lyk of hy uit die Rocky Horror Show ontsnap het. Maar jy sê maar "middag", en druk die knoppie vir die 23ste verdieping. (Okay ek weet nou nie of Bloemfontein spesifiek sulke hoë geboue het nie, maar julle vang my dryf). Nou ry julle drietjies maar boontoe. Jy kyk nou maar boontoe soos wat die liggies die vloere afmerk. Drie dae later word jy wakker in die hospitaal, uitgesprei oor 4 beddens. Net jou linker kniekop is nie toe onder verbande nie. Na 3 maande is jy darem nou al so dat jy met 'n strooitjie kan eet en kan skryf met 'n pen tussen jou 3 oorblywende tande vasgeklem en met jou 1 oorblywende, halfblinde oog te kan sien waar jy skryf. Nou vra die polisieman jou wat het gebeur. Jy skryf: Ek het gevoel iets is nie reg nie....
Goed. So bevind ek my in Oktober 2002 op die pragtige eiland van Mauritius vir die 5de huweliksherdenking van my 2de mislukte huwelik. Gelukkig het ek dit daai tyd nou nie geweet nie. Man, dit gaan te lekker. Ek is met 'n parachute agter 'n boot aan, ek seil op 'n catamaran, ek snorkel, ek duik, ek ski, ek speel gholf, ek ry fiets, ek gym, ek hardloop, ek eet, ek shop, ek body surf, ek boogie board, ek windsurf......okay, die tweede dag is ek toe nou verveeld. Nou verken ek die resort. Kom af op 'n spa. Bespreek dadelik vir my 'n "full body massage" vir die volgende dag. Die ontvangsdame gee toe vir my 'n moerse lang lys van verskillende tipe masserings. Nou kyk, ek kom van Thabazimbi af.....wat weet ek nou van swedish massage en japanese massage en dis reflexology en aroma therapy en kort duskant 'n papsmeer besluit ek toe, vanwee my atletiese en sportiewe aard, dat ek maar sal gaan vir die "deep sports massage". Ek betaal toe die geld en ek sal die volgende oggend inklok.
Kom daar aan, nou word ek in so kamertjie ingelei. Halfdonker. Klink soos Roberto se panfluitmusiek op die agtergrond. Op die kussing lé die "obligatory" laventeltakkie. Plat masseertafel, met daai gat waar jy jou gesig moet indruk. Die vrou sê: "You can undress, face downwards, and cover yourself with this towel". (Die bokkie drink nou nog rustig watertjies, geen leeu in sig nie).
Nou gaan lê ek. Kop in daai gat gedruk. Kyk vir die vloer. Ek hoor die deur saggies oopgaan. Voetstappe kom nader. Nou julle weet mos, in elke fliek wat beskryf word as 'n "psychological thriller" is daar mos altyd iemand wat onskuldig en teen sy sin in 'n malhuis of gestig of inrigting beland. Dan is daar so evil, mallerige psigiater en die mense wat daar werk is mos altyd swartes en hulle dra sulke spierwit klere. Hulle dra ook mos sulke spesifieke soort spierwit skoene. Met sulke spierwit sole. Rubbersole. Als wit. Nou toe ek nou daar lê en wag vir die helende hande op my, toe verskyn daar presies so paar skoene binne my veld van sig. Nou NET daar, moes my instinkte ingeskop het!! Want op daai presiese oomblik kan ek veel later onthou het ek die gevoel gekry van "iets voel nie vir my reg nie". Maar wat nou gemaak? Ek druk maar deur! Die vrou het dan nog nie eens begin nie, en ek het klaar betaal ook nog! What can possibly go wrong?!!!
My laaste "coherent" gedagte was dat sy die handdoek verwyder het. Die volgende oomblik gooi sy 3 liter lawa op my rug uit. (Later blyk dit warm olie te gewees het. Yeah right). Ek is toe totaal verstom dat sy nie ag slaan op my bloedstollende kreet nie. Maar ek besef toe binne 'n milli-sekonde ek het self ook nie my kreet gehoor nie. Ek het gegil, maar geen klank het uit my geskokte liggaam ontsnap nie. Daai kreet sal vir ewig "frozen in time" iewers om 'n planeet in die buitenste ruim rondswerf, want die Here weet, ek het laas met Pietie se geboorte toe ek net 6 cm ontsluit was en hy besluit het "nou is die tyd", so gegil. Toe ek besef ek gaan nou my Heiland ontmoet, toe kyk ek vir oulaas om, net om te weet hoe lyk die gesig van die doodsengel wat my kom haal het. Liewe ouers. Wydsbeen bo-op my sit 'n Kreoolse eilandbewoner, geslag onbekend maar vermoedelik vroulik, in spierwit klere, en seker so driekwart deur haar geslagsverandering. Die volgende oomblik druk sy my kop terug in daai opening en my laaste bewuste gedagte was toe sy daai neksenings, wat Mnr Ehlers laas in St 6 geknyp het, tussen haar duim en wysvinger beetkry en dit druk dat ek voel hoe haar vingers aan mekaar raak. Genadiglik val ek toe flou. Sy het dit obviously nie agtergekom nie, want ek lê mos nou al klaar. Sy sien toe my slap en willose liggaam as 'n teken dat ek totaal ontspanne is. Toe lê sy in pappie. Ek het vir die volgende uur gewissel tussen bewus en bewusteloos. Die kere wat ek wel kortstondig my bewussyn herwin het, was dan nou die tye wat sy haar greep verwissel het, en daar so 30 sekondes was wat sy nie 'n kniekop of elmboog deur my spiere tot op my skelet gedruk het nie. Ek het sulke patetiese geluidjies gemaak, kan ek nog goed onthou, wat ten beste beskryf kan word as iets tussen 'n "whimper" en 'n snik en 'n histeriese giggel. In haar kultuur moes sy dit geïnterpreteer het as een of ander "mating call", neem ek aan. Dis al hoe ek haar entoesiasme kon interpreteer direk na so sniksessie. Ek het dit toe nou maar gelos. Na 'n uur het ek vir 'n kort wyle weer my bewussyn herwin toe sy van my afgeklim het. Maar ek kon nie opstaan nie. Dis altyd moeilik met soveel geskeurde ligamente, gerekte spiere, haarlynfrakture en gekraakte ribbes. Ek het toe nog 'n ruk daar gelê. Die ontvangsdame het my later op my gebreekte, gekneusde liggaam kom tik en gesê ek moet nou aantrek. Ek het teruggestrompel kamer toe, met my voorkop aan die deur geklop, en in 'n hoop op die bed neergeval. Ek het vir die volgende 2 dae in 'n semi-donker kamer gelê. My man het na die hoofstad Port Louis gery op soek na Voltaren Gel en anti-inflammatoriese pille, knee guards, ankle guards, rugstut, pynpille, asynlappe, en Grandpa's. Ek kon nie na die restaurant toe gaan om te eet nie. Ek het vir 2 dae uit die bar fridge in die kamer geleef. My man het Bounty bars en Mars bars in stukkies opgebreek en dit in Grandpa gerol en langs die kant van my mond ingedruk. Afgespoel met Energade en Re-hydrate. Op die derde dag kon ek met behulp van 'n loopraam tot by die warm swembad se wal vorder. Die ronddryf in die water was wonderlik. Ons het op daai stadium besluit om van die spesiale aanbod gebruik te maak en nog 5 dae langer te bly. 'N week na my "ordeal" kon ek weer normaal loop en funksioneer en het ek die laaste 5 dae gate uit geniet. Wye draaie om daai spa geloop, needless to say.
"Hester hoor jy my? Ek vra of jy ook sal hou van 'n vollyf massering?"
"Nee dis okay. Gaan jy maar. Jy moet vra vir 'n "deep sports massage". Dis nogal 'n belewenis".
"Okay ek gaan! Lekker slaap!"
"Dankie. Jy ook".
Sent from my BlackBerry® wireless device








2014-10-14

Kinders en hul verbeelding....

Deesdae is kinders mos nie meer kinders nie. Hulle is nou miniatuur grootmense. Jy mag hulle gladnie in liefde tugtig nie. Die kind kan jou gaan verkla by die Landdros. Okay dis nou nie heeltemal 'n nuwe ding nie, want as julle moet weet hoeveel keer ek net betyds daai foon doodgedruk het as Nola Childline gebel het!!!! Dit was mos nou haar party trick. As sy my iets vra en ek weier, of as ek met haar raas of haar 'n pak slae gee, hardloop sy reguit telefoon toe en bel Childline.
Dis ook mos nou gladnie polities korrek om enigsins na jou kind se geslagsdele te verwys deur 'n ander naam daaraan te gee nie. Dit moet nou op die korrekte biologiese naam aangespreek word. Ek weet nie eens of mens nog mag praat van "geslagsdele" en of dit dalk "voortplantingsorgane" is nie? Nou kyk, ek is seker maar outyds of "old school" of noem dit nou net wat jy wil, maar om te hoor hoe een van die moderne ma's na haar babadogtertjie se moemfie verwys as 'n vagina, is vir my een te veel, sorry. Van penis praat ek nou nie eens nie. Ek kan dit skaars tik.
Kinders moet ook van dag een af vertel word daar bestaan nie iets soos Kersvader of die Tandemuis of die Paashaas nie. In elk geval hoef jy hulle deesdae gladnie van Kersvader of die Paashaas te vertel nie, want die kind moet mos sy eie geloof kies as hy groot genoeg is. Daar mag ook gladnie na 'n moslemkind of 'n christenkind verwys word nie. Dit is bloot "die kind van moslemouers" of "die kind van christenouers". So jy moet nou vir klein Pietie issue met 'n Bybel en 'n Koran en 'n Tora en Mein Kampf en die Huisgenoot en hom los dat hy dit nou maar self uitfigure? Seker met 'n knipmes ook in case hy homself moet besny. En jy mag ook nie meer sê "Merry Christmas" nie. Dis ook polities inkorrek. Jy mag nou net sê "Happy Holidays". En al wat 'n geloof is vier nou saam Kersfees. Of dan nou "Happy Holidays". Kinders van alle gelowe kry geskenke. Hulle het bloot wat genoem word 'n "wish list". Ek's natuurlik die laaste mens op aarde om enige kind van 'n geskenk te ontneem, so DIS nie wat my pla nie. Maar om 'n spesiale dag van 'n sekere geloof te hijack en te maak of dit maar okay is, dis wat my pla. Dis so goed ek sê ek gaan Ramadan saam met die Moslems vier want ek is so paar kilogram oorgewig. En met Eid gaan ek dan weer lekker weglê aan boerekos. Dis mos nou om 'n bespotting te maak van hulle heilige dae!
Nou kom ek vertel julle van my kinders en die Paashaas. Ja ja ja ek weet dat ons 'n afgewaterde weergawe van Paasfees vier, wat eintlik min ooreenkoms toon met die Joodse Pasga, en ek weet dat die eiers en die haas as vrugbaarheidsimbole deel is van ons pagan geskiedenis, en ek weet van die godin Ishtar van wie Easter afgelei is, en van die Rooms Katolieke wat agter die datums sit van wanneer Paasfees gevier word, afhangende van die stand van die maan. Dis ook hoekom die datums elke jaar so ver verskil van die vorige jaar. Maar ek wil praat van die Paashaas. Daai outjie wat die marshmallow eiers bring en daai harde wit eiers wat die skuim in jou mondhoeke laat staan soos jy hulle suig!!
Een jaar is ons mos nou by Port Nolloth oor Paasfees. Hoeka die dag toe Chris Hani doodgeskiet is. Almal het gedink die land gaan in vlamme op, maar ek was meer bekommerd oor my Paashaasplanne as oor 'n moontlike rewolusie. Die uitdaging was om die mandjie met paaseiers by die agterdeur neer te sit, te klop, weg te hardloop sonder om voetspore te los, en nie vir Pietie of Nola te laat agterkom dat ek weggeraak het vir 'n rukkie nie. Na vele mislukte pogings doen ek dit toe so. Onthou, die huis wat ons in gebly het vir daai naweek het nie 'n tuin gehad nie, dit was seesand reg rondom. Ek het die mandjie by die agterdeur gaan neersit. Toe gee ek sulke lang treë in trurat weg van die agterdeur af. So ver soos wat ek agteruit treë, so vee ek my voetspore dood, en daar waar ek gevee het, maak ek met my 3 middelste vingers bymekaar, so haasspoortjie. Toe ek nou so ent weg is toe vat ek 'n klip en gooi 'n moerse hou teen die agterdeur. Ek hardloop toe vinnig met 'n wye draai om die huis en by die oop voordeur in. Ek gil toe vir Pietie en Nola: Het julle iets gehoor?? Ek het iets sien weghardloop van die agterdeur af!!!! Iets klein en grys!!!!! En ek het iets in sy hand gesien!!!!! Hulle was totaal en geheel en al histeries!! Ons het agterdeur toe gestorm en dit oopgepluk en daar was die mandjie!!!! Hulle het op hul kniee neergeval in totale verbystering. Ons het vir ure daarna nog die spoortjies gevolg en gepraat en gespekuleer oor hoe dit nou kon werk en waar die Paashaas nou is en hoe het hy geweet hulle is daar en so het dit tot laat in die nag aangehou. Nou geen sielkundige op hierdie aardbol sal nou vir MY oortuig dat so 'n ondervinding sleg is vir 'n kind se ontwikkeling nie.
Terug in Aggeneys het hulle begin tande wissel. Pietie eerste. Daai jare was R5 gelukkig nog meer as genoeg vir 'n tand. Deesdae word die kinders seker betaal met e-bucks. Of aandele. Of airtime. So besluit ek sommer op die ingewing van die oomblik om 'n briefie vir Pietie te skryf van die Tandemuis af. Ek vat so kleeeein stukkie papier en 'n Bic pen, daai geel penne met die dun skerp punte. Ek skryf nou maar net om dankie te sê vir die tand en ek gooi toe sommer so sedelessie ook in terwyl ek nou besig is. Needless to say was die R5 'n bysaak! Daai kind kon nie GLO dat 'n muis vir hom 'n briefie geskryf het nie! Ek het kamma gesukkel om uit te maak wat die muis geskryf het, maar ek moes daai briefie seker 'n 100 maal oor lees vir hom. Die Tandemuis het 'n naam ook gehad. Floris. Toe begin Nola wissel. So kry sy ook 'n briefie. Van Floris se vrou af. Florina. En so het ek jaar in en jaar uit vir daai 2 kinders briefies geskryf. Altyd in dieselfde bewerige handskriffie. En wonderbaarlik het Floris en Florina presies geweet van elke beweging van Pietie en Nola. Selfs toe hulle Thabazimbi toe getrek het, het hulle per brief laat weet dat hulle ons afgeluister het en dat hulle gaan saam trek. Presies hoe en wanneer hulle in die treklorrie geklim het, elke dorp wat hulle deurgery het, hoe hulle in die nuwe huis in die dak weggekruip het, hoe bly hulle is dat ons nie 'n kat het nie......man, elke detail van daai muise se lewe het Pietie en Nola beleef! Later het Floris en Florina sommer net randomly vir hulle briewe geskryf, bôgger die tande! En toe die heuglike nuus! Florina is swanger! So is Floorsie en Doorsie gebore. Ek kon toe sommer lekker 'n seksvoorligtingsessie ook daar inwerk. Vanuit 'n muis se oogpunt.
Dan vra Florina vir Nola of sy haar Barbie se cool bag kan leen vir hulle melk, dan sit Nola die klein pienk koelsakkie daar neer. As sy slaap, gaan haal ek dit en steek dit vir weke in my kas weg. En so het dit deur die jare aangegaan. Later was hulle groot en al hulle tande was gewissel en nooit het iemand ooit iets daarvan gesê nie. Ek het nooit vir hulle gesê dit was ek nie. Ek het dit as logies aanvaar dat hulle dit geweet het. Floris en Florina en Floorsie en Doorsie het toe so half 'n natuurlike dood gesterf. So gaan Pietie Affies toe. Een vrydag gaan haal ek hom oudergewoonte en in die kar praat ons oor iets, en ek sê: Dis amper soos ek wat maak of ek 'n Tandemuis is en vir julle briefies skryf. Maar ek sien sy kop ruk om en hy staar in totale ongeloof na my. Hy vra my: Het JY die briefies geskryf? Uhm.......ja. Totale stilte en absolute verstomming. Hy vra my weer: Maar was dit JY wat daai briefies geskryf het? Ja Pietie. Wie anders? Muise kan mos nie skryf nie, jy het tog seker lankal uitgefigure dit was ek? Ons het in doodse stilte teruggery Thabazimbi toe. As hy daaroor moes dink, het hy natuurlik besef daar is nie iets soos 'n Tandemuis nie en dat muise nie kan skryf nie. Maar vir so lank as wat hy kon onthou, HET hy dit geglo. Hy het dit geglo tot op 'n spesifieke ouderdom, en toe het hy daarvan vergeet. So hy het dit eintlik nooit aktief op 'n dag NIE meer geglo nie. Totdat ek dit vir hom gesê het. Toe het hy vir die eerste keer in jare weer daaraan gedink. In St. 8. Hy vra my toe: En daai Paashaas? Daar by die see daai keer? Nee, DIT was nie ek nie! Ek belowe!
So kies maar self of jy met verveelde kinders met selfone teen hulle ore in Knysna se bosse wil rondloop, en of julle vir ure lank wil soek na Dawie Kabouter, want hy MOET daar iewers bly! En regtig, my kinders het grootgeword op 'n dieet van Liewe Heksie en Teenage Mutant Ninja Turtles en alles wat hulle op TV gevolg het, moes ek die duvets en die sjampoe en die seep en die pajamas en die waterbottels en kosblikke en rugsakke ook van koop! Kyk, Disney het 'n fortuin uit MY uit gemaak! Maar vandag is hulle volronde en interessante en welbelese en welberese grootmense wat heeltemal goed genoeg kan onderskei tussen werklikheid en fantasie. Dis jou keuse of jy 'n klein grootmensie sonder verbeelding en 'n bietjie magic en fantasie gaan grootmaak. Ek weet wat ek weer sal kies!
Sent from my BlackBerry® wireless device





2014-10-13

Pietie vat dit te ver...

Soos julle dus kan agterkom, het daar 'n kultuur in ons huis geheers van Pietie wat bang is vir die donker, en vir Bokman, en ek wat dit uitbuit, soveel en so gereeld as wat ek kan. Toe hy nog op Affies was het ek en hy eenkaar daar in Menlyn Retail Park rondgedwaal in so Party Shop. Pietie was daai tyd groot op goed soos groen slym wat jy teen die mure kon gooi en poepkussings en plastiekkots en so aan. Hy het oor die algemeen 'n baie gesofistikeerde sin vir humor gehad, al moet ek dit nou self sê.

Daar sien ek toe in die partytjiewinkel 'n baie lewensgetroue Scream masker. Nie sommer net 'n plastiekdop met 'n rekkie aan nie. O nee. Die hele masker, met die swart lap wat die hele agterkop en nek bedek. Needless to say het ek dit dadelik aangeskaf en klaar begin opgewonde raak oor die moontlikhede wat so iets kon inhou. So het hy die masker saamgevat koshuis toe. Later het hy mos teruggekom Thabazimbi toe en die masker het ook seker sy pad teruggevind na ons huis toe. Ek het eintlik so bietjie vergeet van die masker. Pietie ongelukkig nie.
Weereens het die volgende heuglike gebeurtenis hom ook in sy St. 9 jaar afgespeel. My man van destyds, ook bekend in die volksmond as Man Nr 2, se oudste dogter gaan op daardie stadium deur 'n traumatiese break-up. Sy trek sak en pak uit die Kaap om by ons te kom bly. Wat die situasie natuurlik baie erger gemaak het, is dat sy toe nou swanger is van die eks-verloofde. Soos te verstane, 'n hoogs emosionele tyd vir almal. Behalwe nou vir Pietie. Hy gaan op daardie stadium rustig voort met sy lewe en lyk nie geraak deur enige omstandighede wat nie direk op hom 'n invloed het nie. So begin die swanger dogter nou later weer haar voete vind. Sy maak weer vriende, soek ou vriende op, begin weer sosialiseer, ensovoorts. So kom ons by die 31ste Oktober van daai jaar. Dis mos nou die dag wat Halloween wêreldwyd gevier word. Julle weet mos nou daai aand wys M-Net al die rillers van die afgelope jaar op TV. Deurnag. Daardie jaar is dit toe nou Scream 1, 2 en 3 wat aan die beurt kom. So word die verwagtende dogter ook oorgenooi na vriende se huis vir 'n Halloween aandjie. Laat ek net hier twee dinge baie duidelik maak: sy is oor die algemeen 'n baie senuweeagtige mens en skrik basies vir haar eie skaduwee. Tweedens, en dis 'n baie belangrike stukkie detail, is sy totaal onbewus van die feit dat Pietie 'n Scream masker het. Sy het trouens seker nie eens geweet daar bestaan sulke maskers in die handel nie.
Nou sit ek en Man Nr 2 en TV kyk. Pietie is in sy kamer. Hy't sy eie TV daar gehad. So net voor middernag hoor ons die swanger dogter se kar onder in die garage. Ons hoor hoe sy hardloop oor die stoep, die voordeur ooppluk, toeslaan, en hoe sy opstorm teen die trap. Met asem wat jaag vertel sy ons dat sy nog NOOIT in haar lewe so bang was nie en dat sy amper gedink het sy gaan begin kraam van die vrees. Sy gaan aan en vertel verder van hoe histeries sy was tydens die Scream flieks en benadruk weer dat sy nog nooit in haar lewe so bang was nie. Soveel so dat die mense by wie sy fliek gekyk het, agter haar moes aanry tot by ons huis. Sy sê toe sy gaan net gou badkamer toe dan gaan sy dadelik slaap. Nou kan julle seker dink wat kom. Ek weet selfs nou nog steeds nie wanneer presies Pietie nou daai gesprek begin volg het nie. Maar hy moes dadelik sy move gemaak het toe die kind badkamer toe is. So sit ons nog steeds voor die TV. Die dogter kom toe uit die badkamer uit, sê vir ons goeie nag en gaan na haar kamer toe, vir die eerste keer sedert sy by die huis gekom het dié aand.
Nou kyk, as jy kinders of diere het dan leer jy mos later watter gil of watter blaf beteken wat. Blaf die hond vir 'n blaar wat waai in die wind, of vir die ver-af geblaf van ander honde, of bietjie meer dringend vir iemand wat in die straat afstap, of vir 'n nog meer dringende gevaar soos 'n slang of so iets? Dieselfde met kinders se geskree en gegil. Jy leer onderskei. My goue reël met my kinders was altyd: Roep my NET as jy bloed sien. So toe ek nou die volgende sekonde 'n gil hoor, was daar op daai oomblik absoluut niks in my brein of my geheue of my oer-genetiese programmering of in my TOTALE verwysingsraamwerk wat daai bloedstollende dood-in-die-gesig-starende gil enige plek kon plaas of laat inpas nie. Ek het in my totale lewe nog in geen werklike situasie of in die grootste rillerfliek ooit so iets gehoor nie. Ek het trouens tot op daardie oomblik nie besef so geluid kan deur 'n mens voortgebring word nie. Dit het herinner aan 'n sterwende, gefolterde siel wat afdaal in die diepste swawelput van die hel. Needless to say het ek en Man Nr 2 soos een mens na die kamer gestorm. Ek het geen idee gehad wat ons daar sou aantref nie. Toe ek, wat voor was, 'n skim oor die gang area sien hardloop met 'n wapperende masker en die glinster van die lem van my grootste kombuismes in die flou maanlig, het ek 'n idee begin kry.
Komende in die kamer tref ons toe 'n histeriese swanger vrou aan. Nog 'n stukkie detail......dis toe nou net so na middernag. Ons weet toe nou nie wat aangaan nie. Haar oë is wild in haar kop, sy is die heeltyd tussen bewus en bewusteloos, sy huil en skree en kerm tegelyk en sukkel om te praat. Haar pa is buite homself. Hy het nou nie die skim oor die gang gesien hardloop nie. Ek probeer toe nog damage control doen, wel wetende presies wat gebeur het, maar ek vra ook nou maar uit, ten einde bietjie te speel vir tyd terwyl ek nou dink wat my te doen staan. Die huisdokter word gebel. Hy gee raad oor hoe om haar kalm te hou en verduidelik wat sal die "early onset" simptome van kraam wees. Na sowat 'n uur is sy amper in 'n toestand om te kan praat. Sy sit toe nog soos 'n mal ding in die middel van die bed, bo-op haar pa se skoot, maar met rukke en stote kom die storie uit. Toe sy terugkom in haar kamer en die lig in die pikdonker aanskakel, staan die ou van Scream platgedruk teen haar kamermuur, reg by die ligskakelaar, met hierdie moerse mes reg voor sy gesig. Hy't nie gepraat nie, sy kon net sy mal oë agter die masker sien beweeg. Daarna weet sy niks. Haar kop het toe uitgehaak. Myne ook.
Toe ek in Pietie se kamer instap, maak hy natuurlik of hy slaap. Geen masker of mes van 'n dag oud enige plek te bespeur nie. Maar ek pluk daai kind daar op soos 'n lappop en begin op hom gil. Hy besef toe seker in sy tot nog toe onontwikkelde 17-jarige brein dat dit nie NOU die tyd is vir grappietjies maak met sy mal ma nie. So hardloop ek tot 10 oor 6 die volgende oggend soos 'n mak heks in daai huis rond. Van die dreigende kraamgeval af kombuis toe vir suikerwater, terug na die pa toe wat vir Pietie wil aanrand, terug kraamsaal toe, dan weer telefoon toe om met die dokter te praat, en so gaan dit regdeur die nag. Dit was nou nie soseer om die Pa te keer om hom aan te rand nie, maar om liewer eerste by hom uit te kom OM hom aan te rand. Hier net na 6 die volgende oggend is die kraam toe darem nou afgeweer, die pasiënt slaap toe vir die eerste keer maar snik nog in haar slaap en lê opgekrul in die fetusposisie. Die pa is gekalmeer. Toe gaan ek nou na Pietie se kamer toe en verduidelik vir hom hoe hierdie NOOIT een van sy stunts gaan wees waaroor ek gaan lag nie. Weereens is hy gehok en gestraf en elke keer vir die volgende 6 maande het ek na hom gemik as hy te na aan my verbyloop. Die baba is so rukkie daarna gebore. Ek het laas gehoor hy sukkel bietjie met storiesomme.....
Sent from my BlackBerry® wireless device



2014-10-10

Bang vir die donker.....

Van kleinsaf het Pietie 'n groot voorliefde vir TV kyk gehad. Veral bangmaakstories. Nou kyk, die TV het hom help grootmaak. Tussen die urelange borsvoedsessies deur moes ek by tye slaap ten einde nog melk te kon produseer. Dan het hy maar nou daar op sy eie voor die TV gesit met 'n droë boks Rice Crispies, en seker maar gesit en speel met die remote. Seker dan maar op die verskriklikste stories afgekom terwyl sy ma lê en slaap. Met die gevolg, toe hy nou so 5 jaar oud was het hy nou al AL wat 'n Nightmare on Elm Street is deurgewerk. Freddie Kruger met sy skêre vir vingers en sy verbrande gevriet was nou vir hom niks snaaks meer nie. Hy het toe nou nie meer 'n saak gehad met Liewe Heksie en haar kinderagtige trawante nie. Nee pappie. Hy kyk daai tyd Chucky en I know what you did last Summer en Poltergeist en The Postman always rings Twice en daai tipe goedjies. Toe hy so 8 jaar oud is toe het hy sommer nou homself ge-upgrade na flieks soos The Exorcist en Texas Chain Saw Massacre toe. Sommer self dvd winkel toe ook gery. Ek het sommer vir hom 'n kontrak uitgeneem, dat hy nou na hartelus kon fliek! Nou sou mens dink hy sou, so saam met die borsmelk, 'n sekere toleransie begin opbou teen hierdie tipe rillers. Maar toe nou eintlik gladnie. Inteendeel. Hoe meer rillers hy gekyk het, hoe banger het hy geword. Ek het hierdie potensiële swak plek in sy mondering natuurlik dadelik raakgesien en besluit om dit deeglik uit te buit.
So het ek myself vir baie jare lank vermaak deur slim planne te beraam om hom die skrik op die lyf te jaag. En hy het nooit teleurgestel nie. Dit het later half kompeterend geraak. So droom ek een nag, Pietie was seker daai tyd so in St. 9 (no surprises there), van die veld agter ons huis wat afbrand. Die huis was in 'n koppie geleë en het van agter gegrens aan 'n arboretum. (Dis blykbaar 'n boompark. Ek het dit ook nie geweet nie, maar daar was 'n bordjie). Nou droom ek hoe die brandweer die swembad se water kom uittap en hoe die vlamme nou al nader kruip aan die huis. Ek droom toe ek loop om die hoek van die huis om die tuinslang te gaan haal sodat ek die klein lapa langs die swembad kan natspuit. Nou toe ek nou so om daai draai kom in die halfdonker, in die gloed van die al naderende vlamme, toe sien ek daar staan iemand by die kraan. So half gebukkend. 'N man. Maar ook nie heeltemal nie. Nou weet ek die enigste manier hoe hierdie "persoon" daar kon kom, was via die arboretum. Want anders sou hy by die voordeur moes in en teen die trap op. Pietie sit daai tyd oudergewoonte en TV kyk terwyl die dorp afbrand, maar selfs HY sou agterkom as iemand voor die TV verbygeloop het.
Nou sê ek, in my droom nou: "Naand". Nou kyk die kreatuur om. Ek sien nou hy't so ou verslete bruin tweedbaadjie aan, broek geskeur en te kort, kaalvoet, paprandhoedjie laag oor die oë getrek, stowwerig, moeg. Hy mompel iets maar ek kan nie uitmaak wat hy sê nie. Maar in die droom is ek nie bang nie en ek kry ook nie die idee hy sal my seermaak nie. Nou staan ek nader. Toe ek nou so meter van hom wegstaan, besef ek dis nie heeltemal 'n mens nie. Ek sien trekke van iets wat lyk soos 'n bok. Ek merk toe ook op sy voete is eintlik bokpote. Hy staan met sy kniee so ongemaklik gebuig. Duidelik is hy nie gewoond aan klere dra nie. Toe begin hy, in my droom, met my praat. Hy vertel my van sy "mense". Gekruis tussen bok en mens. Hoe hulle jare lank al swerf deur die veld en berge en elke jaar sien hoe die huise en die geboue al nader kruip. Hoe hy weet eendag gaan hulle gevang word. Dan sal almal hulle uitmekaar trek en bestudeer en soos uitstallings in 'n freak show bejeën. En dit sal die einde wees van hom en sy soort. Dis toe nou die vuur wat hulle uitgedryf het uit hulle skuilplek uit, en dis toe nou hoe hy by ons huis uitkom. Die res van sy "mense" skuil iewers in 'n grot. Hy het kom water soek. Hy smeek my toe om hom nie te verraai nie. Ek belowe. Ek skrik toe wakker. Papnat gesweet. Ek onthou toe elke sekonde en fynste detail van die droom en dink toe dadelik aan die "persoon" wat ek in my droom ontmoet het, as Bokman. En daar word die legende van Bokman toe gebore!
Ek kon natuurlik nie vinnig genoeg vir Pietie en Nola vertel van my droom nie. Altwee het vasgenael gesit en aan my lippe gehang. Maar ek kon sien hierdie storie gaan vir Pietie diep beïnvloed. Hy was absoluut verstom en het "transfixed" na my gesit en luister. Ek het natuurlik die storie aangedik en aangepas soos wat hy my gelei het deur sy reaksie, en die omstandighede daarna gevra het. Toe ek nou klaar vertel was, het ek geweet Bokman sou vir die res van sy lewe by hom spook. Dis asof hy self die droom gedroom het, maar soos wat dit in sy kop afgespeel het was dit nie 'n droom nie, maar 'n nagmerrie. So twee aande later toe doen die geleentheid hom voor dat ek die impak van Bokman op hom kan toets. Ek weet nie of sy pa hom gevra het om die kar te gaan sluit of die kraan te gaan toedraai of wat nie. Ewe gehoorsaam, vir 'n verandering, staan hy toe op en mik in die rigting van die donker nag. Ek sê toe so onderlangs, in die verbygaan: Pasop vir Bokman. Maar dis asof 'n onsigbare sweep daai kind terugruk dat hy amper whip lash kry en 3 meter verder eers weer sy asem vind. Selfs EK was verbaas met die geweldige reaksie. Needless to say het hy bewend geweier om 'n verdere tree buite die huis te gee al was hy ook gedreig met verskriklike nagevolge. Daar het ek finaal tot die besef gekom watter magtige wapen ek geskep het. Ek was skoon trots op my rol as koesterende, beskermende moeder.
En in ons gesin sou die legende van Bokman, met sy amper magiese kwaliteite, voortleef tot hierdie dag toe. Ek dink nie Pietie, of Nola, sal dit ooit ontgroei nie. Hulle is al soveel keer met Bokman banggemaak, en steeds het dit dieselfde effek op hulle. In elke oorsese land waar hulle al was, het Bokman telkens sy verskyning gemaak. Toe Pietie daar in die snerpende Engelse winter op die platteland in 'n afgeleë en spokerige hotel gewerk het, en in die donker nagte alleen moes stap na sy kamer toe, het ek hom gemaan: Pasop maar vir Bokman, hy loop in daai geweste. Bokman het ook saam met hom Kaap toe getrek. En weer terug Thabazimbi toe. En Brits toe. En nou is hy in Pretoria. Amper soos Kersvader en die Tandemuis. Met tye is hy vir jare lank stil. So was, en is, dit steeds 'n integrale deel van hulle lewens. Hulle het dit later jare kamma afgelag en gesê hulle is nie meer bang vir Bokman nie. Dit was net 'n halfhartige poging van hulle om my sover te kry om op te hou. Ek kan natuurlik nie WAG om my kleinkinders ook eendag van Bokman te vertel nie!
Min sou ek weet Pietie sou my "voorliefde" om mense bang te maak, erf. Met amper tragiese gevolge.....
Sent from my BlackBerry® wireless device



2014-10-09

Pietie gaan van krag tot krag...

Later jare sou ek lees dat die tiener se brein eers hier op 23 jarige ouderdom ten volle ontwikkeld is. Ek dink hulle kan daai teorie wat betref die manlike brein met nog so 5 jaar opstoot. Pietie s'n in elk geval. Die artikel het ook spesifiek genoem hoe die tiener gladnie die gevolge van sy dade kan insien nie. Daarom doen hulle sulke uiters onverantwoordelike goed wat hulle gladnie deurdink nie.
Vroeg-vroeg het ek agtergekom Pietie is die waaghalsige, impulsiewe tipe. Toe hy 2 jaar oud was druk hy mos so klein klippie in sy neusgat op. Nou kom sê hy vir my daarvan. (Julle onthou mos nou dat hy op 6 maande al vlot kon praat). Anyway, nou dop ek die kind om en skud hom, maar die klippie sit. Later het ek 'n oorstokkie gaan haal. Met my regterknie stewig op sy bors pen ek hom toe nou vas teen die grond, terwyl ek behendig die klippie verder indruk tot net onder sy breinstam. Nadat sy oë omgedop het in hulle kaste en hy begin kwyl en roggel het, besef ek ek sal 'n ander tegniek moet inspan. Ek gaan haal toe 'n tweezer. Weer pen ek hom vas. Dié keer is hy nogal halstarrig en stoei verwoed terug, maar ek is darem nog sterker as hy op daai stadium. (Hier teen St 9 se kant sou ek my tegnieke aansienlik moes opskerp en aanpas). Nadat ek nou elke slymvlies en vel binne in daai kind se neus, neusholte en sinusse verwyder het met die tweezer, en geraak-raak het aan sy optiese senuwee, besef ek, uiters teleurgesteld, dat ek professionele hulp sal moet inroep. Ek vat hom toe maar teësinnig dokter toe. Nadat die dokter die ergste bloeding onder beheer gekry het en 'n kalmeerinspuiting toegedien het, toe het ek vir Pietie in die kar gaan haal. Met die regte toerusting kon hy toe binne sekondes die klippie verwyder. So vat ons die klippie, nou mooi glad, huistoe om vir sy pa te gaan wys. By die huis gekom maak ek vir my 'n koppie tee om te kalmeer, want die inspuiting begin toe al uitwerk. En nou gaan ek nie lieg nie: toe ek omdraai, toe het daai klein bliksempie daai klippie gevat en hom blitsvinnig in die ander neusgat opgedruk. Ek moes eenvoudig terugklim in my kar en weer dokter toe ry. Dieselfde prosedure. Nou vra ek julle met trane in my oë. .....
Nog 'n voorbeeld van sy ondeurdagte optrede maak my sommer op hierdie oomblik lus om hom te bel en te sê hy skuld my nog 'n paar rand vir skade! In Pietie en Nola se hoërskooljare het ons 'n woonstel in Margate gehad. Tydens Desembervakansies het hulle my AL my dae gegee met die foam parties en die gekuier in Bass Line, dink ek was die plek se naam. Nou is Pietie so in St. 9. (As ek nou terugdink het die meeste van die goed gebeur toe hy in St. 9 was). Dis seker die ouderdom waarop die manlike tienerbrein op sy laagste punt van ontwikkeling is. Nou het hy so afstandbeheer karretjie waarmee hy nou dag en nag speel. En moenie dink die ding se battery raak pap nie. Hy het 'n ekstra battery wat permanent op charge is, so hy ruil hulle gedurig om. So irriteer hy nou die rook uit almal uit met sy karretjie. Ry in die huis rond, ry teen my hakskene vas, ry agter my aan met die karretjie waar ek ook al loop, "ramp" oor die speed humps in die parkeerarea, bou vir homself hindernisbane. En elke keer as ek hom vra om iets te doen, dan het hy 'n verskoning oor hoekom hy dit later (gladnie) sal doen. Nou is dit die laaste dag van die vakansie. Almal moet nou help opruim en inpak en goed kar toe dra. Behalwe Pietie. Daai tyd moet hy mos nou altyd dringend toilet toe gaan. Of hy verdwyn eenvoudig. So is hy nou tussendeur die pakkery en skoonmakery met die karretjie besig. Ek maak vullis bymekaar en sit alles in swart sakke uit op die voorstoepie. Die woonstelkompleks het so area gehad waar die trollies geparkeer was waar jy die swart sakke moes gaan ingooi. In die sitkamer staan toe nou alles wat moet sleepwa toe gedra word. Onder andere seker 3 swart sakke volgestop met vuil klere en beddegoed. Nou kan julle natuurlik klaar raai wat kom. Ek vra hom om die goed in die sitkamer sleepwa toe te dra en die vullissakke in die trollie bins te gaan gooi. Raai wie kry dit omgeruil? Meer as 'n 1000 km later staan ek by die wasmasjien in Thabazimbi, reg om al die wasgoed te was, en maak sak op sak oop van vullis. Lekker warm gebak heel dag agter in die sleepwa. Dan sê mense nou jy moet kalm bly en jy moenie 'n kind in woede slaan nie en lyfstraf en geweld is nooit 'n oplossing nie. Nadat ek sommer myself 'n kalmeerinspuiting toegedien het, bel ek die enigste permanente inwoner van die kompleks, 'n horingou engelse tannie. Ek verduidelik toe wat gebeur het en sy het toe seker daar in die middernagtelike ure met haar gown aan en 'n flou flitsie in haar bewerige, arthritishande deur die trollie bins gaan grawe op soek na al ons klere en beddegoed. Needless to say kon sy dit nie kry nie, en ek glo die werkers in die kompleks kon seker nie hulle geluk glo nie!
En so het hy my nou maar op my kniee gehou. Ek sou soos 'n mak heks tekere gaan, dan is hy ook mak vir so paar weke. Dan gaan kuier ons vir my ma dan besluit hy om sy ouma 'n wedgie te gee. Soveel so dat sy daai step-in broek agterna moet weggooi. En hy gladnie kan verstaan hoekom ons dit nie heeltemal so snaaks soos hy vind nie. En natuurlik het al sy stories begin met: "Mamma jy sal nie GLO wat nou met my gebeur het nie!!! En hierdie keer was dit nou regtig nie my skuld nie!!"
Die enigste "goods" wat ek ooit op hom gehad het, was dat hy skytbang was (is) vir die donker. Ek vertel julle later.....
Sent from my BlackBerry® wireless device


2014-10-05

My tweede en laaste preek....

Noudat ek op 'n roll is, en aangesien Pietie en Nola al elke preek van my tot vervelens toe gehoor het, en in elk geval hulle gatte aan my afgevee het, praat ek nou maar met julle, my gesiglose gemeente van 3 lede. Julle sal agterkom my preke het nie 'n godsdienstige basis nie, dit is dus interkerklik, juis om al my pagan-, heiden- en ateïsvriende ook te akkommodeer. Shalom dus aan julle ook.
Ek wil nou iets roggel oor kinders. Nou nie daai twee gebroedsels van my nie, maar kinders in die algemeen. Seuns EN meisies. Maak nie saak wat hul ouderdomme is nie. Kyk, van kinders bederf kan jy MY nou niks vertel nie. As daai Thabazimbi so koud raak (20 grade) en Pietie is nog op skool, ons praat nou van matriek, dan bring ek mos nou vir hom daai tyd sy coco pops met warm melk kamer toe. Dan is hy nou klaar laat vir skool. Terwyl hy eet, sit ek nou daar by hom. En preek vir hom. Dan maak ek nou sy klere warm oor die olieverwarmer. En hy trek dit so onder die komberse aan. Ek maak tot die das warm. En knoop dit vir hom. En gee sy blink ge-polish-de skoentjies vir hom aan. Dan gaan start ek solank die kar en sit die heater op high terwyl hy sy tandjies borsel, en dan gaan laai ek hom amper binne in die klaskamer af. Smiddae wag ek hom in met 'n Peppermint Aero, 'n russian sausage roll van King Pie, en 'n Coke. Partykeer het hy in die oggende as ek hom aflaai gevra vir 'n Dry Lemon. His wish was my command. En ek het elke oomblik daarvan gelike, en ek sal dit weer doen. So dis nou gladnie waaroor ek wil praat nie. Nie een van ons wil hê ons kinders moet 3 uur in die oggend die koeie gaan melk en dan 6 km kaalvoet in die sneeu skooltoe stap met 'n stuk koue mieliepap vir lunch nie. Asseblief. Maar ek wil jou vra hoe jy jou kinders equip vir hul lewens as volwassenes. Om mans vir hulle vrouens te wees, vrouens vir hulle mans, ouers vir hulle kinders......
En dit gaan ook nie oor geld en of jy geld het of nie. Maar luister nou vandag vir Tannie Hester: as jou seuntjie ge-pamper word en jou dogtertjie word soos 'n Kardashian om gefaff, dan is hulle, en jy, in vir 'n moerse surprise as die realiteit van die lewe hulle die dag tref. So kyk maar vandag na jou seun of jou dogter. En wees eerlik met jouself. Kan jou kinders 'n huis skoonmaak? Of ken hulle net 'n bediende wat dit doen? Weet hulle van Mr Muscle en Handy Andy en hoe om lappies in Jik te lê en hoe om 'n vloer te mop en 'n bed op te maak? En hoe om die wasmasjien te operate? En die stofsuier? Kan hulle stryk? Kan jou kind 'n kar was en skoonmaak van scratch af? Het jy hom dit geleer? Van die emmer na die pyp na die afspoel en die chamois en die koerantpapier vir die ruite en die skuim op die tyres spuit en die cherry cockpit spray heel laaste? Of ken hy net 'n ma of pa wat 'n kar na 'n car wash toe vat? Jy moet hoop hy sal die res van sy lewe geld hê vir dit. Of op 'n plek bly waar daar sulke dienste is. So eintlik ontneem jy hom daai plesier en satisfaksie van self 'n kar te was en dan garage toe te ry en die bande laat pomp en self te voel hoeveel lekkerder ry 'n kar as hy skoon is. Leer hulle hoe om hul eie skoene te polish. Weet jou kinders hoe om die hond te bad? Of sal hulle die res van hulle lewens genoeg geld hê vir 'n hondesalon? En kan hulle kosmaak? Weet hulle mens kan self pizzas in die oond bak? Wag tot daar maatjies kom oorslaap (lees hier eers Nola se oorslaapstorie voordat julle nou sommer links en regs kinders begin oornooi), dan kry jy nou net 'n basiese pizzabasis deeg. Line 'n vlak oondpan met die deeg, (gebruik sommer klaargekoopde deeg man!), deel dit in kwarte. Laat elke kind sy eie kwart "bou". Sny en chop en kerf en rasper als op in bakkies en laat hulle mal gaan. Glo my, daai kinders wat sit en wag voor daai oond se deurtjie is baie meer werd as om eenvoudig 'n take-away te kry. Laat hulle saam met jou cup cakes maak. En hou op sê jy kan nie bak nie! Koop 'n kolwyntjiepan en ready mix cup cakes in 'n boks! Jy gooi net olie en melk en 'n eier by! Laat hulle dit versier. Hulle sal dit vir altyd onthou. Pietie was nie vir een dag van sy lewe in 'n Kleuterskool nie en hy het alles en nog meer geweet as die kinders wat 2 jaar lank daar was. (Obviously het die feit dat ek hom tot in St 9 geborsvoed het, dit prakties onmoontlik gemaak om hom kleuterskool toe te stuur). So ek het baie tyd gehad by die huis, tussen voedings, om hom te leer. Leer hulle hoe om 'n bottel wyn wat 'n kurkprop het, oop te maak. Dalk het een van jou kinders special skills in hierdie verband. So weet ek Pietie kan 'n bottel draught met enige iets oopmaak, hy gee hom net so ligte kappie teen die skerp kant van die bar counter, en siedaar. Nola vang hom sommer so met die binnekant van die voorarm, so dalk verbaas hulle jou nog met hul talente!
Ek het al in totale verstomming na mans gestaar wat by 'n garage uitklim, dan kom wys die petroljoggie vir hom waar sit die lever om die bonnet oop te maak, dan wys hy hom waar sit die dip stick en hoe maak jy die radiator cap oop, en waar moet jy kyk om te sien hoe styf jou bande moet wees. Nee goeie donner, daar's 'n lyn! Leer jou kinders in liefde en geduld hoe om 'n fiets se pap wiel reg te maak. Leer hom hoe om 'n kar se band om te ruil. Leer hulle hoe om gras te sny. Dit is een van die groot vreugdes van die lewe, om na 'n uur se sweet terug te sit en te kyk en te ruik en te luister na die geluid van die spreiers op 'n kortgesnyde grasperk. Leer hulle hoe om vleis te braai. In 'n weber, met hout, en met charcoal. Leer hulle dans. Two-step en wals en sokkie. Leer hulle kar ry. Leer hulle skottelgoed was. Vergeet vir 'n ruk van die tuindienste en die skottelgoedwasser en die car wash en die hondesalon en Debonair's pizza. Laat jou kinders toe om die lewe self te leef en te ervaar en te belewe. Wys hom hoe om 'n swembad te backwash, hoe om 'n muurprop oop te maak en te kyk of daar fout is. Jy ontneem hom van die volle spektrum van menswees as jy alles vir hom doen of dit, teen betaling, laat doen. Jy gaan mos nie sy Lego of sy puzzles vir hom bou nie, hoekom wil jy dan alles doen wat hy of sy as volwassene moet kan doen? As daar enige ervaring is wat hulle kan belewe wat jy hulle nie kan bied nie, laat hulle dit belewe! Span jou vriende en familie in in hierdie verband! Ek het nie vir Pietie geleer jag of bok afslag of voëls ring of foto's neem nie. Ek het ook nie vir Nola geleer wakeboard of hare sny of grimering doen nie. Ja, ons wil hulle teen als beskerm (in my geval wou ek eerder ander mense teen húlle beskerm, maar dis nou besides the point), maar jy doen jou kind nie 'n guns as jy als vir hom doen nie.
En moenie vir my sê jys te moeg of te besig of te arm of te ryk of te dom nie. Dan moes jy nie kinders gehad het nie! So lig jou gat en gaan leer jou kind iets. Onthou een ding: daar is vir jou kind niks lekkerder as om saam met sy ma of pa iets te doen nie, om te voel al die aandag is op hom nie, en om daarby ook nog te voel hy of sy is nou besig met "grootmensgoete" nie! En as jy 'n enkelouer is, of jy's in 'n same-sex verhouding of huwelik, of jou man is eenvoudig te useless of jou vrou te dik en lui, dan is dit ongelukkig nie 'n verskoning nie. Iewers in jou lewe is daar 'n vriend of vriendin, oupa of ouma, niggie of neef, broer of suster, buurman of kollega, wat jou kind IETS kan en wil leer wat jy self nie kan of wil nie. Moenie dat JY as ouer self die grootste struikelblok wees in jou kind se ontwikkeling nie.
Dit geld nie net praktiese goed nie, maar ook goed soos geldsake en ander soortgelyke goed wat hulle eendag moet kan doen. Vat hom saak poskantoor toe, al is dit nou HOE old school. Vertel hom van goed soos belasting en tjeks en tv- lisensies en al die goedjies wat hulle moet weet. My kinders het vroeg-vroeg elkeen hul eie lêer gehad. Later toe hulle uit die huis uit is, toe vat hulle dit saam. Later jare sou ek maar sien hulle liasseer al hulle pay slips en korrespondensie van die gym of die selfoon of die kar se lisensies of what ever hulle hul mee besig gehou het. Maar dis iets wat hulle geleer moes word. Ja ek weet almal doen electronic banking, maar vat jou kind bank toe en verduidelik vir hom van die depositostrokies en hoe jy geld in 'n rekening deponeer of onttrek en hoe jy jou bankkaart gebruik. Vat hulle saam as jy gaan kos koop. Verduidelik hoekom jy sekere goed koop en ander goed nie. Hoe gaan hulle ooit eendag kan beplan of kan begroot of aan die hoof van 'n huishouding staan? Moenie verwag die skool of die kerk moet hulle leer nie. Dis JOU kind. Leer JY hom. Rus hom toe vir die toekoms. Leer hom maniere. Wys dit vir hom. Jy sal met hom 'n band smee wat nooit verbreek kan word nie. Jy sal die sekere wete hê dat jou kind onder enige omstandighede sal kan cope, maak nie saak hoe moeilik nie.
Ek is "by a long shot" nie die perfekte ma nie. Nie eens amper nie. Maar ek kon vir Nola op 14 Italië toe stuur vir 5 jaar en sy't gecope en gefloreer. Of Italië al herstel het, dié weet ek nou nie. Pietie is direk na skool Londen toe vir 'n jaar, waar hy op sy eie gaan oorleef het. Of hy ooit weer toegelaat sal word op enige plek binne die Britse Koninkryk, dié kan ek nou nie met sekerheid sê nie. Maar dat hulle vandag alles vir hulself kan doen, en eintlik baie meer as ek kan doen, dit weet ek wel.
Amen. Kollekte by die deure gaan vandag aan die Abraham Kriel Kinderhuis op Nylstroom en ons sing Lied 325 uit die Liedboek, al 4 die verse.

Sent from my BlackBerry® wireless device






2014-10-03

My eerste preek....

Vandag voel ek my genope om bietjie dieper te raak. Elke mens wat hier lees, struggle met iets. Jou huwelik, geldsake, jou werk, kinders, jou gewig, studies, jou vel, of wat ook al. Daar is nie 'n mens op hierdie aardbol met 'n perfekte lewe nie. Trust me. Dit lyk dalk van buite af so, maar jy wil nie regtig plekke ruil met iemand anders nie. Elke mens het sy eie paadjie met sy eie battles en demons wat hy moet fight. Vat nou sommer randomly 'n ou soos Ernie Els. Ziljoener, vlieg van gholftoernooi na gholftoernooi in sy privaatstraler, sien die mooiste plekke op die aardbol en maak miljoene dollars uit sy hobby uit. Hy sit met 'n outistiese kind. As jy vandag nou vir hom kan sê: Gee my al jou geld en ek maak jou seun een honderd persent normaal, wat dink jy gaan hy sê? Arme Joost. Die wêreld aan sy voete gehad. Deur miljoene bewonder en aanbid. Daar sit hy in 'n rolstoel en wag op die einde. Ek dink elke dag aan sy woorde op Carte Blanche: Daar is net twee dinge op hierdie aarde wat geen geld ooit kan koop nie. Tyd. En Gesondheid. Neem 'n oomblik en dink daaroor. Dink aan Oscar en Reeva. Geleef op die kruin van die golf. Gewild, geliefd, skatryk. Hier sit ek op hierdie plek en verslind tydskrifte en nuusbrokkies oor mense se lewens wat almal meer glamorous as myne is. Okay, daai is nou nie 'n tall order om 'n meer glamorous lewe as ek te hê nie, maar nog steeds. Al die rooitapyt geleenthede, die karre, die klubs, die partytjies, die lywe.....alles dinge wat jy dalk begeer. Alles weggevat in een mal oomblik. Weereens, as jy vir Arnold Pistorius moet vra wat hy sal betaal dat 14 Februarie 2013 nooit moes gebeur nie? Ek is doodseker hy sal in 'n oogwink sy en sy hele familie se fortuin met 'n smile op sy gesig oorhandig. So kan ek aangaan.
Dalk is daar iets wat jy graag wil doen. Jy dink al jare lank daaraan. Dalk wil jy begin swot. Dalk 'n nuwe kuns aanleer, hoe vervelig of eenvoudig dit ook al mag lyk vir ander mense, dalk net sommer iets soos mosaiekwerk. Ja, dalk wil jy 'n spieëlteel plak op 'n stuk masonite en mosaiekteeltjies, gom, 'n tangetjie en grout gaan koop en iets mooi maak vir jou kamer waarna jy elke dag kan kyk en dink: EK het dit gemaak. Dalk wil jy begin oefen. Gewig verloor. Fiks word. Ophou rook. Ophou drink. Leer kook. Leer koek bak. Motorfiets leer ry. Oorsee gaan. 'N vreemde taal aanleer. Dalk wil jy die USN Challenge nog altyd gevolg het en net vir een maal in jou lewe 'n klipharde maag hê met 'n six pack. Dalk wil jy 'n hondjie hê. Of nog 'n kind. Maak nie saak wat is jou droom nie. Dis JOU droom. Maar daar is hindernisse in jou pad. Tyd. Geld. Jou ouderdom. Dan wil ek nou vandag vir jou sê: Dink aan 'n tyd die toekoms in, 10 jaar van nou af. Dink net hoe jy DAN gaan voel. Onthou een ding: Jy gaan nooit weer so jonk wees soos wat jy vandag is nie. Dink jy nie jy gaan oor 10 jaar dink, shit ek moes dit daai tyd gedoen het nie?! As ek begin swot het was ek nou lankal klaar! As ek daai tyd net 5kg 'n jaar afgeskud het, was ek nou 50kg ligter! As ek net van daai dag af R300 'n maand gespaar het, kon ek nou oorsee gegaan het! As ek net daai tyd opgehou rook het en begin oefen het! Al het ek net begin stap!! Hou op verskonings maak maatjies! Daar gaan nooit 'n "regte tyd" wees om iets te doen nie. Die regte tyd is NOU. Vergeet van die weer wat nie lekker is of jy wat nie die regte klere het of jy wat te oud is en dit te laat is vir sulke goed, vergeet van dit! Moenie alles uitstel en hindernisse in jou eie pad plaas nie. Goed soos: eendag as die kinders klaar is met skool, of, eendag as ek op die platteland bly, of by die see afgetree het. Daai "eendag" kom dalk nooit. En nee, jys reg, ek weet nie wat in jou lewe aangaan nie. Ek bewonder maar ook mense wat die guts het om als te verkoop en 'n seiljag te koop en om die aarde te vaar. Ek praat nie van iets so radikaal soos dit nie. Daai mense het maar almal iewers geld, trust me. Ek wil ook graag alles verkoop en met 'n RV vir 'n jaar lank deur Amerika gaan toer. En eet by al daai plekke wat feature op Diners, Drive-ins and Dives. Maar let's face it, ek dink nie dit is realisties nie. Ons normale mense moet ongelukkig elke maand die debietorders uitkraam vir medies, polisse, versekering, huishuur, kos, klere. So ek kry dit. Maar iewers, êrens, moet daar iets wees binne jou vermoë wat jou lewe NOU kan verander. As jy in 'n ongelukkige huwelik of verhouding vasgevang is, net jy kan dit verander. Oor 10 jaar van nou af dink jy: As ek daai tyd my goed gevat en geloop het........En ja, ek weet hoe voel dit om te dink: maar waarheen sal ek gaan? Wat sal ek doen? Wat van my kinders? Wat van die mense? Vra hulp maatjies! Iewers is daar familie en vriende wat jou sal help! Hulle is dalk net nie eens bewus daarvan dat jy hulp nodig het nie! Net jy kan loskom uit die spiraal waarin jy vasgevang is. Elke mens wat vandag suksesvol is, het onder begin. Met groot moeite en baie hindernisse in die pad. Jy hoef nie iets groots aan te pak soos 'n eie besigheid of om te trek Australië toe nie. Gladnie. Skep vir jouself 'n realistiese doelwit. Iets bereikbaar. En go for it. Vandag nog.
Wie weet, dalk het jy aan die einde van jou pad gekom. Dalk het jy gebid vir 'n sign. Dalk is hierdie die sign.
Sent from my BlackBerry® wireless device

2014-10-01

Kompetisies

Kom ek vertel julle hoeveel stuff het ek al in kompetisies gewen. Ek skryf in of sms mos vir al wat 'n kompetisie is. Gewoonlik wag ek met die sms'e tot Maggie by die huis is dan misbruik ek haar werkfoon. Kompetisies oor die TV, in tydskrifte, in koerante, op advertensieborde langs die pad, orals. Nes 'n bobbejaan.
Jare gelede het ek in die Sarie 'n jaar se voorraad van herwinbare babadoeke gewen, van geboorte tot 12 maande oud. Ek het dit vir 'n swanger vriendin gegee. Met 'n sms na Kyknet het ek so paar jaar gelede 'n Michèl Herbelin horlosie gewen. Ek het al kontant in al die koerante se Blokraaie gewen. Sondag, Rapport Tydskrif, Beeld en Die Burger. Die blokraaie op 'n saterdag in Beeld en Die Burger kan jy mos instuur vir prysgeld. Ek het die ander dag 'n Woordeboek gewen in Huisgenoot se Foto Blokraai. Ek het hom vir een van my maatjies gegee wat nie kan spel nie. Sy spel darem nou al "vanaand" en nie meer "vannaand" nie. Ek's so bly. Ek het die ander dag met 'n Rooi Rose sms kompetisie 'n R1000 se Pharmachoice produkte gewen. Omtrent 10 bottels van daai Arthrochoice. So ten minste weet ek ek is gedek wat artritis aanbetref. Ook deur Rooi Rose het ek 'n Bosch tuimeldroër en Bosch wasmasjien gewen, plus 'n jaar se skoonmaakprodukte. Ek het dit by Nola en Christiaan laat aflewer vir 'n trougeskenk.
Die ander dag toe hardloop ek 'n fun run hier op Swartklip. Net 3km. Gladnie my afstand nie. Vir my is 3km amper soos 'n sprint. Maar wonder bo wonder hardloop ek omtrent 300 skoolkinders weg en wen 'n R1000 koopbewys van Swartklip Spar. Desembermaand by die see toe is daar 'n 10km strandwedloop van Mosselbaai na Hartenbos, sandlangs. Nou moet jy raai wat jou tyd gaan wees. Maar jy moet dit voor die tyd by jou inskrywing sit, en dan mag jy nou nie 'n selfoon of horlosie saamvat nie. So raai ek maar 60 minute. Ek sleep daar in in 59 minute en 36 sekondes. Toe wen ek 'n R1000 koopbewys van Tekkie Town in George. Lekker tekkies en sokkies gaan koop ekke.
By so buitelug praatjie oor tuinbou het ek 'n massiewe sak vol blommesaad gewen deur net 'n vraag te antwoord. By Ushaka Marine World het ek die kans gewen om te help in die hoofvertoning waar ek met die dolfyne gewerk het! Ek het ook 'n aanlyn opname voltooi vir Discovery Health toe wen ek 'n Levy sonbril van R2000. Dié het ook sy pad gevind na Nola. Ek het natuurlik al baie gelukstrekkings of "lucky draws" gewen by al wat 'n basaar of kermis of damesoggend of padwedloop is. Ek het ook in hierdie jaar met 'n sms kompetisie 4 kaartjies na Madame Zingara se Theatre of Dreams gewen by Monte Casino, ete ingesluit, elke ding! Ek en Maggie en my skoonma en haar vriendin het gegaan. Die ander dag toe eet ons in die Spur in Thabazimbi op Valentine's dag, toe wen ek 'n bottel wyn en 'n sak vol sjokolade.
So paar jaar terug toe ek in die Kaap gebly het, gaan hou ons piekniek op Paarlberg en kyk na die sonsondergang. Vooraf is mense aangesé om in Kersgewaad aan te trek. Toe trek ek 'n groen t-hemp aan met daai rooi kersvader langpunthoede. Toe wen ek 'n bottel wyn en 'n kaas-en-beskuitjie hamper. By verlede jaar se Good Food and Wine Show by die Dome in Johannesburg, toe is daar 'n demonstrasie deur die Kokkedoor deelnemers. Toe vra hulle ook 'n vragie. Toe wen ek 'n hamper van al Spekko rys se verskillende produkte, in so koelsak met Spekko afdroogdoeke ook. Verlede jaar by Skouspel toe wen ek 2 pragtige blikbekers by Virseker. Ook net 'n vraag beantwoord. Ons drink steeds elke liewe oggend koffie uit dit! Toe die volvo laas gediens is, mail die garage 'n aanlyn opname wat jy moet voltooi oor die diens. Net 5 minute gevat, toe wen ons 'n R500 petrolbewys.
Pietie is net so gelukkig. Hy het ingebel na 'n radiostasie in die Kaap toe wen hy kaartjies na Robbie Williams se konsert toe. Hy het ook 'n YDE koopbewys gewen. Op 'n keer het hy deelgeneem aan 'n kompetisie waar jy 'n nuwe naam moes uitdink vir Big Korn Bites se nuwe geur. Toe kom hy op met "shipwrecked coconut", toe wen hy 'n i-pod en 'n boks vol Big Korn Bites. Hy het ook die ander dag hier in Thabazimbi by 'n wynproe geleentheid 'n bottel wyn en sak biltong gewen. Maar hy het die koek gevat met 'n prys van Miller's draught. Jy moes die kode binne in die doppie na 'n nommer toe sms. Toe is hy een van die finaliste. Toe word hy in Seepunt met 'n limo gehaal en hy is na 'n mansion toe daar in Kampsbaai gevat waar al die finaliste ge-wine en ge-dine is. Toe is hy Waterfront toe vir die finale deel van die kompetisie. Daar moes die gehoor stem wie die uiteindelike wenner is. Daar wen hy toe 'n 3-weke "all expenses paid trip" na die VSA via Londen!! Hy is New York toe, Las Vegas, Los Angeles, San Francisco!! In private stralers en hummer limo's! In hotelle gebly, na clubs en casino's toe gegaan, tot elke dag 'n foonkaart gekry om te bel! So ek dink daai enetjie vat die koek!
So wonder julle seker maar hoe is dit moontlik??!! Wat is my geheim?? Daar is nie 'n geheim nie. Ek stel myself bloot oop daarvoor. Ek is die tipe mens wat genot vind in die klein dingetjies in die lewe. As jy gereeld 'n Kauai smoothie drink, vra vir 'n lojaliteitskaartjie. As jy 10 plakkers op het, kry jy 'n gratis medium smoothie van jou keuse! Op maandae kry jy 2 plakkers! Weet julle hoe lekker is dit om daar in te stap en jou vol kaartjie in te gee en uit te stap met 'n yskoue mango bang!?? Dit voel of jy die lotto gewen het man! Ek het nou so kaartjie van Boost, en elke keer as ons Centurion Mall toe gaan, dan drink ek 'n smoothie. Registreer ook vir al wat 'n lojaliteitsprogram is!! Ons het verlede jaar vir Maggie se ma 'n vliegtuigkaartjie gekoop van George af na Jhb met Maggie se e-bucks, net omdat ons altyd by Engen petrol ingooi met haar debietkaart. Ek het ook 'n Pick 'n Pay Smart Shopper kaart. Ek sal heel gereeld die punte laat omsit in kontant by daai atm masjien daar voor in die winkel. So een maal in 3 maande stap ek daar in en koop vir my 'n Lindt dark chilli chocolate met my gratis punte. Dit voel soos jou verjaarsdag! As ek so ronddwaal by enige fees of skou of expo dan hou ek my ogies oop vir enige kompetisie. Ek maak al daai brosjures bymekaar en vul dit in. As iemand my byloop om 'n opname in te vul, en ek het die tyd, doen ek dit met graagte. Ek het 'n boksie in die kombuis vir my koeverte en skêr en posseëls, so ek knip als uit die koerante en tydskrifte uit en stuur dit weg. As ek 'n tydskrif klaar gelees het, blaai ek na die inhoudsopgawe en kyk na "Kompetisies" of "Wen" en sms na alles toe! So dis seker maar 'n ingesteldheid. Ek verkies om in groot afwagting en geloof in die goeie my lewe te leef, altyd reg vir 'n verrassing of 'n prys of 'n freebie!

Nola het ook al baie goed gewen. Toe ek haar nou bel en vra in watter kompetisies het sy nou al die goed gewen soos koopbewyse en gratis etes en gimsessies en fliekkaartjies en front row seats en backstage passes en naweke en hotelverblyf en spa behandelings, toe sê sy sy't in haar lewe nog nooit 'n kompetisie gewen nie. Ek is toe nou heel verward. Daai was alles met charm en met mense se koppe smokkel, sê sy toe. Goed dan. Dis seker ook 'n manier.
Sent from my BlackBerry® wireless device